Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dowe storievertellers help Universiteit Stellenbosch om onderrigmateriaal te skep
Outeur: Corporaate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemerking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 28/09/2022

'n Sosialeimpakprojek van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Dowe gemeenskap is onlangs voltooi om literatuur in gebaretaal te bevorder en om die benarde posisie van die Dowe gemeenskappe met beperkte werk- en opleidingsgeleenthede aan te spreek.

Die Universiteit en die Dowe gemeenskap se pogings val saam met die huidige Bewustheidsmaand vir Doofheid, asook die onlangse verklaring van Suid-Afrikaanse gebaretaal (SAGT) as die land se 12de amptelike taal.

Die projek, getiteld 'Creating Teaching Material for Hearing Students Learning SA Sign Language: Workshop for Deaf Community Storytellers' (die skep van onderrigmateriaal vir horende studente wat SA gebaretaal aanleer: werksessie vir Dowe gemeenskapstorievertellers), het die uitbouing van die studente, dosente en lede van die Dowe gemeenskap se kapasiteit tot gevolg gehad.

Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskap het onderrigmateriaal in onderrigmateriaal vir gebaretaal in samewerking met vier Dowe gemeenskapslede geskep wat terselfdertyd opgelei is om gebaretaal te gebruik om geskrewe stories te vertel en ook boonop video-opnames daarvan te maak.

Die storievertellers, me Yuvini Gounden, mnr Terneil Christians, mnr Christopher Galada en me Lazyja le Roux, is almal van Worcester en Stellenbosch afkomstig en het video's van 20 stories in SAGT geskep.

JIFX7755.JPG
Hierdie onderrigmateriaal sal binnekort aan horende studente beskikbaar gestel word wat vir die beginnerskursus van die SAGT-akademiese program ingeskryf is.

Aan die stuur van die projek was me Vanessa Reyneke, projekkoördineerder van Leer- en Onderrigondersteuningsmateriaal vir SAGT, en haar kollega, me Susan (Modiegi) Njeyiyana, 'n junior dosent in SAGT. Ander personeellede wat deelgeneem het, is dr Kate Huddlestone (Algemene Taalwetenskap), dr Simone Conradie (Algemene Taalwetenskap), mnr Gert Erasmus (Taalsentrum), me Marsanne Selzer (Taalsentrum) en me Zulfah Shabodien (Algemene Taalwetenskap).

Die projek het vroeër vanjaar afgeskop danksy finansiëring van die US se befondsingskomitee vir sosiale impak en die samewerking van Universiteitspersoneel en gemeenskapslede, sê Reyneke.

Voordat hulle die video's gemaak het, het die deelnemers eers 'n werksessie bygewoon om opleiding in te ontvang in videografie, ateltjeevoorbereiding, vertaling van teks na SAGT en die beste tegnieke om stories te vertel.

Volgens Njeyiyana, wat self doof is en SAGT doseer, was die skakeling tussen die dowe storievertellers en ander deelnemers 'n insiggewende en wedersydse leerervaring, veral danksy die dialekte en kulture wat by die werksessie betrokke was. “Daar was wonderlike groepswerk en ons het saam die toepaslike tekens gekies om die storie te vertel. Studente sal meer oor die verskillende dialekte en kulture in die Dowe gemeenskappe leer," sê Njeyiyana.

'n Ervaring wat deelnemers bemagtig het

Die storievertellers het in hul nabetragting oor hul deelname aan die projek groot waardering uitgespreek vir die opleiding en vaardigheidsontwikkeling wat hulle ontvang het. Hulle het saamgestem dat hulle bemagtig voel deur dít wat hulle geleer het en die vaardighede wat hulle aangeleer het.

“Nou verstaan ek hoe om geskrewe teks in gebaretaal te vertaal. Ek sal my graag verder wil oplei en my vaardighede wil verbeter sodat ek gebaretaal behoorlik kan gebruik wanneer ek by 'n skool vir Dowes skoolhou," sê Galada.

Gounden stem saam dat hy baie geleer het. “Veral oor watter toerusting ek in 'n ateljee benodig en wat ek moet doen voordat ons begin verfilm. Ek sal dit in die toekoms gebruik."Picture1.jpg

Die uitkoms van die projek

Volgens Reyneke het die storievertellers se uiteenlopende kulturele agtergronde en dialekte tot die rykheid en egtheid van die onderrigmateriaal bygedra. “Hulle het daarin geslaag om inhoud te skep wat tematies ouderdomsgeskik is vir jong volwassenes, en ten opsigte van woordeskat en taalkundige ingewikkeldheid eenvoudig genoeg is om deur volwasse beginner-leerders van gebaretaal verstaan en geniet te word," sê Reyneke.

Die kort stories van maksimum agt sinne elk handel oor die studentelewe en alledaagse kampusaktiwiteite. Die stories is net op video beskikbaar. 

Die storievertellers het eenvoudige en toepaslike stories geskep soos:

Die angs en stres van 'n student

Ek het so baie om te doen!

Ek moet lesings bywoon, my huiswerk doen en vir toetse leer!

Ek moet elektrisiteit koop, my wasgoed was en biblioteek toe gaan!

Ek voel so uitgestres en angstig!

Dan besef ek: Ek kan net een ding op 'n slag doen.

Ek haal diep asem, glimlag en stap na my vogende klas toe.

 

Balans

Ek het in my eerste jaar op universiteit net partytjies bygewoon.

Ek het nooit klas bygewoon of geleer nie.

Ek moes die hele jaar herhaal.

Ek het in my tweede jaar op universiteit net studeer.

Ek het nooit uitgegaan of ontspan nie.

Ek het uitgebrand en siek geword.

Vanjaar gaan ek beter na myself omsien en 'n balans handhaaf.

 

Huddlestone, wat voorsitter van die Departement Algemene Taalwetenskap is, sê die stories is deel van 'n US-modelle en hulle beplan nie tans om die video's aan die publiek beskikbaar te stel nie.

Volgens Huddlestone is die projek in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte 2030 en die Universiteit se aspirasies om kapasiteit te verhoog, opvoedkundige uitkomste te verbeter en die jeug te ontwikkel.

“Daar is 'n gebrek aan leer- en onderriggeleenthede vir jong dowe volwassenes. Die Dowe gemeenskap word steeds tot 'n groot mate by ontwikkelingsinisiatiewe uitgesluit. Hulle skoolopleiding berei hulle nie goed voor op naskoolse studie nie en tersiêre opvoedingsinrigtings is weens taalhindernisse nie vir hulle toeganklik nie," sê sy.

Volgens Reyneke en Njeyiyana kan baie meer dowe mense by hierdie projek baat vind. Hoewel hulle graag die projek sal wil voortsit en onderrigmateriaal met dowe persone vir ander SAGT-modules wil skep, word hulle tans deur 'n tekort aan geld beperk.

 

​​Groepfoto: Die groep storievertellers en personeel saam by 'n werksessie. Agterste ry: Christopher Galada, Vanessa Reyneke (US-personeel), Terneil Christians, Alex Nyawo.

Voor: Susan Njeyiyana (US-personeel), Yuvnin Gounden, Lazyja le Roux​


 Fotograaf: Stefan Els