Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
BSc-graad in Lewenswetenskappe was ’n eerste stap na ’n loopbaan in neurofisiologie
Outeur: Laura van Laeren (Faculty of Science: Media and Communication)
Gepubliseer: 29/06/2022

​“Ek dink om in enige wetenskapsveld te werk, moet jy 'n absolute liefde en passie daarvoor hê. Ek glo dat as jy lief is vir wat jy doen, dit nie voel soos werk nie." – Liné Visser, BSc in Menslike Lewenswetenskappe, stroom: Biologie (2014) van die Universiteit Stellenbosch University en 'n B-Tech-graad in Neurofisiologie van die Tshwane Universiteit van Tegnologie

Liné Visser het in 2014 'n BSc in Menslike Lewenswetenskappe, stroom: Biologie (met Fisiologie en Biochemie as hoofvakke) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Daarna het sy 'n Nasionale Diploma in Neurofisiologie, asook 'n BTech-graad in Neurofisiologie aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie verwerf. Liné werk tans as 'n kliniese neurofisioloog by Groenkloof Hospitaal in Pretoria.

“Om as neurofisioloog te werk is baie interessant en verander voortdurend," sê Liné. “Daar is elke dag nuwe dinge wat na vore kom, jy kan nie verveeld raak nie. Dit is 'n absolute plesier om elke dag mense te ontmoet en met mense te werk. Kenmerkend sal die neuroloog saam met wie ek werk, my soggens laat weet of daar enige toelatings die vorige aand was met wie ek moet konsulteer. Dit doen ek eerste. Van 10 uur af het ek pasiëntbesprekings vir die res van die dag. In my huidige pos behels my konsultasies elektroënkefalogramme (EEGs), waar ons breingolfaktiwiteite vaslê en interpreteer ten einde dokters te help om neurologieverwante diagnoses soos epilepsie te maak, of senuweegeleidings (NCS) en elektromiogramme (EMG), waar ons perifere senuwees stimuleer en resultate vaslê ten einde aangetaste of beskadigde senuwees te kan identifiseer. Ons gee relevante inligting aan die verwysende dokter wat hulle in staat stel om spesifieke siektes van die senuweestelsel te kan diagnoseer."

Liné se BSc-graad was die eerste stap na haar loopbaan in neurofisiologie en het 'n belangrike grondslag gelê. “As gevolg van my tyd by die US, floreer ek waar ek my vandag bevind," sê sy. “Alhoewel ek nie werk in die veld waarmee ek aanvanklik begin het nie, het my tyd aan die US terwyl ek my BSc gedoen het, my gemaak wat ek vandag is, en het dit my forseer om al die belangrike lewensvaardighede te leer wat ek daaglik gebruik. Wat ek daar geleer het, is veel meer as wat ek in 'n lesingsaal kon leer.  

“Ek dink om in enige wetenskapsveld te werk, moet jy 'n absolute liefde en passie daarvoor hê. Ek glo dat as jy lief is vir wat jy doen, dit nie voel soos werk nie. As jou hart nie daarin is nie, soek totdat jy jou plekkie vind," sluit sy af.

Hierdie BSc-alumnus profiel is deel van die Fakulteit Natuurwetenskappe se #100LoopbaneinNatuurwetenskappe. E-pos ons gerus by science@sun.ac.za indien jy die verloop van jou loopbaan met huidige BSc-studente wil deel.

Foto: Liné Visser. Foto verskaf