Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD karteer genoom van kritiek bedreigde Afrika-wildehond
Outeur: Faculty of Medicine and Health Sciences (Sue Segar)
Gepubliseer: 05/04/2022
​Wanneer Christina Meiring haar PhD in Molekulêre Biologie vandag (5 April) van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang, merk dit die voltooiing van die eerste grootskaalse ondersoek in die genetiese diversiteit van die Afrika-wildehondbevolking in die Kruger Nasionale Park (KNP).

Meiring het saam met die Diere-TB Navorsingsgroep aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gewerk. Haar studie oor die kritiek bedreigde Afrika-wildehond lê die fondasie vir toekomstige genomiese toetsing om bewaringspogings te bestuur.

Die grootste selfonderhoudende Afrika-wildehondbevolking in Suid-Afrika is in die KNP. Die oorblywende bevolkings is wyd verspreid en hulle oorlewing is te danke aan menslike intervensies.   

In ʼn onderhoud het Meiring (26) gesê dat sy haar navorsing gaan voortsit as ʼn nadoktorale genoot by die Diere-TB Navorsingsgroep en die TB Gasheergenetika Navorsingsgroep.

“Ek het hierdie projek – wat in 2018 begin het – terdeë geniet. Ek is dol oor my werk," het sy gesê, en bygevoeg dat sy haar navorsing gaan uitbrei na verskillende Afrika-wildehondbevolkingsgroepe in Suid-Afrika en Zimbabwe.

Tydens haar projek het sy twee keer die KNP besoek en gesien hoe monsters by wildehonde geneem word. “Ek is dol oor hierdie diere. Ek hou graag hulle gedrag dop," het sy gesê van die enigmatiese wildehonde. “Hulle is fassinerend, uniek en charismaties. Hulle is sorgsame, pragtige diere en is baie liefdevol teenoor hulle kleintjies. As ʼn wildehond beseer is, sal hulle alles in hulle vermoë doen om dit te help om te oorleef. Hulle is nie soos ander karnivore wat verswakte lede uitskop nie. Hulle unieke pels-patrone, die geluide wat hulle maak, en hulle suksesvolle jagtogte is merkwaardig."

Meiring is in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) gebore, en het grootgeword op ʼn sitrusplaas in Kirkwood in die Oos-Kaap. Haar ouers is baie lief vir die natuur, en tydens haar kinderjare het die familie baie tyd by die Addo Olifant Nasionale Park deurgebring. “Ek het my pa se liefde vir die buitelug geërf, en wetenskap, biologie en wilde diere het my nog altyd geïnteresseer."

Sy het haar BSc in Menslike Lewenswetenskappe voltooi, gevolg deur ʼn honneursgraad in genetika voordat sy besef het dat sy “meer geïnteresseerd is in diere as mense. Vir my meesters het ek op dierenavorsing gefokus, veral genetika, aangesien ek tydens my voorgraadse studies besef het dat ek baie in genetika belangstel.

“Ek het ʼn tweelingsuster, Elizabeth (Libby), wat ʼn MSc in embriologie gedoen het en by ʼn infertiliteitskliniek in Nederland werk. Om een van ʼn tweeling te wees, het my selfs meer in genetika laat belangstel."

Volgens Meiring is die oorlewing van die Afrika-wildehond (Lycaon pictus) geraak deur menslike- en ander konflik, asook die verlies van habitat en siekte.

“Tot gevolg is daar ʼn beperkte aantal individuele honde wat die genetiese poel kan onderhou. Hierdie klein bevolkings verloor genetiese diversiteit aangesien individue meer geneig is om met nabye familielede te paar (inteling), wat lei na ʼn afname in fiksheid en beperk hulle vermoë om by uitdagings, soos omgewingsveranderinge of siekte, aan te pas.

“Die infeksiesiekte, bees-tuberkulose, wat veroorsaak word deur Mycobacterium bovis, het onlangs sterftes onder wildehonde regoor Suid-Afrika veroorsaak, en ons weet nie regtig hoe hierdie siekte hierdie spesie raak nie. Die ondersoek na die genetiese diversiteit van hierdie spesie is ʼn lewensbelangrike komponent wat die beplanning van bewaringstrategieë ondersteun, maar dit was nog nooit voorheen gedoen nie."

“Die volle prentjie van die genetiese samestelling van individue van ʼn populasie is belangrik, aangesien dit waarskynlik die beste manier is om die genetiese diversiteit te bewaar om sodoende hulle fiksheid en aanpasbaarheid te bevorder."

ʼn Tegniek genaam heel-genoom volgordebepaling is gebruik om die volledige genetiese kode van 71 wildehonde (van bloedmonsters) in die KNP te bekom. Dit het die vergelyking van individue moontlik gemaak.

“Ons hoop hierdie studie lê die fondasie om genomiese profiele te ontwikkel wat vir strategiese bevolkingsbestuur gebruik kan word."

Meiring se navorsing het bevind dat Afrika-wildehonde waarskynlik met bees-TB besmet word deur middel van besmette prooi.

Volgens haar is hierdie bevindinge belangrik aangesien “die nagevolge van ʼn ontluikende infeksiesiekte op ʼn bevolking met lae vlakke van genoomvariasie, die langtermyn lewensvatbaarheid van Afrika-wildehonde bedreig. Dit is belangrike inligting om in ag te neem met die beplanning van toekomstige bewaringsaksies vir hierdie spesie."

Meiring se ouers sal haar toejuig by die gradeplegtigheid. “Hulle het ʼn hoofrol gespeel in my sukses en was baie ondersteunend van, en geïnteresseerd in my navorsing. Tydens die inperking die afgelope twee jaar het ek my PhD saamgestel op die plaas – ʼn ideale omgewing.

Sy het hulde betoon aan haar “mees merkwaardige studieleiers" – proff Michele Miller en Marlo Möller, en haar “mentor en vriend", prof Paul van Helden, vir sy reusebydrae tot haar projek.

“Ek is bly om my PhD klaar te maak. Dit was ʼn baie lang en aangename reis. Dit gaan wonderlike wees om in persoon te kan graadvang."

  • Hierdie artikel deur Sue Segar namens die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Foto: “Photo by Leon Pauleikhoff on Unsplash"