Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vier-dag-werkweek nie ’n ‘wonderoplossing’ nie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 21/10/2022

Sal 'n vier-dag-werkweek 'n treffer wees in Suid-Afrika?

Dít was die vraag wat prof Mark Smith, Direkteur van die Stellenbosse Bestuurskool, by 'n onlangse Stellenbosch Forum-lesing van nader bekyk het. Die lesing, die agtste en laaste in die 2022-reeks, se tema was ''n Vier-dag-week: is dit tyd om slimmer te werk?'

Die Stellenbosch Forum-lesingreeks word sedert 1990 aangebied en bied gereelde geleenthede vir US-personeel en -studente, asook lede van die publiek, om meer te wete te kom oor die navorsing van wêreldgehalte wat by die Universiteit gedoen word. Die lesings, wat op 'n toeganklike en verstaanbare manier aangebied word, bied aan beide akademici en nie-akademici 'n platform vir kritiese debat wat oor die grense van vakgebiede strek.

Smith het in sy lesing gesê die huidige voorstel om die vier-dag-werkweek in verskillende wêrelddele te toets ('n ses maande lange loodsprojek word in 2023 in Suid-Afrika bekendgestel) toon dat ons almal ná die pandemie besin het oor hoeveel ons werk, hoeveel tyd ons aan ons huishouding spandeer en hoeveel tyd ons saam met ons geliefdes, familie en kinders deurbring.

“Ons stel in die vier-dag-werkweek belang weens die uitwerking van die pandemie en daarna. Ons bevraagteken hoe ons in hierdie omgewing werk en lewe.

“Ons het in 'n kort tydperk bewys die onmoontlike is moontlik. Almal kan aanlyn werk, ons bestuur organisasies, regeer lande, ons lewer dienste oor 'n afstand en dis nie nodig dat ons almal op dieselfde dae op kantoor is nie.

“Die pandemie het ook kommer oor werk-lewe-kwessies, retensie, werwing en produktiwiteit versnel.

“Voorheen was hierdie tipe buigsaamheid net vir bestuurders en witboordjiewerkers bestem, terwyl die pandemie bewys het dat baie meer mense oor 'n afstand van die huis af kan werk en outonomie het oor hoe en wanneer hulle werk."

Volgens Smith het resultate van die loodsprojek getoon dat 'n vier-dag-werkweek tot groter werk-lewe-integrasie, hoër produktiwiteit en 'n verbetering in mense se lewensgehalte kan lei, aangesien hulle in beginsel meer tyd vir ontspanning het. Hy het bygevoeg dat dit ook na aan die ideale 'teiken' vir werktyd is en dat maatskappye wat by die loodsprojek betrokke is, se retensie verbeter het en meer mense wou vir hulle werk.

'n Vier-dag-werkweek hou egter ook seker moontlike nadele in.

“Wat gebeur as ons nie die werk in vier dae kan voltooi nie? Dit mag vir sommige organisasies nie moontlik wees nie. Hoe sal werkslawe dit hanteer? Die hoër intensiteit is 'n moontlike risiko. Daar is ook die moontlike risiko dat ons sommige groepe mag uitsluit, met sommige mense wat drie dae van ontspanning geniet, terwyl ander vyf dae moet werk."

Volgens Smith is dit net 'n persepsie dat 'n vier-dag-werkweek 'n wondermiddel is wat al ons probleme kan oplos. Spesifiek met Suid-Afrika in gedagte het hy gesê die inwerkingstelling van 'n vier-dag-werkweek hou ook die risiko van onbedoelde gevolge in.

“Ons het relatiewe lang werksure, hoë vlakke van indiensneming en lae produktiwiteitsvlakke. Daar bestaan 'n wetlike raamwerk wat die hoeveelheid ure wat mense kan werk, streng definieer. Die verhouding tussen werkgewers en vakbonde is meer strydend van aard met meer konflik as in sommige ander lande. 

Smith het bygevoeg dat ons almal ook mooi sal moet nadink oor die uitwerking van beurtkrag en uiterste ongelykhede.

Volgens hom is dit belangrik om enige wanopvattings oor die vier-dag-werkweek uit die weg te ruim.

“Dit is nie deeltydse werk nie; dit is nie 'n saamgevatte werkweek nie; en almal werk nie dieselfde dae nie. Dit is ook nie gedeeltelike indiensneming soos wat in sommige lande bestaan waar mense minder werk eerder as om afgelê te word nie."

Smith het ook daarop gewys dat die vier-dag-werkweek nie 'n nuwe idee is nie. Die Britse ekonoom, John Maynard Keynes, het reeds in die 1920's voorspel dat ons in die toekoms 15 uur per week gaan werk. In die 1950's het die voormalige president van die Verenigde State, Richard Nixon, ook 'n vier-dag-werkweek in die vooruitsig gestel.

Hy het bygevoeg dat die agt-uur-dag en 40-uur-week 'n norm is wat in die 20ste eeu onstaan het.

“Dit is 'n soort denkbeeldige reël. Dit het uit die vervaardigingskonteks van wat 'n normale en gewone werkweek is, ontwikkel. Dit is die norm wat die manier waarop ons oor tyd in die samelewing dink, oorheers, maar dit is nie op almal van toepassing nie. Studente werk deeltyds, mense in die dienssektor werk gefragmenteerde ure. Daar is baie mense wat nie die standaard werkstyd van 40 uur per week werk nie."