Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rekenaarwetenskap-afdeling beloon topstudente
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 02/06/2022

​Die Van der Walt-medalje vir 2021 se beste derdejaarstudent in Rekenaarwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, is op 27 Mei 2022 aan Brendan Watling toegeken tydens 'n spesiale seremonie by die Afdeling Rekenaarwetenskap.

Die medalje is deur me. Nettie van der Walt, weduwee van wyle prof Andries van der Walt, oorhandig. Prof Van der Walt na wie die medalje vernoem is,  het in die jare 2000 'n belangrike rol in die Rekenaarwetenskap-afdeling gespeel. Brendan het ook 'n kontantprys van Praelexis ontvang vir sy prestasie, terwyl die naaswenner, Emile Ferreira, 'n kontantprys van EPI-USE Labs gekry het.

Nagraadse studente Dylan Callaghan en Caleb Zeeman het geskiedenis gemaak toe die Rekenaarwetenskap-afdeling nie 'n onderskeid kon maak tussen hul prestasie nie: hulle is gesamentlik aangewys is as die beste honneursstudent, en deel ook die prys vir die beste honneursprojek. Hulle prysgeld is geborg deur Alphawave/EMSS en Vastech.

Ander pryswenners was Iain le Roux en Jean Weight (beste eerstejaarstudente) met Danielle Kleyn in die tweede plek; en Liam Foxcroft (beste tweedejaarstudent) met Emil van der Walt in die tweede plek. Emil is ook die kleinseun van wyle Prof Andries van der Walt. Hulle kontantpryse is geborg deur EPI-USE Labs​. Kevin Brand het die toekenning gekry vir die beste honneursstudent in masjienleer.

Gdurende die funksie het die verteenwoordigers van die borgmaatskappye finalejaarstudente aangemoedig om vir internskappe aansoek te doen.  Vastech bied byvoorbeeld 'n winter internskapprogram van vier weke, terwyl Daniël Botha van Alphawave die belangrikheid om deel van 'n bemagtigde span te wees, beklemtoon het.  

Praelexis se direkteur Dr McElory Hoffmann, het die pryswenners daaraan herinner dat hulle tyd moet maak om hulle harde werk van die afgelope paar jaar te vier.

Prof Brink van der Merwe, hoof van die Afdeling Rekenaarwetenskap, het die maatskappye vir hul borgskappe bedank, en veral hul betrokkenheid by die bevordering van rekenaarwetenskap by die US.