Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie ontvang medalje vir dapperheid in Londen
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 07/06/2022

Brandon Visser, 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US), sal in Junie 2022 stilweg die dag 'n jaar gelede herdenk toe hy naby Londen-brug (London Bridge) in die Teems gespring het om 'n vrouedrenkeling te red.

Vir hierdie onbaatsugtige daad het die Royal Humane Society, 'n Britse liefdadigheidsorganisasie wat erkenning gee vir dade van dapperheid om lewens te red, onlangs 'n brons medalje aan hom toegeken.

Brandon, wat besig was om vir 'n marathon voor te berei, het in daardie stadium al 16 km van 'n beplande 30 km-oefensessie afgelê toe hy 'n groep mense op die brug gesien het wat na 'n vrou in die water staar.

“Ek het nog nooit vantevore daardie roete gedraf nie en dit het dus gevoel asof ek dalk bedoel was om daar te wees," onthou hy. 'n Man het hom genader om te vra of hy kan help en hy moes in 'n kort tydjie 'n reuse-besluit neem – gaan hy probeer om die vrou se lewe te red, of gaan hy staan en kyk hoe sy verdrink?

Brandon het kompeterende waterpolo vir sowel Paul Roos Gimnasium as Maties in sy tuisdorp Stellenbosch gespeel en is 'n ervare swemmer met kennis van waterredding.

“Ek het besef ek is waarskynlik haar beste kans," vertel hy.

Dit het egter ook by hom opgekom dat die Teems se water baie gevaarlik is en dat 'n man 'n paar weke gelede in 'n soortgelyke reddingspoging op dieselfde plek verdrink het.

Nieteenstaande het Brandon besluit om 'n poging aan te wend. Ongelukkig was die water redelik vlak waar hy ingespring het. Hy het rotse getref wat nie eers twee meter onder die wateroppervlak was nie en sy voet op verskeie plekke gebreek, sy kraakbeen sowel as sy PKL-ligament in sy knie geskeur, én ernstige beenkneusings en snye aan sy voete opgedoen.

Ten spyte daarvan het hy geswem na waar die vrou laas gesien is.

“Mense het vir my uitgewys waar sy onder die water verdwyn het en ek kon haar vind en optrek. Ek was net so verlig dat sy nog leef. Sy het onmiddellik begin spartel. Ek het dit verwag, maar dit was baie moeilik."

Hy het dit reggekry om wal toe te swem en hulle is albei hospitaal toe geneem.

Hy weet dat die vrou oorleef het, maar sy het hom nog nooit gekontak nie.

“Ek verwag ook nie om van haar te hoor nie, maar ek hoop dit gaan goed met haar."

Brandon moes 4-5 maande op krukke deurbring en het hom sedertdien op herstel en rehabilitasie toegespits. Hy hoop om op die herdenking van die redding 'n halfmarathon te voltooi.

Hy het die toekenningseremonie as 'n baie spesiale geleentheid beskryf.

“Dit was voorwaar 'n eer om daar te wees en hierdie toekenning by Prinses Alexandra te ontvang. Dit is nie aldag dat jy die koningin se niggie ontmoet nie. Daar was 'n paar ongelooflike verhale van mense wat onbaatsugtig opgetree het en hul lewe op die spel geplaas het om ander te red. Dit was fantasties om deel van soiets te wees."

Mense vra hom dikwels of hy weer dieselfde sou doen.

“My antwoord is beslis ja. Jy kan nie 'n prys op iemand se lewe plaas nie."

  • Brandon het sy BCom-graad in Statistiek in 2012 aan die US behaal en in 2019 na Londen verhuis waar hy in finansiële tegnologie in die data- en ontledingveld werk.