Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Tlaleng Mofokeng lewer 17de jaarlikse Menseregtelesing
Outeur: Christiaan van Schalkwyk, Gideon Basson and Prof Sandra Liebenberg
Gepubliseer: 29/03/2023

Die 17de Jaarlikse Menseregtelesing, aangebied deur die HF Oppenheimer Leerstoel in Menseregte, prof Sandra Liebenberg en die waarnemende dekaan van die Regsfakulteit, prof Juanita Pienaar, het op Woensdag, die 22ste Maart, by die Fakulteit Regsgeleerdheid, plaasgevind. Hierdie lesing, geborg deur die regsfirma, Webber Wentzel, vier Menseregtedag, wat op 21 Maart herdenk is. Die lesing is in hibriede formaat aangebied en is in-persoon sowel as aanlyn deur verskeie verteenwoordigers van staatsinstellings, burgerlike organisasies, akademici, studente en die media goed bygewoon. 

Vanjaar se lesing is deur dr Tlaleng Mofokeng, die Verenigde Nasies se Spesiale Rapporteur oor die Reg op die Hoogste Bereikbare Standaard van Fisieke en Geestesgesondheid, oor die onderwerp Wie Glo Swart Vroue? Die Toepassing van die Reg op Gesondheidsraamwerk om Epistemiese Ongeregtigheid Ongedaan te Maak, gelewer.

Dr Mofokeng is ‘n mediese dokter, menseregte-verdediger en aktivis. Sy het kundigheid in die aanspraakmaking vir universele toegang tot gesondheidsorg, MIV/VIGS-responsiewe sorg, jeugvriendelike dienste en gesinsbeplanning. Sy het ook aan kwessies rakende gendergebaseerde geweld gewerk en die regte van slagoffers verdedig met inbegrip om toegang tot na-geweldsorg te verseker. Sy is ‘n mediese direkteur van die DISA-kliniek in Johannesburg, en ‘n uitgelese dosent by die O'Neil Institute for National and Global Health Law in Georgetown. Sy is ook die mede-voorsitter van die O'Neil-Lancet-kommissie oor rassisme, strukturele diskriminasie en globale gesondheid. Sy het as ‘n Kommissaris op die Kommissie vir Geslagsgelykheid, en op die direksies van verskeie nasionale en internasionale NRO’s en navorsingsinstitute, gedien. Dr Mofokeng is ‘n omroeper en voorstander van gesondheidsregte met ‘n noemenswaardige voetspoor op nasionale en internasionale mediakanale. In 2021 is sy as onder die BBC se Top 100 Vroue aangewys. Sy is die skrywer van die topverkoperboek, Dr T: A Guide to Sexual Health and Pleasure, wat deur PanMacmillan uitgegee is.

In haar toespraak het dr Mofokeng op epistemiese ongeregtigheid teen swart vroue gefokus, wat sy gedefinieer het as "wanneer iemand se kennis of ervaring nie ernstig opgeneem of as geloofwaardig beskou word op grond van ‘n analise van mag en gepaardgaande stereotipes nie". Sy het verskeie gevalle van dergelike ongeregtighede uitgelig wat uit haar ervaring as ‘n voormalige kommissaris by die Kommissie vir Geslagsgelykheid en as Spesiale Rapporteur van die VN oor die Reg op Gesondheid aan lig gekom het. Dit sluit in hoe sportbeheerliggame probeer om vroue se deelname aan sport te beheer en reguleer deur middel van “sex-testing” soos wat deur die geval van Caster Semenya geïllustreer is. Sy het die afbrekende en vernederende behandeling wat sulke atlete in die gesig staar uitgelig, en ook hoe sulke behandeling hul menswaardigheid, gelykheid, privaatheid, outonomie en fisiese en sielkundige integriteit skend.

Die tweede voorbeeld van epistemiese ongeregtigheid wat sy uitgelig het, handel oor die gedwonge sterilisasie van swart vroue sonder hul ingeligte toestemming. Derdens het sy uitgewys hoe die kriminalisering en wydverspreide stereotipes teen sekswerkers hulle aan veelvuldige menseregteskendings blootstel. Sy het egter opgemerk dat “nie alles verlore is nie” deurdat die Kabinet op 30 November 2022 ‘n Wysigingswetsontwerp op die Wet op Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede, wat gemik is op die effektiewe dekriminalisering van die lewering en gebruik van seksuele dienste vir volwassenes, goedgekeur het. Haar lesing was ‘n demonstrasie van hoe strukturele ongelykhede diep patrone van kwesbaarheid en benadeling skep. Dr Mofokeng het in haar lesing daarop gewys: “... mense is nie inherent kwesbaar nie, maar dat hierdie kwesbaarhede eerder geskep word deur die struikelblokke wat hulle in die sosiale, ekonomiese en politieke kontekste waarin hulle leef in die gesig staar.”

Dr Mofokeng het tydens ‘n beleefde vraag-en-antwoordsessie beklemtoon dat die erkenning van die menseregte van LGBTQIA+ persone nie afbreuk doen aan enigiemand se menseregte nie. In plaas daarvan, verseker dit dat die regte van almal, in hul volle diversiteit, erken en bevestig word. In haar bedanking teenoor dr Mofokeng, het prof Liebenberg gesê dat dr Mofokeng se lesing ‘n kragtige illustrasie is van die strukturele hindernisse wat swart vroue in die gesig staar om die volle en effektiewe gelykheid wat deur die Grondwet belowe word te bereik.

Sien ook: Tamsin Metelerkamp, “Black women continue to battle epistemic injustice, but it can change: UN special rapporteur” Daily Maverick, 23 Maart 2023: https://www.dailymaverick.co.za/article/2023-03-23-black-women-continue-to-battle-epistemic-injustice/ 
Foto 1: Van links: Waarnemende Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, Professor Juanita Pienaar; Adjunk-Visekanselier Leer en Onderrig, professor Deresh Ramjugernath; 17de Jaarlikse Menseregtelesing spreker, Dr Tlaleng Mofokeng en HF Oppenheimer Leerstoel in Menseregte bekleër, Professor Sandra Liebenberg.
Fotograaf: Ignus Dreyer, Stellenbosch Sentrum vir Fotografiese Dienste.