Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US deesdae ''n heel ander plek' vir persone met gestremdhede
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 16/11/2022
Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes:

Suid-Afrika gedenk jaarliks van 3 November tot 3 Desember Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes. Hierdie bewusmakingsmaand skep vir mense met gestremdhede die geleentheid om ander bewus te maak van die hindernisse wat hulle daagliks ondervind en hoe die samelewing kan help om die lewe vir hulle te vergemaklik. Die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Gestremdhede vier ook vanjaar 15 jaar van ondersteuning en inklusiwiteit. Om dit te herdenk, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking met studente en personeel gesels wat deur die eenheid ondersteun is. Lees meer hieronder: 

Die Universiteit Stellenbosch (US) is al vir bykans 'n dekade deel van Luigia Nicholas se lewe. Sy het haar in 2014 as 'n voorgraadse BCom-student by die Universiteit aangesluit en werk deesdae as die bemarking- en opleidingskoördineerder van die US se Eenheid vir Gestremdhede.

Vele verbeteringe

Luigia – wat swaksiende is – het in haar tyd op kampus ervaar hoe vele veranderinge plaasvind om in die behoeftes van studente met gestremdhede te voorsien. “Toe ek begin het, was daar nie soveel toeganklike koshuise soos nou nie," onthou sy. “Daar was ook geen tekstuurplaveisel oor die hele kampus óf enige Braille-tekens nie, en nie alle hysers het noodontruimingstoele gehad nie." Opleidingsgeleenthede vir akademiese personeellede oor die insluiting van studente met gestremdhede was destyds yl gesaai, en daar was bitter weinig sensitisering oor gestremdheid in die algemeen.

Teen hierdie agtergrond het die Eenheid vir Gestremdhede haar van bystand voorsien. “Hulle het my in 'n koshuis naby die kampus geplaas sodat ek daagliks veilig klas toe kon stap," sê Luigia. “Hulle het my ook met hulptegnologie ondersteun om my studie te vergemaklik."

Deesdae is die US egter 'n heel ander plek, sê sy. “Dit het regtig aansienlik verbeter en is meer inklusief teenoor diegene met gestremdhede, veral in die nuwer geboue. Boonop bied die Universiteit nou die Siyakula-personeelopleidingsprogram sowel as studente-opleiding aan.

“Ek dink nie die Universiteit sal ooit 'n punt bereik waar dit heeltemal toeganklik of inklusief is vir elke soort gestremdheid nie, want almal se behoeftes verskil," voeg Luigia by. “Maar ek dink wél ons beweeg in die regte rigting. Daar is gesprekke; daar is opleiding."

Stoere kampvegter vir gestremdheidskwessies

As 'n studenteleier, het sy aktief daartoe meegewerk om van hierdie veranderinge te help aanbring. “Ek was ten nouste daarby betrokke om die behoeftes te identifiseer, en uit te wys wat moes verander," sê Luigia, wat nou aan 'n Nagraadse Diploma in Gestremdheid- en Rehabilitasiestudie werk. “My doel is om die Universiteit selfs méér inklusief te probeer maak."

Sy is passievol oor haar werk op gestremdheidsgebied, so toe sy haar in Julie by die personeel van die Eenheid vir Gestremdhede aansluit, het dit na die logiese volgende stap gevoel. “Dit was 'n maklike oorgang. Ek werk in 'n omgewing wat reeds gevoelig is vir my behoeftes," sê sy. “Toe ek begin het, het hulle maatreëls getref om vir my voorsiening te maak ten opsigte van sagteware en om te sorg dat daar genoeg plek is vir my gidshond."

Groter inklusiwiteit vir toekomstige geslagte

Haar persoonlike agtergrond is vir Luigia 'n dryfveer. “My tipe gestremdheid is geneties, so ek sal moontlik kinders of kleinkinders met dieselfde toestand hê," verduidelik sy. “Dít is waarom ek glo dat ek 'n verantwoordelikheid het om die wêreld 'n bietjie meer inklusief te probeer maak sodat hulle nie met dieselfde goed hoef te sukkel as waarmee ek nou te doen het nie.

“So, as ek 'n geleentheid het om vir gestremdheidsinsluiting voorspraak te doen, moet ek dit benut. Hoewel baie mense dieselfde uitdagings ervaar, het hulle dalk nie die krag of vermoë om hulle menings te lug nie. Ek voel daarom ek het 'n plig om 'n kampvegter te wees en te praat namens dié wat nie kan nie."

Luigia se ander langtermyndoelwit is om jong kinders te motiveer om vir universiteitstudie in te skryf. “By sommige skole – veral skole vir leerders met spesiale behoeftes – word baie kinders afgeraai om universiteit toe te gaan, want mense dink dit is nie inklusief nie. As ek leerders kan motiveer om universiteitstudie 'n kans te gee, is dít wat ek graag sal wil doen."