Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA-jazzmeester kan nou PhD by sy akkolades voeg
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 28/03/2023


Een van Suid-Afrika se voorste musikante het vandeesweek sy doktorsgraad by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeweek ontvang. Die pianis, komponis, musiekregisseur, opvoeder en navorser, Nduduzo Makhathini, is 'n toonaangewende kunstenaar op die Suid-Afrikaanse jazz-front wat reeds met baie toekennings spog. En nou kan hy nog 'n titel byvoeg – dr Makhathini.

Die bekroonde musikant reis gereeld oorsee en is een van die eerste Suid-Afrikaanse jazz-musikante wat deur 'n kontrak met die toonaangewende Blue Note-jazzmusiekplatemaatskappy gesluit het. Makhathini het ook al met verskeie bekende kunstenaars soos Wynston Marsalis, Shabak Hutchings, Nasheet Waits, Somi en Black Coffee meegewerk. 

Afgesien van sy baie optredes, is hy ook hoof van die Universiteit van Fort Hare se Musiekdepartement. Makhathini het by die US 'n geïntegreerde PhD gevolg wat na grade verwys waar artistieke praktyk en skryfwerk as twee modaliteite gebruik word om 'n enkele navorsingsprojek onderling te rig en te artikuleer. 

Makhathini, wat van uMgungundlovu in KwaZula-Natal afkomstig is, beskryf homself 'n geneser, improviseerder en 'n vakkundige. “Ek stel in improvisasies in Suid-Afrikaanse jazz belang en gaan met spiritualiteit om. Dit spruit voort uit my grootwordjare in 'n musikale gesin en gemeenskap en die seëning om in 'n rituele konteks meer van klank te kon leer. Hierdie belangstellings het tot 'n lang soeke wêreldwyd gelei," verduidelik hy. 

Makhathini sê hy sou nie sy navorsing sonder die ondersteuning van sy gesin, sy kollegas by Fort Hare en sy vriende kon voltooi nie. “Ek het hierdie PhD geskryf terwyl ek getoer het, so tussendeur klanktoetse en gesprekke met ongelooflike denkers en kunstenaars van regoor die wêreld." Hy is ook dankbaar vir geestelike inspirasie. “Ek bied in my navorsing die idee van skryf as 'n ritueel aan. In hierdie konteks beskou ek skryf se geestelike paradigma as 'n aktiewe plek vir openbaringe en profesieë, so ek wil ook die dimensie bedank wat ek in my werk as 'elders' beskou."

Makhathini is vol lof vir sy studieleiers by die US, prof Stephanus Muller, dr Stephanie Vos en dr Uhuru Phalafala. “Hulle het 'n reuserol gespeel om my te help om my idees te laat vorm aanneem en te kristaliseer," sê hy. 

Sy vrou, Omagugu Makhathini, en sy ma, Nomajerusalema Makhathini, het hom na sy doktorale gradeplegtigheid by die Coetzenburg-stadion vergesel. “Hierdie gradeplegtigheid beteken so baie vir ons as gesin en ons is baie opgewonde," sê hy. “Ons glo in die gemeenskaplike en vir ons is dit 'n produk wat my herkoms verteenwoordig en erkenning gee aan ons stamboom."

Die Makhathinis beplan om na afloop van die gradeplegtigheid by 'n spesiale aandete op Stellenbosch fees te vier, gevolg deur 'n ontbyt saam met sy studieleiers die volgende dag. “En wanneer ek weer tuis is, sal ek dit saam met my kinders vier. Maar die beste manier om dit te vier, is om meer te skryf en meer navorsing te doen. Ek is geïnspireerd om vooruit te beweeg met die navorsing en om die vrae te ondersoek wat verder strek as die omvang van 'n PhD-dissertasie," sê hy.

Makhathini was 'n student by die Africa Open Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die US. Sy doktorale projek, getiteld “Breaking into Sound: Dis/Locating Ntu Cosmology and Improvision in South African Jazz", is diep gewortel in Zoeloe-kosmologie. Hierdie wêreldsiening is grootliks afwesig in die literatuur oor Suid-Afrikaanse jazz, 'n leemte wat Makhathini se PhD aanspreek deur ten gunste van die belangrikheid van Afrika-kosmologie en -epistemologie te redeneer as 'n lens om Suid-Afrikaanse jazz te verstaan. 

Makhathini het 'n spesifiek Afrika-gesentreerde benadering gevolg om deur sy navorsing 'n raamwerk te ontwikkel deur te put uit die literatuur oor Afrika-kosmologieë en rituele, met die werk van Philip Tabane, Busi Mhlongo, Bheki Mseleku en Zim Ngqawana as gevallestudies van musikante waarin spiritualiteit sentraal staan, asook sy eie artistieke praktyke as improviseerder en geneser. 

“Ek is uiters geïnspireer deur die genesende en motiverende eienskappe van die Zoeloe- of Afrika-kryger se kode. My musiekstyl kan as 'n fusion van spirituele jazz en moderne vormgewing met my Zoeloe-erfenis beskryf word. 

Makhathini het sedert 2014 – toe hy Gundu Entertainment saam met sy vrou op die been gebring het – agt albums vrygestel. Danksy die sukses van sy albums is hy in 2018 deur Universal Musiek Suid-Afrika opgeraap. Kort daarna het hy die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar geword om 'n kontrak met die ikoniese jazz-platemaatskappy, Blue Note Records, te sluit vir sy albums Letters from the Underworlds (2020) en The Spirit of Ntu (2022).

Hy gee alle eer aan sy vrou wat hom in staat stel om gelykertyd optredes, die skryf van musiek, onderrig en leer te kan behartig. “Ek is geseënd om so 'n ondersteunende lewensmaat te hê. Sy is self 'n ongelooflik kunstenaar, maar steun reeds jare lank selfopofferend my loopbaan. Sy maak alles moontlik en ek het haar innig lief."

Makhathini sal graag in die toekoms die geleentheid wil hê om Wes-Afrika te besoek om meer oor die praktyke van dié streek se griots – wat as storievertellers, sangers, musikante en verbale historici funksioneer – te wete te kom. “Ek voel baie aspekte van die griots se gebruike weerspieël dié van my eie. So, ek is opgewonde oor die geleentheid om meer te leer."