Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Dannica Pedro
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 09/05/2022

Dannica Pedro is deel van 'n innoverende span wat toegewyd werk om 'n omgewingsvolhoubare Universiteit Stellenbosch (US) te verseker. Sy is die omgewingsvolhoubaarheidskoördineerder vir ons universiteit se verskillende kampusse en werk vanuit Fasiliteitsbestuur. Dannica is passievol oor haar werk en ondersoek voortdurend nuwe en kreatiewe idees om die volhoubaarheid van kampusbedrywighede te verbeter.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Hieronder beantwoord Dannica ons vrae oor haar werk.

Wat behels jou rol by die US?

My rol is om die US se kampusbedrywighede positief te beïnvloed sodat die kampus op 'n omgewingsvolhoubare manier funksioneer.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Aan die begin van die dag werk ek gewoonlik deur my e-posse en notaboek om my kop agtermekaar te kry vir die take wat voltooi moet word. My dae is gewoonlik 'n kombinasie van vergaderings met my span of konsultante, terreinbesoeke, sperdatums, datasamestelling, die nagaan van fakture, en skakeling met personeellede en studente oor hulle belangrike rol in omgewingsvolhoubaarheid op kampus. Fasiliteitsbestuur is 'n snelbewegende werksomgewing waar die lys projekte en bedrywighede daagliks langer word. Ek het geleer dat dit goed is om jou dag te beplan; nietemin moet 'n mens ook vir die onvoorsiene voorsiening maak.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei? 

Ek het my eerste graad in Ontwikkeling- en Omgewingstudie aan die US behaal en daarna by die IT Hub gewerk terwyl ek my Nagraadse Diploma in Volhoubare Ontwikkeling by die Volhoubaarheidsinstituut voltooi het. Nadat ek my diploma verwerf het, het ek 'n internskap by Fasiliteitsbestuur voltooi, waar ek verskeie take en verantwoordelikhede gehad het. Hierdie vorige ervarings het my toegerus om uitdagende projekte en bedrywighede met selfvertroue en duidelike rigting aan te pak.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die Universiteit?

Om elke dag wakker te word met die wete dat ek 'n verskil sal ​maak en ons planeet sal help beskerm. Die beloning van werk op die gebied van omgewingsvolhoubaarheid kom in die vorm van korttermyn- en langtermynontleding van ons weeklikse nutsdiensprestasie, asook in die monitering van inisiatiewe om ons verbruik verder te verminder en in die evaluering van ons kampusse se algehele prestasie op grond van die koolstofvoetspoorverslae.

​My rol stel my in staat om met nuwe, kreatiewe en innoverende idees vorendag te kom om omgewingsvolhoubaarheid op ons kampusse op die voorgrond te plaas. Ek's nie die heeltyd aan my lessenaar gekluister nie, want ek onderneem ook terreinbesoeke of woon vergaderings oor die hele kampus by, en neem deel aan konferensies, kursusse en geleenthede in die wyer Bolandstreek. Ek geniet dit baie om met die verskillende departemente van die US te skakel, want dit bou sterk werksverhoudinge vir toekomstige samewerking aan kleiner én meer omvangryke projekte op kampus.

Vertel ons iets interessant van jouself wat min mense sou verwag?

Teken en skilder is van my gunstelingstokperdjies, en ek is al heel bedrewe daarmee. Wat skilder betref, geniet ek dit om landskappe in een kleurtoon óf verskillende helder kleure te verf, na gelang van die seisoenstoneel wat ek wil vasvang. Wanneer ek teken, verkies ek om mense in karakter te skets. Ek werk tans aan 'n manga-/strokiesprentboek wat ek graag eendag sal wil uitgee ... wanneer ek dit uiteindelik klaarmaak.

Foto: Stefan Els