Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sluit aan by ons transformasiereis
Outeur: Prof Hester Klopper, Deputy Vice-Chancellor: Strategy, Global and Corporate Affairs
Gepubliseer: 04/09/2022

​Suid-Afrika het pas Vrouemaand (Augustus) gevier. Ons by die Universiteit Stellenbosch (US) het ons nogmaals daartoe verbind om vroue op alle vlakke van die samelewing te eer, en te sorg dat ons 'n kernrol vervul om gemeenskappe sowel plaaslik as internasionaal te transformeer.

Op 9 Augustus 1956 het sowat 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria, die amptelike regeringsetel, opgeruk uit protes teen die destydse apartheidsregering se pogings om swart vroue se bewegings met paswette te beheer. Dít was 'n donker tyd in ons land se geskiedenis, toe diskriminasie teen vroue die norm was.

Vandag streef die US – en, trouens, ons land – na doelbewuste en gestruktureerde transformasie sodat ons diepgaande verandering in ons plekke, mense en programme kan teweegbring. Hierin is die Universiteit se waardes van billikheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en uitnemendheid ons rigsnoere.

Ons transformerende benadering is ook te sien in ons globale praktyke – nie net in ons werk om geslagsgelykheid te bevorder nie, maar ook in ander opsigte. Een van ons kern strategiese temas is byvoorbeeld om 'n transformerende studente-ervaring te voorsien. Ons glo dat elke student se ervaring aan die US hulle siening van die wêreld moet verander en 'n rol moet vervul om wêreldwye transformasie teweeg te bring.

Die Universiteit se transformasiebeleid is byna goedgekeur en sal praktiese stappe aan die gang sit om 'n diverse en inklusiewe kampusgemeenskap te skep.

Ons internasionale vennote en netwerke is onder ons hoogs gewaardeerde belanghebbendes wat ons help om studente (en navorsing) op te lewer wat die wêreld sal transformeer en groter waardigheid, heling, sosiale geregtigheid, vryheid en gelykheid sal verseker. Dít is die globale vaardighede wat ons graag by ons studente wil inskerp – sowel Suid-Afrikaanse studente op studiebesoeke oorsee, as besoekende studente van ons vennootinstellings elders.

Ons Vrouemaandvieringe het ons daaraan herinner dat ons transformasiereis voortduur. Ons nooi ons vennote en netwerke om die pad saam met ons te stap sodat ons studente kan oplewer wat toegerus is om diepgaande verandering in die wêreld te skep.