Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesondheidsorgwerkers in Afrika sukkel om versorgingspunt-ultraklank te gebruik
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 01/11/2022

Die gebruik van versorgingspunt-ultraklank by die siekebed of in noodgevalle (ePOCUS) maak dit moontlik om pasiënte wat met ernstige siektes by noodgevallesentrums behandel word vinniger te diagnoseer. Dit verklein ook die moontlikheid van gemiste, verkeerde of vertraagde diagnoses en kan help om pasiënte se lewens te red.

Gesondheidsorgwerkers in Afrika sukkel egter om ePOCUS te gebruik, omdat hulle nie voldoende toegang tot opleiding, mentorskap, ultraklankmasjiene en ultraklank-verwante verbruiksgoedere soos jels, steriele oorpakke, ensovoorts het nie.  

Dít volgens ʼn nuwe studie wat onlangs in die African Journal of Emergency Medicine gepubliseer is. Die studie is onderneem deur navorsers van die Afdeling Noodgeneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch, die Departement Mediese Nooddienste van die Ministerie van Gesondheid in Uganda en die Departement Noodgeneeskunde van die Makerere-universiteitskollege van Gesondheidswetenskappe in Uganda.

Die navorsers het deur middel van ʼn aanlyn vraelys probeer vasstel tot watter gesondheidsorgpraktisyns wat lede van die Afrika-federasie van Noodgeneeskunde (AFEM) is, van ePOCUS gebruik maak. Hulle wou dié praktisyns se demografie bepaal, asook hul kwalifikasie- en opleidingsvlak, die hindernisse wat hulle ervaar, die ePOCUS-modules wat hulle gebruik en die frekwensie van gebruik.  

Volgens die navorsers beveel die AFEM die gebruik van ePOCUS as ʼn kernvaardigheid vir gesondheidsorgpraktisyns in Afrika aan. Die AFEM-netwerk het ten tyde van hul studie meer as 2 000 lede van 25 verskillende lande verteenwoordig.

Die navorsers sê die (oorwegend manlike) deelnemers wat die vraelys voltooi het, het aangedui dat onvoldoende opleiding, ʼn tekort aan toesig of terugvoer, wanfunksionering van ultraklankmasjiene of ʼn tekort aan ultraklankverwante verbruiksgoedere van die hoofredes is hoekom hulle sukkel om ePOCUS te gebruik.  

“Tweederdes van die respondente in Afrika het aangedui dat hulle ePOCUS gebruik, wat baie minder is as in noodsentrums in Suid-Korea, Kanada en Australië.

“Hierdie lae gebruikskoers is kommerwekkend omdat die beskikbaarheid van mobiele ultraklankmasjiene aansienlik oor die afgelope paar jaar toegeneem het. Die ingebruikneming van ePOCUS in gebiede met min hulpbronne was traag, maar goedkoper, draagbare ultraklankstelsels kan van die finansiële hindernisse uit die weg ruim."

Die navorsers erken wel dat die gebruik van ePOCUS in Afrika waarskynlik veel hoër is as wat in hul studie aangedui word. Hulle sê daar is steeds ruimte vir verbetering inaggenome dat ePOCUS die potensiaal het om toegang tot gesondheidsorg van gehalte in afgeleë gebiede te verbeter.

Hulle wys daarop dat slegs ʼn derde van ePOCUS-gebruikers ʼn formele eksamen ondergaan het om te verseker dat hulle oor al die vaardighede beskik om dit veilig en doeltreffend te gebruik. Dit is jammer, omdat die selfwaargenome vlak van ePOCUS-vaardighede aansienlik hoër was by diegene wat die eksamen ondergaan het.

“Die ePOCUS-modules wat die meeste gebruik word, is ultraklank in die assessering van trauma, gefokusde hartassessering, asook borskas- of longassessering.  

“Die lae vlak van formalisering van vaardighede en die potensiële wanbalans tussen die plaaslike siektelas en ePOCUS-opleiding verg verdere ondersoek."

Die navorsers sê ondanks hierdie uitdagings is die potensiaal van die gebruik van ePOCUS in Afrika reusagtig, omdat dit ʼn vinnige en redelik goedkoop beeldingsmodaliteit is wat vir die diagnose en bestuur van heersende siektes in Afrika-lande gebruik kan word.

“Mens dink dadelik aan die assessering van pasiënte met trauma en kraamverwante klagtes, maar dit is ook waardevol vir aansteeklike siektes, wat algemeen voorkom. Die gebruik van ePOCUS kan MIV-verwante tuberkulose vinniger diagnoseer, veral as dit deel van ʼn omvattende versorgingspuntgerigte kliniese algoritme uitmaak."

Die navorsers benadruk die noodsaak vir gedetailleerde beplanning deur die AFEM, nougesette koördinasie en plaaslike inkoop om die huidige uitdagings te bowe te kom en die veilige en vaardige gebruik van ePOCUS in Afrika te verbeter.

“Ons beveel meer diepte- en konteksspesifieke studies aan om beter te verstaan watter probleme gesondheidsorgwerkers op voetsoolvlak ondervind om ten eerste toegang tot ePOCUS-opleiding te bekom en dit tweedens daagliks naatloos te gebruik."

  • ​Bron: Van Hoving, DJ; Alenyo, AN; Komagum, F; & Lamprecht, H 2022. Current use and perceived barriers of emergency point-of-care ultrasound by African healthcare practitioners. African Journal of Emergency Medicine 12 (2022): 333-338: doi.org/10.1016/j.afjem.2022.07.009