Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingsdag stel toenemende navorsingskultuur ten toon
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 26/07/2022

​Die hoofspreker by die onlangse navorsingsdagsimposum van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Johan Fourie van die Departement Ekonomie, het 'n fassinerende beskrywing gegee van die belangrikste oomblikke en gebeure wat sy loopbaan beïnvloed het.

Die jaarlikse navorsingsdag vier en stel die Fakulteit se groeiende navorsingskultuur ten toon. Akademiese personeel, nadoktorale navorsers en PhD-kandidate van die Fakulteit is genooi om opsommings vir mondelinge of plakkaat-aanbiedings voor te lê. Dit het daartoe gelei dat 18 navorsers aanbiedings oor hul projekte gemaak het by dié hibriede geleentheid.

Fourie, 'n professor in Ekonomie en Geskiedenis, beskik oor 'n B1-evaluasie van die NNS – 'n navorser wat aansienlike internasionale erkenning van sy tydgenote geniet. Hy het meer as 80 navorsingsreferate agter sy naam en het ook onlangs 'n boek, Our Long Walk to Economic Freedom, die lig laat sien. Dié boek ondersoek toeganklike ekonomiese geskiedenis vanaf die menslike migrasie uit Afrika 100 000 jaar gelede tot die Covid-19-pandemie.

In sy toespraak getitel “A walk through my research: Lessons from a decade of writing​," het Fourie die vyf belangrikste lesse wat hy die afgelope dekade geleer het, met die gehoor gedeel.

Gee toeval 'n kans

“Wees bereid om met kundiges buite jou vakgebied te kommunikeer," het Fourie gesê. “Ek het byna al my kontakte deur gelukkige toeval opgedoen – onbeplande en onvoorspelbare toeval."

Hy het 'n voorbeeld van sodanige toeval gegee. “Ek het 'n lukrake e-pos van 'n Sweedse geleerde ontvang wat navorsingswerk op plase in die ou Transvaal wou doen. Ek het voorgestel dat hy eerder navorsing op plase in die Kaapkolonie doen, aangesien ons oor baie meer interessante data daaroor beskik. Nou werk ek en Erik Green (navorser en medeprofessor van Ekonomiese Geskiedenis aan die Universiteit van Lund) al sedert 2015 saam aan die grootste geesteswetenskaplike projek wat al ooit deur Swede befonds is, naamlik die Kaap van Goeie Hoop Paneelprojek. Hierdie soort toevallighede is regtig belangrik; dit neem jou uit jou vakgebied en gemaksone."

Hy het gesê sosiale media en blogging kan soms hiermee help. “Twitter help my omdat daar 'n aktiewe ekonomiese gemeenskap is en ek só baie ekonomiese geskrifte te siene kry." Maar hy waarsku dat sosiale media afleiding kan veroorsaak en jou lewe ontwrig. “Ek sal veral jonger kollegas aanmoedig om in gedagte te hou dat 'n blog en potgooi baie tyd en hulpbronne in beslag kan neem."

Werk in spanne

“Dit sal tot jou eie voordeel wees om saam met mede-outeurs te werk. Jy hoef nie noodwendig oor al die kundigheid te beskik wat 'n navorsingsartikel vereis nie. Daar is sommige medeskrywers wat baie goed is met sekere aspekte maar nie met ander nie. Dit is waar mede-outeurspanne mekaar aanvul en goed saamwerk," sê Fourie.

Hy het bygevoeg: “Ek sal almal aanmoedig om internasionale netwerke te ontwikkel. Ek het al baie saam met internasionale kundiges in die VSA – wat op die voorpunt van ontwikkeling in omtrent enige veld is – gewerk. Internasionale netwerke stel jou bloot aan baie dinge, hulle verskaf nuwe idees, hulle help jou om jou storie oor Suid-Afrika in 'n internasionale konteks te posisioneer, en hulle sorg vir baie befondsing."

Vertel 'n storie
Volgens Fourie benodig elke navorsingsdokument 'n verhaal waarby mense aansluiting kan vind, want dit help om die vraag oor "waarom behoort jy om te gee" te beantwoord.

“Ek glo daarin om jou navorsing toeganklik te maak vir 'n wyer gehoor. Om dit reg te kry, moet jy n storie vertel. Elke navorsingstuk moet oor 'n sentrale storie beskik wat boeiend en oortuigend is; al is dit nie maklik nie."

Wat motiveer jou?

“Dit is belangrik om te verstaan waarom jy doen wat jy doen. Om dit net te doen om bevorder te word, is nie genoeg rede nie. Om tot akademiese joernale en verenigings by te dra, kan nuttig wees, maar die doelwit is om iets te vind waaroor jy passievol is (vir jou navorsing)," sê Fourie.

Geniet dit

Fourie het gesê dit is belangrik om met mense te werk wie se geselskap jy geniet. “Jy gaan baie tyd saam met mede-outeurs deurbring, so doen dit met mense wat waarde toevoeg en wat jou energie gee.

“Moet ook nie skuldig voel om, wanneer jy 'n konferensie op 'n ander plek bywoon, pret te hê saam met kollegas nie, want dit is deel van die navorsingsproses. Dit is waar gelukkige toeval plaasvind. Dit gebeur nie wanneer jy in jou kantoor sit en iets aanlyn bywoon nie."

Om die kroon te span, is die volgende drie pryse aan deelnemers toegeken:

  • Beste plakkaat: Susan Goosen
  • Beste aanbieding deur 'n navorser vroeg in sy/haar loopbaan: Jacomien van der Merwe
  • Beste aanbieding deur 'n senior navorser: Prof Stephan Krygsman


  • ​ Om na 'n opname van prof Fourie se toespraak te luister, kliek hier.

  • Hooffoto​: V.l.n.r. is prof Johan Fourie (hoofspreker), dr Jaco Franken (organiseerder van die navorsingsdag) en prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.
  • Foto regs: Sprekers by die navorsingsdag van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe saam met die dekaan, prof Ingrid Woolard (voor in die middel), en organiseerder, dr Jaco Franken (in die agterste ry met wit hemp).
  • Foto's deur Ignus Dreyer, SCPS

    ResearchDay_2022_web.jpg