Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besoek aan die Stellenbosch Biblioteek Innovasieruimte: ʼn Buitengewone, asemrowende ervaring
Outeur: Elzette le Roux
Gepubliseer: 21/11/2022

Die maandelikse personeelvergadering van die Sentrum vir Leertegnologieë (SLT) het gedurende Oktober in ʼn ander ruimte as gewoonlik plaasgevind. Die SLT-personeel het die Stellenbosch Biblioteek se Innovasieruimte besoek waartydens personeel kon vergader terwyl hulle ook lewe in innoverende en stimulerende idees kon blaas.

Makerspace.PNG

Die Innovasieruimte verskaf ʼn innoverende en stimulerende omgewing aan universiteitspersoneel en geregistreerde studente vir samewerkende prototipering, innovasie en leer. Norman Hebler het die SLT-personeel deur verskillende ontwerpwerkstasies, wat ʼn area vir 3D-modelering, stroombaanontwerp en rekenaarondersteunde ontwerpsagteware verskaf, begelei. Die spasie bevat ook vier konstruksiewerkstasies met osiloskope waarmee kreatiwiteit konstruktief in ʼn skepping kan ontaard deur die tegniek van soldering. Iets wat die meeste belangstelling onder SLT-personeel aangewakker het, was die 3D-modelering en drukker moontlikhede en hoe idees vir 3D-drukwerk met opvoedkundige idees gekombineer kan word.

 

Volgens sommige van die SLT-personeel is daar ʼn pret-element aan 3D drukwerk gekoppel. Wanneer studente genot ervaar tydens die proses van leer, vind leer ook optimaal plaas – hiervan kan die personeel getuig. Die 3D-drukwerkproses sluit ʼn ontwerp komponent in waartydens idees kreatief in ʼn ontwerp omgeskakel kan word terwyl iemand ook kreatiewe rekenaarontwerpvaardighede in die proses ontwikkel. Nadat die idee op die rekenaar ontwerp is, word die idee en ontwerp ʼn werklikheid tydens die 3D-drukproses. Volgens die personeel het ʼn ontwerk ʼn realiteit geword deur die drukproses en kan die produk innoverend as “opvoedkundige (tegnologiese) rekwisiet" aangewend word. Sommige personeel het die tyd in die Innovasieruimte as ʼn “heelbrein denkende ervaring" beskryf waartydens dele van jou brein, wat nie noodwendig andersins deur ʼn bepaalde dissipline aangewakker word nie, wel hier geaktiveer kan word. Sommige personeel het die ervaring as asemrowend beskryf aangesien – deur ʼn nuutgevonde kreatiewe lens – selfs klein 3D-gedrukte voorwerpe diepgaande betekenis kan hê wat verdere leer en/of betekenisvolle ervaringe teweeg kan bring. ʼn Ander lewenswerklike opmerking was dat die 3D ervaring weer pret en opwinding in opvoedkunde terugbring, wat weer die belangrikheid om vooruitstrewende benaderings in opvoedkunde te oorweeg, benadruk het. 3D drukwerk kan ook prototipes en voorwerpe druk wat studente se ervaringsleer kan ondersteun.

 

Die SLT-personeel het nie net meer oor die aanbod van die Innovasieruimte geleer nie, maar ook hoe eindelose innoverende moontlikhede deur kreatiewe idees ʼn werklikheid kan word. Aanvullend daartoe het kollegas ook van mekaar in ʼn ander ruimte op  ʼn prettige wyse geleer.

 

Vir meer inligting oor die Innovasieruimte, besoek gerus die webblad hier.