Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Eenheid vir Gelykwaardigheid stel aanlyn aanmeldingsinstrument bekend
Outeur: Equality Unit
Gepubliseer: 19/04/2022
Studente en personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) het nou ’n nuwe aanlyn gevallebestuursplatform tot hulle beskikking om voorvalle van onbillike diskriminasie en teistering aan te meld. 

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid, wat aan die spits gestaan het van die inisiatief, het sorgvuldig te werk gegaan om ’n webgebaseerde platform te skep waar klaers voorvalle, oortredings en klagtes moeiteloos, vertroulik en veilig kan aanmeld. 

"As deel van ons werk om die impak van die Eenheid vir Gelykwaardigheid te versterk, was dit belangrik om te sorg dat die Eenheid met die doeltreffendste gereedskap toegerus word om hulle belangrike opdrag namens ons instelling uit te voer," sê prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig. 

"Daarom is ek ingenome met die implementering van die aanlyn aanmeldingsplatform, wat aanmelding en monitering sal versterk en gevalle sal help hanteer," sê prof Ramjugernath.

Die platform is soortgelyk aan die aanmeldingsmeganismes van ander Suid-Afrikaanse universiteite. Dit sal ’n meer bemagtigende omgewing skep om voorvalle aan te meld, en die US beter insig bied in geslagsgebaseerde geweld en vorme van onbillike diskriminasie. Beter databestuur en gesentraliseerde aanmelding sal boonop risikobeheer versterk en die uiteindelike uitwissing van onbillike diskriminasie en teistering op kampus ondersteun.  

“Die implementering van geïntegreerde gevallebestuur en aanlyn aanmelding het noodsaaklik geword,” sê Jaco Greeff Brink, hoof van die Eenheid vir Gelykwaardigheid. 

"Noudat studente en personeellede onbillike diskriminasie en teistering op hierdie manier kan aanmeld, sal dit die US help om tendense beter te verstaan, verantwoordbaarheid te versterk, en verslagdoening aan senior bestuurslede te verbeter. Dít sal lei tot doeltreffender beheer oor risiko’s in die kampusomgewing, en die vermoë om kwessies flink en verantwoordelik te hanteer. 

"Die aanmeldingsblad gee personeellede en studente meer mag om voorvalle van enige plek af aan te meld en bystand van die span by die Eenheid vir Gelykwaardigheid en ander steundienste te bekom," voeg hy by.

Die aanlyn aanmelding- en moniteringsplatform laat anonieme aanmelding toe, hoewel dít behoorlike assessering deur die Eenheid vir Gelykwaardigheid kan vertraag. 

Die platform: 
• skep ’n duidelike prentjie van moontlike risiko’s;
• integreer bestaande data en inligting in ’n gesentraliseerde databasis;
• skep toegespitste bewustheid en begrip van aangemelde kwessies; en 
• help klaers om ingeligte besluite te neem en toegang tot steundienste te bekom. 

Dit sal aanmelding, monitering en ontleding soomloos integreer.

Personeellede en studente kan ook steeds die Eenheid se instapdiens of die e-posadres unfair@sun.ac.za gebruik om voorvalle aan te meld, maar word aangemoedig om die webgebaseerde platform te benut. 

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid hoop dat die bekendstelling van die aanlyn aanmelding- en moniteringsplatform studente en personeellede die moed sal gee om na vore te kom en alle voorvalle van onbillike diskriminasie en teistering aan te meld.

Om ’n klagte in te dien, gaan na https://ciims.sun.ac.za/ReportingPage/.