Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gevorderde program in volhoubare ontwikkeling bekend gestel
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 20/05/2022

In 'n poging om entrepreneurs te lewer wat tot 'n regverdige en volhoubare toekoms in Suid-Afrika kan bydra, het die Universiteit Stellenbosch onlangs aangekondig dat 'n nuwe program, 'n gevorderde diploma in volhoubare ontwikkeling, vanaf 2023 by sy programaanbod gevoeg word.

Dié program sal deur die Skool vir Publieke Leierskap in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied word.

Volgens dr Ruenda Loots, dosent in die Skool vir Publieke Leierskap, vereis die toenemend ernstige krisisse wêreldwyd kreatiewe en dapper oplossings aan die hand van etiese besluitneming en vernuwende leierskap.

“In hierdie tye van groot onrus, spanning en verandering (beide positief en negatief), is daar 'n behoefte om kritiese denke te ontwikkel, sinvol saam te kan werk en innoverend en volhoubaar te werk te gaan."

Sy voeg by dat die Gevorderde Diploma in Volhoubare Ontwikkeling as gevolg van die Kode vir Verantwoordelike Investering in Suid-Afrika (CRISA), die opkoms van impakinvestering en Suid-Afrika se verbintenis tot die oorgang na 'n groen ekonomie ontwikkel is.

“Of jy jou eie onderneming wil begin, bydra tot toegevoegde waarde as werknemer, of as 'n besigheidskonsultant wil optree, hierdie program sal jou help om die nodige vaardighede te bekom om sake-idees met CRISA-beginsels te belyn en aan die vereistes van impakbeleggers te voldoen."

​Dié een jaar lange program wat in hibriede formaat aangebied gaan word, sal die volgende modules bevat:

  • Volhoubaarheid in die Digitale Era (30 krediete, Kwartaal 1 en Kwartaal 2)
    Hoe kan digitale tegnologie ons help om volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te bereik?
    Hierdie module ondersoek relevante tegnologieë wat die Vierde Industriële Rewolusie aandryf en probeer vasstel watter van die tendense en ontwikkelings werklik volhoubaar is. Jy sal waardes, etiek en leierskap in die digitale ruimte bespreek, met die fokus op verantwoordelike belegging en impakbelegging. Dié kennis sal die grondslag lê vir verdere idees en innovering in die module oor entrepreneurskapsontwikkeling.
  • Navorsingsbenaderings (15 krediete, Kwartaal 1)
    Hoe kan ons navorsing op transformerende en samewerkende maniere doen?
    Hierdie module ondersoek metodes wat jou sal help om probleme te identifiseer wat die moeite werd is om op te los en om die impak van jou oplossings te toets. Jy sal jou kritiese denke en skryfvaardighede aanwend om oortuigende argumente vir sosiale verandering te formuleer. Hierdie module berei jou daarop voor om metodes vir spesifieke dissiplines te oorbrug op pad na integrasie en samewerking ter wille van innovasie.
     
  • Besigheidsplanne en -strategieë (15 krediete, Kwartaal 2)
    Hoe kan ondernemings positiewe veranderings teweegbring?
    Of jy nou jou eie onderneming wil begin of ander op hul sakereis wil begelei, hierdie module sal jou met die teoretiese kennis toerus om sakeplanne te formuleer wat op verantwoordelike impakbelegging gemik is. Jy sal hierdie kennis aanwend om jou idees in werking te stel in die module oor entrepreneurskapsontwikkeling.
     
  • Entrepreneurskapsontwikkeling (60 krediete, Kwartaal 3 en 4)
    Vra dapper vrae. Skep betekenisvolle antwoorde.
    In hierdie module sal jy jou entrepreneurskapsvaardighede versterk deur middel van spel, eksperimentering, simulasies, debatte, scenariobeplanning en nog meer. Deur selfgerigte leer en ondersteunende prosesse sal jy innovasie vir volhoubare tegnologie ondersoek. Boonop sal jy jou vaardighede oefen om idees in 'n saak te omskep wat mense wil ondersteun.

Om vir hierdie program oorweeg te word, moet kandidate in besit wees van 'n diploma (NKR-vlak 6) of Baccalaureusgraad (NKR-vlak 7) van 'n erkende tersiêre instelling in vakke/velde wat belyn is met die fokus van die gevorderde diploma, bv. volhoubare ontwikkeling, entrepreneurskap, besigheidstudies, ekonomie of innovasie.

Aansoeke

Die amptelike aansoekvorm van die Universiteit is by www.maties.com beskikbaar. Skep 'n aansoekersprofiel en kies dan die volgende onder Programkeuse (Programme Selection):

  • Fakulteit: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-Stellenbosch
  • Programtipe: Voorgraads
  • Program: GevDipl(Volhoubare Ontwikkeling) of AdvDip(Sust Development)

Die departementele aansoekvorm sal per e-pos aangestuur word binne drie weke nadat die universiteitsaansoek voltooi is.