Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verower 3 toekennings by toonaangewende ‘Oscars vir die wetenskap’
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 26/07/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) het met drie pryse weggestap by die jaarlikse Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32 se toekenningsgeleentheid wat onlangs gehou is. Twee individuele navorsers, prof Guy Midgley en dr Wynand Goosen, is onderskeidelik met die Groen Ekonomie-toekenning en die TW Kambule-NWTF-toekenning vir ontluikende navorsers vereer, terwyl die US deel is van die nasionale genomika opsporingsnetwerk, NGS-SA, wat die Data vir Navorsing-toekenning ontvang het. Die hoofondersoeker en leier van die NGS-SA, prof Tulio de Oliviera van die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en die Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie (SERI), het die US by die geleentheid verteenwoordig.

Die gesogte jaarlikse NWTF/South32-toekennings staan as Suid-Afrika se “Oscars vir die wetenskap" bekend en erken, vier en beloon individue, spanne en organisasies se uitmuntende bydraes tot die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie in Suid-Afrika.

Prof Guy Midgley, tussentydse direkteur van die Skool vir Klimaatstudie en 'n professor in wêreldwye veranderingsbiologie in die Departement Plant- en Dierkunde, het die Groen Ekonomie-toekenning ontvang vir sy bydrae oor twee dekades om te help om die risiko's wat klimaatsverandering vir endemiese biodiversiteit en ekostelsels in die land en die res van die wêreld inhou, te verstaan. Hy is ook vereer vir sy bydraes tot die ontwikkeling van reaksie-opsies en openbare kommunikasie oor hierdie kwessies. Sy werk was belangrik om die afgelope twee dekades dringendheid tot die aanneming van toepaslike versagtende doelwitte te voeg deur bewyse op te stel en dit by twee belangrike beleidsforums, die Verenigde Nasies (VN) se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering en die VN se Konvensie oor Biologiese Diversiteit, aan te bied. Midgley se insluiting by die Reuters “Hot List" van die top 1 000 invloedrykste klimaatsveranderingwetenskaplikes in die wêreld getuig van die belangrikheid en invloed van sy baanbrekersnavorsing.

Midgley sê hy was verheug om die toekenning te ontvang. “Ek is oortuig daarvan dat die ontsluiting van die groen ekonomie die belangrikste stap is wat moderne samelewings kan doen om 'n veilige en billike toekoms vir almal te verseker. Ons moet nog baie leer oor hoe om na hierdie nuwe soort ekonomie oor te gaan, maar het min tyd om dit te doen. Ek hoop om voort te gaan om 'n positiewe bydrae tot hierdie poging te lewer."

Dr Wynand Goosen, 'n Wellcome Trust-dosent binne die Dieretuberkulose-navorsingsgroep in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, het die TW Kambule-NWTF-toekenning vir ontluikende navorsers verower vir sy werk tot dusver om TB by verskillende diere te identifiseer ten einde soönotiese TB uit te roei – iets wat steeds 'n groot gesondheidsprobleem in die wêreld is. Hy lei verskeie projekte om toetse te ontwikkel wat unieke immunologiemerkers in die bloed kan meet, die teenwoordigheid van TB-DNS in besmette respiratoriese monsters kan opspoor en TB-volgordebepaling direk van hierdie monsters kan verbeter. Goosen het ook 'n nuwe bloedmerker geïdentifiseer wat met vroeë infeksie verband hou, asook TB-DNS in respiratoriese monsters met hoë sensitiwiteit en het die volgorde van TB bepaal te midde van verskeie onderdrukkers. Hy het 'n aansienlike bydrae tot die uitroeiing van soönotiese TB in landelike gemeenskap in Suid-Afrika gelewer en gehelp om 'n konsepplan vir die bestuur van TB onder bedreigde wildspesies in die land op te stel.

Goosen sê dit was “werklik 'n reuse-eer om hierdie toekenning namens die Dieretuberkulose-navorsingsgroep in ontvangs te neem. Dit is die produk van baie jare se harde werk deur die groep".

“Om die wêreldwye openbare gesondheidslas van soönotiese TB aan te spreek, moet ons wetenskaplike bewyse verbeter, oordrag by die dier-mens-oordragskeidingsvlak verminder en tussensektorale en samewerkende benaderings uitbou. Gedurende die pandemie het ons 'n voorbeeld in die regte lewe belewe oor hoekom dit belangrik is om patogene aan te spreek wat mense en diere kan aansteek," voeg hy by.

Goosen sê die toekenning wys vir die groter wetenskaplike gemeenskap dat die NWTF en South32 beslis verstaan waarom dit so belangrik is om hierdie soort navorsing te ondersteun en uit 'n menslike openbare gesondheidsperspektief is dit baie goeie nuus vir Suid-Afrika.

  • Foto: Prof Guy Midgley, Dr Wynand Goosen en Prof Tulio de Oliviera.