Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Khairoonisa Foflonker
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 18/05/2022

Sedert sy haar in 2017 by die Universiteit Stellenbosch (US) aangesluit het, werk Khairoonisa Foflonker, bestuurder van die Afdeling Studentesake op ons Tygerbergkampus, daagliks met verskeie rolspelers saam om te sorg dat die US menswaardige, bemagtigende en eerbiedige studentesteundienste voorsien.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Hieronder verduidelik Khairoonisa wat haar werk alles behels.

Wat behels jou rol by die US?

Die Studentesakekantoor op Tygerbergkampus is tot stand gebring toe ek my in Julie 2017 by die Universiteit aangesluit het. Ek is hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik om strategiese rigting te voorsien en verskillende steun- en ontwikkelingswerksaamhede vir studente te koördineer, waaronder koshuis- en pendelaar gemeenskap- sowel as psigososiale steun. Kortom bied ek 'n veilige ruimte en sentrale verwysingspunt vir steundienste op Tygerbergkampus.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

In my rol is elke dag anders. Ek hanteer gewoonlik studentesteunnavrae en soek na oplossings wat studente sal bemagtig en institusionele strukture en prosesse sal verbeter. Studente maak dalk 'n afspraak omdat hulle akademies uitsak. Nadat ek vertroulik met die persoon gesels het, ontdek ek moontlik onderliggende oorsake, soos mishandeling by die huis, voedselonsekerheid, ensovoorts. Ek verwys hulle dan na die tersaaklike steundienste, soos die maatskaplike werker op kampus, die Eenheid vir Gelykwaardigheid, voorligtingsdienste en/of 'n tutor.

Ek werk ook sy aan sy met verskeie rolspelers, waaronder programkoördineerders, studenteleiers en steunpersoneel, om die studente-ervaring te verbeter. Hierdie samewerking loop dikwels uit op die samestelling van kwessiespesifieke taakgroepe om uitdagings soos voedselonsekerheid die hoof te bied, 'n beleid te hersien, belangrike sosialegeregtigheidskwessies soos geslagsgebaseerde geweld te ondersoek, of 'n nuwe bewusmakingsveldtog oor aktuele onderwerpe soos kuberboeliery van stapel te stuur.

Ek's ook verantwoordelik vir krisisbestuur. As die noodskakelbeampte op Tygerbergkampus, moet ek sorg dat alle betrokkenes van enige noodgeval bewus is en die nodige maatreëls instel. En dan fasiliteer ek ook werksessies oor interkulturele nederigheid vir studente.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?

Ek het die graad BSosWet in Politieke Wetenskappe en Sielkunde sowel as 'n MPhil in Sosiologie (Diversiteitstudie) aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verwerf. Ek het ook 'n beurs en uitruilgeleentheid aan die Universiteit van Oldenburg in Duitsland ontvang. Daar het ek my magistertesis oor daaglikse rassisme en xenofobie in die Duitse onderwysstelsel geskryf.

As 'n student, het ek aanklank gevind by kritiese diversiteitsgeletterdheid, postkoloniale teorie en die sosialegeregtigheidsbenadering van Diversiteitstudie. Dié spesialisdissipline in die Sosiologie het my in staat gestel om asimmetriese magsverhoudinge akkuraat te identifiseer en daarop kommentaar te lewer, en om 'n krities betrokke en selfbesinnende individu te word.

Ek was ook 'n dosent, navorser, opleier en fasiliteerder van transformasieprojekte by die UK se voormalige Eenheid vir Interkulturele en Diversiteitstudie, wat later na Wits verskuif het, sowel as in hulle voormalige Transformasiekantoor, wat sedertdien in die Kantoor vir Inklusiwiteit en Verandering omskep is.

My studie en opleiding het my toegerus om met personeellede en studente te skakel om steundienste te verbeter sodat alle studente dit as menswaardig, bemagtigend en eerbiedig ervaar.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek floreer as ek deur mentorskap of opleiding met mense kan omgaan. Leierskapsopleiding in die hoëronderwyssektor maak my net méér vasberade om 'n meer inklusiewe toekoms te help skep deur verhoudings tussen mense uit uiteenlopende sosio-ekonomiese en kulturele omstandighede te bou. Ek's in my element wanneer ek werksessies oor interkulturele nederigheid, diversiteit en insluiting fasiliteer vir ons studente en studenteleiers in die kursus Fasiliterende Leierskap via die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut, sowel as vir mediese studente in die module Dokter as Agent van Verandering.

Vertel ons iets interessant van jouself wat min mense sou verwag?

Ek het myself 'n paar jaar gelede uitgedaag om dinge op die proef te stel wat my bang maak, so toe valskermsweef ek die een dag vanaf Leeukop. Ek het ook onlangs met mosaïekklasse begin as 'n manier om my op kunsgebied uit te leef én stres hok te slaan.

Fotograaf: Wilma Stassen