Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ESI kies koers na Windhoek vir eerste gesamentlike skool in kontakvorm
Outeur: SU International
Gepubliseer: 04/09/2022

ESI, die Universiteit Stellenbosch (US) se inisiatief vir ontluikende akademici, is in 2020 bekend gestel, nes Covid-19 uitgebreek het. Sedertdien moes die inisiatief met aanlyn aktiwiteite tevrede wees. Dít het egter in Junie 2022 verander toe ESI uiteindelik sy eerste gesamentlike skool in kontakvorm saam met die Sentrum vir Navorsingsdienste aan die Universiteit van Namibië (UNAM) kon aanbied. Die geleentheid het van 12 tot 24 Junie op UNAM se hoofkampus in Windhoek plaasgevind.

ESI is geleë in  US Internasionaal se Afrikasentrum vir Akademieskap (ACS) en beoog om akademieskap op die vasteland te versterk deur gesamentlike skole saam met ander Afrika-instellings aan te bied wat doktorale studente en ontluikende navorsers ontwikkel en toerus. Vir die Namibiese skool het deskundige fasiliteerders van die ACS, die Sentrum vir Hoër en Volwassene-onderwys sowel as die Skryflaboratorium aan die US met akademici van UNAM saamgewerk om twee werksessies aan te bied – een oor wetenskaplike kommunikasie vir doktorale studente en nadoktorale genote, en die ander oor nagraadse studieleiding vir nuwelingakademici.

Die reaksie op die aanvanklike versoek vir aansoeke op alle UNAM-kampusse was oorweldigend. Meer as 120 aansoeke is vir die twee werksessies ontvang. Dít het die behoefte aan én aptyt vir akademieskapontwikkeling bevestig. Altesaam 72 deelnemers, waaronder vyf doktorale studente en twee nuwelingakademici van die US, het hulle uiteindelik by die skool aangesluit. Deelnemers het uit uiteenlopende dissiplines gekom, van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (WTIW) tot die sosiale wetenskappe.

Die sukses van die skool was grootliks danksy goeie samewerking tussen die twee gashere. Die US en UNAM het onder meer saamgewerk om vooraanstaande vakkundiges by albei instellings as fasiliteerders vir die kursusse te identifiseer, en om die kurrikulum so te ontwerp dat dit in deelnemers se behoeftes voorsien. Dit het 'n sterk grondslag gelê vir toekomstige samewerking, nie net tussen die US en UNAM nie, maar deur die hele Afrika, om akademieskap op die vasteland uit te brei.

ESI beplan vanjaar nog 'n aantal verdere gesamentlike skole in sowel aanlyn as kontakvorm.

Picture2.jpg 

ESI vier 'n eerste: Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Namibië (UNAM) het in Junie 2022 die eerste ESI- gesamentlike skool in kontakvorm aangebied. ESI is die US se inisiatief vir ontluikende akademici. Op die foto is deelnemers, fasiliteerders en die reëlingspan by die openingseremonie. Voor, van links: Prof Jairos Kangira (UNAM-kursusfasiliteerder), dr Brent Abrahams (ESI-koördineerder), prof Nelago Indongo (direkteur van die Sentrum vir Navorsingsdienste by UNAM), dr Ellen Namhila (UNAM-viserektor), me Selene Delport (US-fasiliteerder), dr Armas Shikongo en prof Davis Mumbengegwi (albei van UNAM).