Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bio-informatika is sleutel tot bewaring
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 16/08/2022

​'n Reeks hoëresolusiekaarte wat die plaaslike diversiteit van boomspesies regoor die wêreld uitbeeld, asook die omgewingsdryfvere ágter die diversiteit, sal as maatstaf dien vir die toekomstige bestuur van woud-ekosisteme onder veranderende klimaatstoestande.

Die kaarte wat onlangs in die vaktydskrif Nature Ecology and Evolution gepubliseer is, (lees hier), berus op 1,3 miljoen steekproefkarterings en 55 miljoen bome wat in die Global Forest Biodiversity Initiative se databasis opgeneem is. Dit het 249 navorsers van 50 lande twee jaar geneem om die databasis saam te stel en te standardiseer, met 'n derde van hulle wat gesetel is in tradisioneel onderverteenwoordigde streke soos Afrika en Suid-Amerika.

Die hoof bevindings van die studie is:

  • Daar is gemiddeld 98 spesies per hektaar by die ewenaar. Die getal spesies neem dan af totdat dit stabiliseer teen ongeveer vier spesies per hektaar by 50 grade noord, sowel as 50 grade suid van die ewenaar.
  • Temperature en neerslag is egter nie die enigste dryfvere agter plaaslike spesierykheid en biodiversiteitspatrone oor breedtegrade heen nie. In tropiese streke speel faktore soos landvorme, grondtipes en die menslike impak ook 'n rol in die spesierykheid. In Afrika, het menslike aktiwiteite soos die geselekteerde industriële gebruik van hout en brandhoutversameling, tesame met grootskaalse agteruitgang, 'n groot negatiewe invloed op die plaaslike verskeidenheid van boomspesies.
  • Die mees diverse tropiese woude op aarde kom in die Amasone voor, met meer as 200 boomspesies per hektaar.
  • Die mees diverse gematigde woude is in suid-sentraal Chili met tot 50 spesies per hektaar.

Prof Cang Hui, 'n biowiskundige van die Universiteit Stellenbosch (US) en senior outeur van die artikel, sê biodiversiteitsdatabasisse soos woud-inventarisse sal voortgaan om uit te brei, soos wat steekproefdekking in ontwikkelende lande vinnig verbeter met geïntegreerde informatikaplatforms.

“Alhoewel modellering kan bydra om hierdie gaping te oorbrug, moet daar 'n gedeelde verantwoordelikheid onder bewaringsbelanghebbendes op verskillende vlakke van regering, wetenskaplikes, inheemse gemeenskappe en ander biodiversiteitsmoniteringsgroepe wees  tende einde steekproefdekking van woud-inventarisse in ontwikkelende lande te kan verbeter," sê hy.

“Dit moet die opvoeding en opleiding van 'n nuwe generasie biodiversiteitsdatawetenskaplikes, ekoloë, en taksonome insluit sodat die gaping in ontwikkelende aangespreek  kan word en werksgeleenthede terselfdertyd geskep kan word," voeg hy by.  

In hierdie verband werk Prof Hui en sy span saam met belangrike plaaslike en internasionale vennote om die Stellenbosch Simposium oor Biodiversiteit-informatika in Suid-Afrika in November 2022 by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studies (STIAS) aan te bied.

“Die doel van die simposium sal wees om die belangrikheid van die bou van betekenisvolle datavennootskappe en die ontwikkeling van 'n kultuur van samewerking onder omgewingsbewaarders en gebruikers van biodiversiteitsdata te demonstreer ten einde operasionele werksvloeipatrone vir datasintese te kan vestig," sê Prof Hui. Die simposium word deur die Nationale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (NITheCS) ondersteun.