Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Selfdoodvoorkoming vereis dade, nie net woorde nie
Outeur: Jason Bantjes
Gepubliseer: 12/09/2022

Wêrelddag vir Selfdoodvoorkoming is op Saterdag 10 September gehou. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian skryf Prof Jason Bantjes (Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad / Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing ) dat praat alleen nie genoeg is om selfdood in Suid-Afrika te voorkom nie. Daadwerklike optrede is nodig om selfdoodkoerse te verminder.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Jason Bantjes*

Wêrelddag vir Selfdoodvoorkoming (10 September) bied nog 'n geleentheid vir verdere openbare gesprekke oor 'n wêreldwye openbare gesondheidskwessie wat elke jaar nagenoeg 703 000 sterftes in die wêreld veroorsaak. Maar wat meer kan daar oor selfdood gesê word wat nie reeds gesê is nie? En wat is die punt van praat oor selfdoodvoorkoming tensy ons bereid is om daadwerklik op te tree?

Mense praat al jare lank oor selfdood en selfdoodvoorkoming. Hoewel selfdoodgedrag op verskillende maniere op verskillende tye in die geskiedenis verstaan is, het die praktyk van selfdoodvoorkoming in 'n bewysgebaseerde wetenskap ontwikkel en professionele praktisyns stem al hoe meer saam oor beste praktyke om selfdoodsyfers te verlaag.

Selfdood is al op verskillende maniere beskryf – as 'n persoonlike keuse, 'n bestaanskrisis, 'n geestelike kwessie, 'n morele swakheid, 'n kriminele daad, 'n simptoom van geestesiekte, en meer onlangs as 'n menseregtekwessie. Antieke denkers het oor selfdood geskryf en diep daaroor nagedink of dit ooit geregverdig is. Sedert ten minste die vyfde eeu n.C. het godsdienstige leiers aktief mense afgeraai om selfdood te pleeg en in die tiende eeu n.C. is wetgewing wat selfdoodgedrag verbied, in Europa uitgevaardig in 'n dwase poging om selfdood te bekamp.

Die eerste akademiese konferensie oor selfdoodvoorkoming is in 1908 gehou en selfdoodvoorkomingsentrums en selfdood-noodlyne is reeds sedert die 1950s beskikbaar. In 1968 is die American Association of Suicidology gestig en is die vakgebied van selfdoodkunde ('suicidology' – dit is die wetenskaplike studie van selfdood) amptelik gevestig. Hierdie vakgebied het die afgelope 70 jaar vinnig uitgebrei met verskeie akademiese vaktydskrifte wat nou uitsluitlik oor hierdie onderwerp handel.

Die vermenigvuldiging van navorsing oor selfdood het getoon dat selfdood voorkombaar is en dat geen gevalle van selfdood miskien nie so 'n onrealistiese droom is nie. Ons is allesbehalwe te oningelig of te hulpeloos om selfdoodsyfers te verlaag en ons het 'n redelike goeie idee van wat gedoen moet word.

Doeltreffende selfdoodvoorkomingstrategieë sluit die bevordering van toegang tot bewysgebaseerde behandeling vir geestesgesondheidsprobleme, die opleiding van primêresorgdokters om depressie te herken en te behandel, die toerusting van gesondheidspraktisyns om selfdoodwaarskuwingstekens raak te sien en in te gryp in 'n selfdoodkrisis, om jongmense oor depressie en selfdoodgedrag op te voed en om aktief met psigiatriese pasiënte op te volg ná ontslag of ná 'n selfdoodkrisis. Ander strategieë, soos hekwagteropleiding en internet- en noodlynondersteuning, hou ook belofte in, maar is nog nie deeglik genoeg nagevors nie.

Ten slotte …

Hoewel ons baie weet oor wat gedoen moet word om selfdoodsyfers op 'n gemiddelde bevolkingsvlak te verminder, is dit baie moeiliker om selfdood op 'n individuele vlak te voorkom. Daar is baie redes hiervoor, insluitende die feit dat geestesgesondheidpraktisyns sukkel om te voorspel wie selfdood sal deurvoer en ons sien nie altyd die waarskuwingstekens voor die tyd raak nie, maar eers na die tyd. Ons kan groepe mense uitken wat 'n hoër risiko vir selfdood het, maar selfs die beste statistiese voorspellingsmetodes gegrond op huidige wetenskaplike bewyse is net 'n bietjie beter as kans om te voorspel wanneer individue gaan probeer om selfdood te pleeg of dit gaan deurvoer. Dit skep soms die indruk dat 'selfdood uit die niet verskyn'.

As ons dan weet wat gedoen moet word om selfdoodsyfers op 'n nasionale vlak te verlaag, waarom praat ons nog steeds daaroor? Is dit makliker om te praat as om die moeilike werk te doen om hulpbronne te mobiliseer, ingesteldhede te verander, ons openbare geestesgesondheidsorgstelsel te verbeter, toegang tot doeltreffende behandeling vir geestesiektes te verbeter, veiliger skole te skep, gemeenskappe te bou waar mense kan voel hulle behoort, te verseker dat geestesgesondheidsorg 'n integrale deel van ons primêre gesondheidsorgstelsel is, armoede te verlig en seksuele geweld te beëindig? Vanjaar bied Wêrelddag vir Selfdoodvoorkoming die ideale geleentheid vir ons om op te hou praat en om doelgerig te begin optree. Dade sê immers meer as woorde.

  • Selfdood kan voorkom word en daar is hulp beskikbaar. Enigiemand wat selfdoodgedagtes ondervind, moet met iemand praat, hul dokter raadpleeg of met een van die 24-uur-noodhulplyne soos die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (0800 567 567) of LifeLine (0861 322 322) in verbinding tree. Reik uit, soek hulp, bly in verbinding.

Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.

​Foto deur Noah Silliman by Unsplash.

*Prof Jason Bantjes is 'n hoof-spesialiswetenskaplike in die Navorsingseenheid vir Alkohol, Tabak en Ander Middels by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) en 'n geregistreerde sielkundige. Hy is ook 'n buitengewone medeprofessor by die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die menings wat hier gehuldig word, is nie noodwendig dié van die SAMNR of US nie. 

  • Prof Lizette Rabe van die Departement Joernalistiek het ook ʼn artikel vir Wêrelddag vir Selfdoodvoorkoming geskryf wat News24 geplaas het. Sy het dit self vir News24 gestuur.