Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MCom (Rekenaarouditering)-verhandeling ontvang SAIPA-toppresteerdersprys
Outeur: Prof Riaan Rudman
Gepubliseer: 14/11/2022

​Me Angelique Landy van die Universiteit Stellenbosch het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters (SAIPA) se toppresteerderstoekenning in die kategorie vir meestersgraadverhandelings in Rekeningkunde gewen.

Die toekenningseremonie is vroeg vandeesmaand by 'n spogdinee gedurende SAIPA se rekeningkunde-indaba gehou om die beste meesters- en doktorsgraadverhandelings in Rekeningkunde en Belasting gedurende 2021/22 aan te wys. Vier wenners het pryse van R20 000 elk vir PhD-graadwenners en R10 000 elk vir meestersgraadwenners ontvang.

Die doel van die SAIPA-kompetisie vir die beste rekeningkundeverhandeling is om navorsing in rekeningkunde en belasting te bevorder en 'n navorsingskultuur op die gebied van rekeningkunde vas te lê. Dié nasionale kompetisie maak dit vir universiteite regoor Suid-Afrika moontlik om hul beste drie nagraadse tesisse, hetsy vir die volle of gedeeltelike voldoening aan graadvereistes, in Handel, Rekeningkunde of Belasting op elke vlak (indien van toepassing) in te skryf. Elke inskrywing word deur 'n paneel kundiges beoordeel.

Me Landy se verhandeling, Effective implementation and governance of association rules in credit scoring and default management, is daarop gemik om 'n raamwerk vir kredietverskaffers beskikbaar te stel wat hulle kan gebruik wanneer hulle assosiasiereëls vir kredietwaardigheid en verstekbestuur implementeer.

Volgens me Landy, wat haar MCom-graad in Rekenaarouditering voltooi het, is die raamwerk in die vorm van 'n aansoek-vraelys oor hoe om 'n masjienleer-algoritme (sonder toesig) doeltreffend te implementeer.

'n SAIPA-segspersoon het gesê dat me Landy se prestasie heelwat gewig dra. “Haar studie is aan 'n streng proses van beoordeling deur 'n paneel vakkundiges onderwerp. Dat haar voorlegging so baie ander werk uitgestof het, getuig nie net van die kwaliteit van haar navorsing nie, maar ook van die besondere belangrikheid van die konsepte waarmee sy gewerk het."

Prof Riaan Rudman van die Skool vir Rekeningkunde, me Landy se studieleier, het gesê: “Akademici en navorsers ervaar dikwels dat interdissiplinêre navorsing nie so maklik aanvaar word as navorsing wat in die tradisionele vier professionele vakgebiede pas nie.

“Dit maak Angelique se toekenning besonders gegewe die kategorie waarin sy gewen het, naamlik vir 'n meestersgraadverhandeling in Rekeningkunde. Haar werk is met navorsing vergelyk wat by die tradisionele rekeningkundige navorsingsparadigma pas. Navorsing word toenemend interdissiplinêr; dis des te meer waar in 'n veranderende werksomgewing wat onderhewig is aan sterk tegnologiese invloede."

Hy het bygevoeg dat me Landy se verhandeling 'n voorbeeld is van hoe inligtingstegnologie-bestuursbeginsels aangepas kan word om 'n nuttige besigheidshulpmiddel vir die bestuur van nuwe tegnologiee te ontwikkel.

  • Foto: Me Angelique Landy (in swart; 4de van links) van die Universiteit Stellenbosch saam met ander pryswenners by SAIPA se toppresteerstoekenningsgeleentheid.

  • Die program MCom (Rekenaarouditering) wat deur die Skool vir Rekeningkunde aangebied word, stel studente bloot aan tegniese besonderhede in moderne inligtingstegnologie-omgewings wat hulle in staat stel om rekenaarversekeringsbeginsels toe te pas en hulle met die konseptuele vaardighede toerus om toekomstige tegnologieë te hanteer. Studente leer sleutelbegrippe om ouditering in moderne organisasies te herkonseptualiseer.

    Volgens programleier prof Riaan Rudman van die Skool vir Rekeningkunde, is die graad MCom (Rekenaarouditering) daarop gemik om rekeningkundige en ouditeringspraktisyns verder op te lei om hul benadering tot ouditering in die moderne era te herbedink en aan te pas. Die doel is om sleutelbeginsels te onderrig ten einde op versekeringsaspekte te fokus wat saak maak in 'n kuber- fisieke wêreld.

    Die program bestaan uit 'n gedoseerde komponent in die eerste studiejaar en die skryf van 'n verhandeling in die tweede studiejaar. Die program maak voorsiening vir virtuele bywoning van lesings. Die volgende siklus van die program MCom (Rekenaarouditering) sal na verwagting in 2024 begin. Aansoeke daarvoor kan voor die einde van 2023 gedoen word.

    Vir verdere inligting, kliek hier of kontak me Fayrouz Khan by Fayrouz@sun.ac.za of tel 021 808 3400.