Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verpleegkunde brei nagraadse program aanbieding uit
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar Brink
Gepubliseer: 29/11/2022

Vyf nuut ontwikkelde nagraadse programme vir spesialisopleiding in verpleegkunde is vanjaar vir die eerste keer aan die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied. 'n Bykomende drie nagraadse programme sal in 2023 aangebied word.

In totaal het 97 studente ingeskryf vir die 2022-programme. Die verwagting is dat hierdie groep in Desember hul diplomas sal ontvang.

Santel de Lange, dosent in die Departement Verpleeg- en Verloskunde aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, verduidelik dat die ou nagraadse programme in 2019 uitgefaseer is en dat nuwe kurrikulums vir al die nagraadse diplomas in die land ontwikkel moes word.

“Die Departement Verpleeg- en Verloskunde het toe begin met die proses om makro- en mikro-kurrikulums vir elk van die programme te ontwikkel om aan die uitkomste en bevoegdhede te voldoen wat deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) vereis word," sê De Lange.

Die nuwe programme is by die SARV en die Raad op Hoër Onderwys en Opleiding geakkrediteer, waarna dit deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid geregistreer is.

Die betrokke programme het in Maart vanjaar 'n aanvang geneem en het met behulp van diverse onderrig- en leermetodologieë die voorskrifte gevolg van teorie, kliniesepraktyk-leer, simulasie en rolneming.

Volgens De Lange sal dit die deelnemers in staat stel om besluite onder komplekse omstandighede te neem en 'n uitgebreide reeks dienste te verskaf. Dit rus die gegradueerdes toe om leiers op hul onderskeie spesialisgebiede te wees en verpleeg- en verloskundesorg te verskaf wat mensgesentreerd, outonoom, innoverend, omvattend, eties en bewysgebaseerd is, en ook aan al die toepaslike wetgewing voldoen.

“Deur die studente sowel teoretiese as toegepaste vaardighede te leer, bevorder die onderskeie nagraadse diplomas kritiese denke, bewysgebaseerde praktyk en navorsing wat op maatskaplike gebied relevant is."

Die volgende nagraadse diplomas sal in 2023 aangebied word:

  • Noodverpleegkunde
  • Kritiekesorg-verpleging (volwassenes)
  • Perioperatiewe sorg
  • Geestesgesondheid-verpleging
  • Primêresorg-verpleging
  • Verloskunde
  • Gesondheidsdiensbestuur
  • Verpleegkunde-onderrig

Hierdie programme het ten doel die ontwikkeling van spesialiste met 'n hoë vlak van teoretiese betrokkenheid, gesonde kliniese oordeel, intellektuele onafhanklikheid asook die vermoë om kennis op 'n reeks kontekste toe te pas ten einde professionele en bekwame sorg te bied. Dit is ontwerp om aan die student uiteenlopende blootstelling te bied asook geleenthede om deel te neem aan sorg vir diverse samelewings, gemeenskappe en individue.

“Met net enkele verpleegkunde-onderriginstellings in die land wat geakkrediteer is om nagraadse diplomas aan te bied, het die US bygedra tot spesialisopleiding in verpleegkunde, wat 'n dringende en nasionale prioriteit in Suid-Afrika is," sê prof Portia Jordan, uitvoerende hoof van die betrokke departement.​