Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Guy Midgley een van Reuters se invloedrykste klimaatwetenskaplikes
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 21/04/2021

​Die Universiteit Stellenbosch se Prof Guy Midgley is een van vier Suid-Afrikaanse wetenskaplikes wat op die Reuters Hot List van die top 1000 invloedrykste klimaatsveranderingwetenskaplikes ter wêreld gelys is.

Saam met Prof Midgley wat die 180ste plek op die lys beklee, is Prof Mark New (151) en Prof Chris Reason (722) van die Universiteit Kaapstad, en Prof Mark Jury (828) van die Universiteit van Zoeloeland. Prof Midgley staan aan die hoof van die globale veranderingsbiologie-navorsingsgroep in die US se Departement Plant- en Dierkunde.

Ten einde hierdie wetenskaplikes te kon identifiseer, het Reuters drie rangordes gekombineer wat gebaseer is op die aantal gepubliseerde klimaatsveranderingverwante navorsingsartikels; hoe dikwels hierdie artikels deur ander wetenskaplikes in soortgelyke studievelde aangehaal is; en hoe dikwels daar na hierdie artikels verwys is in die lekemedia, sosiale media, beleidsdokumente en ander platforms. Volgens die Reuters-webwerf, maak die Hot List nie daarop aanspraak om 'n ranglys van die “beste" of “belangrikste" klimaatwetenskaplikes ter wêreld te wees nie, maar is dit eerder 'n maatstaf van hulle invloed.

In hul poging om hierdie lys saam te stel, is minstens 350 000 navorsingsartikels bestudeer, waarvan 99% later as 1988 gepubliseer is. Volgens Reuters: “In 1988 het VSA wetenskaplike, James Hansen, voor die Kongres verskyn en getuig van sy navorsing oor die verwarming van die planeet. Meer as 30 jaar later het Hansen se voorspelling dat die gemiddelde globale temperatuur teen 2019 met ongeveer een graad Celsius sou styg, waar geword. Hansen se waarskuwing en sy en andere se pleidooie vir aksie is grootliks deur beleidmakers geïgnoreer, ten spyte van 'n magdom van bevestigende navorsing van daaropvolgende generasies van klimaatwetenskaplikes".

Prof Midgley sê verslae oor James Hansen se getuienis in 1988 het hom aangespoor om klimaatverandering as onderwerp vir sy PhD-tesis te oorweeg: “Ek het gefokus op hoe plante reageer op stygende CO2-vlakke. Vandag vermoed ons dat dié proses terestriële ekosisteme instaat stel om jaarliks ongeveer eenderde van CO2-vrystellings op te slurp".

Maar selfs meer betekenisvol, glo hy nie dat klimaatwetenskaplikes grootliks geïgnoreer word nie – bekend as die sogenaamde Cassandra-effek. Cassandra, in die Griekse mitologie Koning Priam se dogter, het die gawe van professie ontvang, maar ook die vloek dat sy nooit geglo is nie. “Jy kan werklik nie verwag om so 'n fundamentele afhanklikheid van fossielbrandstof soos ons s'n, oornag te verander nie. Die wetenskap het verseker die debat aansienlik in die rigting van oplossings geskuif, en daar is steeds tyd om 'n beter toekoms te verseker indien meer voordelige besluite geneem word," sê Midgley.

“My navorsingsgroep het sopas 'n nuwe skatting gepubliseer in samewerking met internasionale kollegas, wat handel oor die risiko's wat klimaatverandering vir endemiese, inheemse en indringerspesies inhou. Die boodskap is steeds: Ons het tyd om die ergste te vermy," sê hy.

Op die oomblik fokus sy navorsingsgroep op die funksionering van belangrike spesies in diverse Suid-Afrikaanse ekosisteme soos savannas, droë bossievelde, fynbos en riviermondings, en om dit dan in verband te bring met die veerkragtigheid van hierdie sisteme teen klimaatsaandrywers.​