Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vooraanstaande US-navorsers ontvang NNS-toekennings
Outeur: Research Development / Navorsingsontwikkeling
Gepubliseer: 02/09/2022

Tien prominente navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) is deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) vereer by die jaarlikse NNS-toekennings wat op Donderdag 1 September 2022 gehou is. Die toekennings erken en vier Suid-Afrikaanse navorsingsuitnemendheid wat wetenskap bevorder tot voordeel van die samelewing.

Proff Len Barbour (Chemie en Polimeerwetenskap), Johan Cilliers (Praktiese Teologie en Missiologie), Mark Cotton (Pediatrie en Kindergesondheid), Jonathan Jansen (Opvoedingsbeleidstudie), Sandy Liebenberg (Publiekreg), Leslie Swartz (Sielkunde), Willem Visser (Rekenaarwetenskap), Rob Warren (Biomediese Wetenskappe) en Andre Weideman (Wiskundige Wetenskappe) het almal A-evaluerings ontvang.NRF-Awards2022_groupphoto.JPG

Die US spog nou met 494 geëvalueerde navorsers, waarvan 20 A-geëvalueerd is.

A-geëvalueerde navorsers word onomwonde deur hul eweknieë erken as toonaangewende internasionale vakkundiges in hul onderskeie velde vir die hoë gehalte en impak van onlangse navorsingsuitsette. Volgens die NNS is die evalueringstelsel 'n waardevolle hulpmiddel om die kwaliteit van Suid-Afrika se navorsers te vergelyk met die beste ter wêreld.

In reaksie op die toekennings vir A-geëvalueerdes het dr Therina Theron, Senior Direkteur vir Navorsing en Innovasie aan die US, gesê die NNS-evalueringsproses bly 'n baie belangrike aanwyser van die internasionale erkenning van die US se navorsers en van die kwaliteit van hul navorsingsuitsette soos beoordeel deur hul akademiese eweknieë van regoor die wêreld. “Ons is ongelooflik trots op ons nuwe A-geëvalueerde navorsers. Ons salueer en vier hulle, want ons weet wat dit verg om op hierdie vlak te presteer".

Prof Brian van Wilgen (Plant- en Dierkunde / Sentrum vir Indringerbiologie) het die NNS toekenning vir lewenslange prestasie ontvang. Hierdie toekenning word gemaak aan individue wat buitengewone bydraes gemaak het, van internasionale standaard en impak, tot die ontwikkeling van wetenskap in en vir Suid-Afrika oor 'n lang tydperk, en vir die wyse waarop hul werk die lewens en sienings van baie Suid-Afrikaners aangeraak en gevorm het.

Van Wilgen is 'n toegepaste ekoloog met belangstellings in bewaring en gesonde ekosisteembestuur. Hy het aansienlike bydraes gelewer op die gebied van toegepaste ekologie, veral op twee gebiede – die ekologie en bestuur van biologiese indringers, en die ekologie en bestuur van plantegroeibrande. Sy werk was instrumenteel in die verhoging van bewustheid onder sleutelbeleidmakers oor die ekologiese en sosiale impak van uitheemse indringerplante. Sy navorsing het die wetenskaplike regverdiging verskaf vir die vestiging van wydlopende nasionale programme om uitheemse indringerplante in Suid-Afrika te bestuur. Hierdie programme het beide 'n belangrike omgewingsprobleem aangespreek en werk- en ontwikkelingsgeleenthede vir duisende benadeelde Suid-Afrikaners geskep.

JJansen.JPG













Die US se nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Prof Sibusiso Moyo, het die ontvangers gelukgewens en gesê “dit is 'n uitstekende resultaat vir die Universiteit Stellenbosch en toon die impak van die Universiteit se voortgesette belegging in sy navorsingsareas en navorsingsinfrastruktuur. Die Universiteit se Bestuur deur die Rektoraat was baie opgewonde om te sien hoe ons navorsers die hoë impakkategorieë wen en moedig ons navorsers en innoveerders aan om voort te gaan met die uitstekende werk wat hulle doen."

  • Klik hier vir 'n volledige lys van die US se navorsers met NNS-graderings.

Foto 1: Sommige van die ontvangers saam met lede van die Universiteit Stellenbosch se bestuurspan by die toekenningsgleentheid.  Foto 2: Prof Jonathan Jansen saam met NNS-verteenwoordigers. Hy was nie teenwoordig toe groepfoto van die ander ontvangers geneem is nie.

Fotograaf: Piet van Wyk