Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Doktorsgraad ondersoek voordele van gebruik van gewone taal
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 29/03/2023

Wanneer jy gekonfronteer word met finansiële, mediese, regs- en openbare dokumente wat jou lewe raak, wil jy graag hê dit moet verstaanbaar en duidelik wees. Indien sulke dokumente in gewone taal geskryf word, sal dit soveel makliker wees om dit te lees en te verstaan en dan ingeligte besluite te neem.

Só meen dr Annie Burger, wat haar doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands op Maandag 27 Maart 2023 by een van die Universiteit Stellenbosch se Maart-gradeplegtigheidseremoniese ontvang het. Die titel van haar tesis was “Die verband tussen kontekstuele en buitetekstuele faktore en die doeltreffende aanwending van gewone taal".

Burger, 'n​ nadoktorale navorsingsgenoot in die US se Departement Afrikaans en Nederlands, het vir haar PhD die eienskappe van lesers (byvoorbeeld inkomste, kwalifikasievlak, huistaal en die mate waarin hulle gevoel het die dokumente verskaf bruikbare inligting) ondersoek, asook die konteks (finansiële, mediese en regskontekste) waarin gewonetaaldokumente voorkom.

Sy het bestaande gewonetaaldokumente soos brosjures oor die Verbruikersbeskermingswet, 'n inligtingstuk oor hoe om ʼn baba te versorg, asook ʼn finansiële vorm ontleed. Voorts het sy aanlynvraelyste wat respondente voltooi het, gebruik om data in te samel.

Burger wys daarop dat gewone taal in ons wetgewing (byvoorbeeld die Verbruikersbeskermingswet) vir openbare dokumente voorgeskryf word ten einde seker te maak dat die bedoelde of teikenlesersgroep in ag geneem word.

“Dit word ook algemeen in finansiële, regs- en mediese kontekste gebruik, soos in vorms wat deur kliënte ingevul moet word, inligtingstukke oor lesers se regte, asook in dokumente wat mediese prosedures aan pasiënte verduidelik.

“Ongelukkig bring die woordeskat en styl van komplekse dokumente mee dat dit dikwels ontoeganklik vir teikenlesersgroepe is. Gewone taal kan hulle help om hierdie dokumente te lees en te verstaan en só toegang tot belangrike inligting te verkry. Die fokus moet dus op die teikenlesersgroep wees en op die inligting wat hulle uit die dokument moet kry."

Burger sê die resultate van haar studie toon daar is ʼn verband tussen die konteks waarbinne ʼn gewonetaaldokument gesitueer is, die bruikbaarheid en verstaanbaarheid daarvan en hoe lesers dit ervaar.  

“Weens die komplekse aard van finansiële en regskontekste was dit moeilik vir respondente om die gewonetaaldokumente te verstaan en dit positief te ervaar. Daarenteen het hulle gewonetaaldokumente in die mediese konteks makliker verstaan en was hulle ook meer positief daaroor."

Daar is ook ʼn verband tussen die lesers se kwalifikasievlak, die huistaal wat hulle praat, hoe betrokke hulle voel teenoor die dokument en hulle ervaring van die dokumente," sê sy.

“Hoe hoër respondente se kwalifikasievlak, hoe slegter was hulle ervaring van die gewonetaaldokumente. Respondente met Afrikaans as huistaal het 'n beter ervaring van die dokumente gehad as diegene met ander huistale. Hoe meer respondente gevoel het die dokument verskaf inligting wat hulle kan gebruik, hoe beter was hulle ervaring van die dokument."

Volgens Burger is ʼn goeie gewonetaaldokument dus ʼn dokument wat die teikengehoor kan gebruik en waaruit hulle die inligting kan kry wat hulle nodig het.

Sy sê haar navorsing kan dokumentontwerpers help om die aard van gewone taal beter te verstaan en om te kyk na die eienskappe van die konteks waarin gewonetaaldokumente voorkom, asook na die eienskappe van die leser van gewone taal wanneer gewonetaaldokumente geskep word.

“Dit sal hulle ook help om gewonetaaldokumente verstaanbaar en bruikbaar te maak en die leser se ervaring daarvan te verbeter."

Burger beklemtoon dat dokumentontwerpers ook hulle eie dokumente met die teikenlesers moet toets.

“Toetsing is baie belangrik wanneer ʼn dokument geskep word. Elke lesersgroep is anders en daar kan slegs met toetsing bepaal word watter aspekte van ʼn dokument werk en watter nie."

Foto: Dr Annie Burger by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els