Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Selina Seshabela
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 13/05/2022

Selina Seshabela staan aan die stuur van die Universiteit Stellenbosch (US) se Kontak- en Kliëntedienssentrum, die eerste kontakpunt vir belanghebbendes wat op soek is na hulp met 'n verskeidenheid US-verwante sake. Die Kontak- en Kliëntedienssentrum in die verantwoordelikheidsentrum van die Registrateur is 'n veeleisende werksomgewing wat aanpasbaarheid en innovasie verg om voortdurend wêreldklasdiens te lewer – iets waarin Selina uitblink.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Ons het Seshabela, wat haar in 2021 by die US aangesluit het, oor haar werk uitgevra.

Wat behels jou rol by die US?

My rol is om uitnemende kliëntediens te voorsien deur die kliëntediensspan te lei, prosesse te ontwikkel en beleide en prosedures in te stel wat op studente, ouers en werknemers se immer veranderende behoeftes reageer en tred hou met nuwe ontwikkelings in hulpinfrastruktuur en -stelsels. As 'n kliëntediensbestuurder, is ek die hoofverteenwoordiger van die organisasie, so ek moet iets van alles weet en die Universiteit se stelsels, prosesse en werksaamhede oor verskillende omgewings heen verstaan om die kliënte-ervaring te stroomlyn. Daarvoor moet ek ten volle in pas wees met die instelling se waardes en strategiese inisiatiewe om die kliënte-ervaring deur alle kanale te verbeter.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

My werk is onvoorspelbaar, want elke navraag is uniek, en dus is elke dag anders. Die dag begin met 'n 15 minute lange spanvergadering oor die vorige dag se navrae, waar ons ook nuwe ontwikkelings bespreek waaroor ons toekomstige navrae kan ontvang. Daarna lees ek e-pos en hanteer die verwysing van navrae oor 'n koppie koffie, wat my dag behoorlik skop gee. As kliënte se eerste kontakpunt, woon ek ook vergaderings met verskillende US-omgewings by om op hoogte te bly van gebeure in die onderskeie afdelings én die impak wat dit op ons kliënte het. Ek doen ook gedurig navorsing oor bedryfstendense.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei? 

Ek het meer as nege jaar se leierskapservaring in kliëntediens in verskillende snelbewegende omgewings waar werknemerprestasie en -welstand sowel as die voorsiening van 'n kliënte-ervaring van wêreldgehalte topprioriteite was. My rol was nog altyd om toesig te hou oor daaglikse werksaamhede, opleidingsbehoeftes te identifiseer, prestasiebeoordelings te onderneem, werknemerverhoudinge te bestuur, hulptegnologie aan te beveel, prosesse te stroomlyn, en aan nuwe personeelaanstellings deel te neem. Ek beskik oor die graad HonsBCom in Bedryfsielkunde. Ek is lief vir mense, en passievol oor werknemergedrag en -ontwikkeling, so Bedryfsielkunde was 'n natuurlike keuse vir my.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Wat ek die meeste geniet, is om deel te wees van die US-gemeenskap, wat diverse kulture erken en verwelkom. Almal vergestalt waarlik die gesegde “Umuntu ngumuntu ngabantu" ('Ek is, want ons is'); niemand word agtergelaat nie, en samewerking en transformasie geniet voorrang. Ek is mal daaroor dat die instelling werknemerontwikkeling aanmoedig. Boonop geniet ek dit om tot individue se groei en prestasie by te dra.

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag?

Ek's 'n hoofsanger by die kerk.

​Fotograaf: Stefan Els