Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Neelsie Bioskoop opgeknap en reg om te vermaak
Outeur: Innovus & SUNCOM
Gepubliseer: 14/06/2022

​Die volgende keer as jy Neelsie toe gaan, onthou om te gaan inloer by die nuut-opgeknapte Neelsie Bioskoop wat spog met 'n pragtige nuwe voorkoms. Die opgeknapte veeldoelige ruimte huisves twee teaters – 'n 121-sitplek en 'n 98-sitplek – wat toegerus is met moderne projektors, kragtige omringklank en beligting. Die luukse sitplekke met wegvou-skryftafeltjies, sal bydra tot die multifunksionaliteit van die lokale en die algehele besoekerservaring verbeter.

​Die ouditorium is gesellig genoeg om alle soorte geleenthede aan te bied, insluitend private filmvertonings, korporatiewe vergaderings, praatjies, werkswinkels, fondsinsamelings, bekendstellings, verjaarsdagpartytjies (van kinderpartyjies tot mylpaalvieringe), en soveel meer.

“Dit is die visie van die Universiteit Stellenbosch om die ruimte tot sy maksimum voordeel te gebruik, en op sy beurt 'n onvergeetlike ervaring deur middel van 'n hoë-tegnologie multifunksionele lokaal vir sowel studente, as 'n integrale deel van die kuns- en filmgemeenskap, asook die res van die kampus en korporatiewe sakevennote," sê Catherine Channing, bestuurder van CECO (Central Events and Conferencing Office) wat nou die nuwe huurder van hierdie ruimte is. Channing sê hulle beplan verskeie opwindende geleenthede, insluitend 'n filmfees, in die volgende paar maande.

Die ikoniese bioskoop sal die tuiste vir die Pulp Film Society bly en gereelde rolprentvertonings vir sy lede sal voortgaan. Die vereniging het ook sy eie spesiale area waar lede gesellig kan verkeer.

"Die ondersteuning tot dusver was wonderlik," voeg Channing by, "en ons is opreg opgewonde om te sien hoe die gemeenskap hierdie pragtige ruimte benut."

Besprekings is oop vir geleenthede. Stuur asseblief 'n e-pos aan events@sun.ac.za vir enige navrae.