Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​CapeNature en loopbaangeleenthede in bewaringswetenskap​
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 08/03/2022

Dr Ernst Baard, uitvoerende hoof van bewaringsbedrywighede by CapeNature, het op Vrydag 4 Maart 2022 aan die HonsBSc-studente in die Departement Plant- en Dierkunde 'n oorsig oor loopbaangeleenthede in bewaringswetenskap gegee.

CapeNature is die Wes-Kaap se provinsiale bewaringsagentskap. Dr Baard het die lesing aangebied in sy hoedanigheid as lid van die Fakulteit Natuurwetenskappe se Adviesraad wat in 2016 tot stand gekom het ten einde die gaping tussen die akademie en industrie te oorbrug en netwerk- en samewerkingsgeleenthede te skep.

Dr Baard, wat byna veertig jaar gelde sy MSc aan die US se Departement Plant- en Dierkunde behaal het, het sy loopbaan by CapeNature as herpetoloog in Jonkershoek begin. In 1990 het hy sy PhD ook aan die US verwerf.

Hy beskryf hoe die landskap van bewaringswetenskap sedert die 1970s verander het: van wetenskaplikes wat in individuele dier- of plantspesies spesialiseer (met min van daardie spesialisbiodiversiteitsinligting wat uiting vind in bewaringsbestuur), tot die huidige bewaringslandskap wat plante, diere en ekosisteme byeen bring.

Deesdae staar die realiteit van klimaatsverandering bewaringswetenskaplikes egter ook in die gesig. “Dertig jaar gelede het ons begin lees oor klimaatsverandering, maar ek het nooit gedink dat ek dit in my leeftyd sal beleef nie," sê dr Baard.

Hedendaagse bewaringswetenskaplikes is spesifiek betrokke by sistematiese bewaringsbeplanning  (soos bv. die program Cape Action for People and the Environment), langtermynmonitering (soos 15 jaar se data van paddabevolkings in hoë bergagtige gebiede) en toesig  oor bedreigde spesies en ekosisteme op landskapvlak.

“Hedendaagse bewaringswetenskaplikes speel 'n sleutelrol in die oordrag van wetenskaplike kennis ná, sowel as bínne die organisasie. Sedert 2002 het wetenskaplikes by CapeNature vier verslae oor die stand van biodiversiteit opgestel. Ons is betrokke by moderne bewaringsbeplanning, sowel as  beplanning van die bestuur van beskermde gebiede. Al hierdie inligting dra by tot 'n strategies aanpasbare bestuursbenadering: indien die beoogde bewaringsguitkomste nie bereik is nie, weet ons dat die bestuurstyl en -strategieë aangepas moet word totdat ons suksesvol is," verduidelik hy.

Baie van CapeNature se bewaringswetenskaplikes is betrokke by internasionale liggame soos die Internasionale Unie vir Natuurbewaring  (IUCN), en dra by tot projekte soos die IUCN se Suid-Afrikaanse Rooilys.

“Dit verg komplekse wetenskap om 'n spesie as bedreig, krities bedreig, uitgesterf in die natuur, of heeltemal uitgesterf te klassifiseer. Maar sonder hierdie klassifikasies sou ons egter nie effektiewe beplanning of bestuur kon toepas nie."

Ander potensiële regeringswerkgewers waarvoor bewaringswetenskaplikes kan werk, is die nasionale Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeraad, die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit, die Departement van Water en Sanitasie en die nege provinsiale bewaringsagentskappe insluit. Daar is egter ook nieregeringsorganisasies soos BirdLife South Africa, die Endangered Wildlife Trust, die World Wildlife Fund (WWF), die Cape Leopard Trust, en verskeie ander wat ook die wildbedryf insluit, wat werk verskaf. Dan is daar ook geleentheid om as omgewingsimpakpraktisyn te werk.

Prof Theresa Wossler, hoof van die Departement Plant- en Dierkunde sê hulle is dankbaar vir die rol wat die adviesraadlede soos dr Baard speel in die voorbereiding van studente vir die wêreld werk. 

Op die foto: In die middel van 'n groep BScHons-studente is Dr Ernst Baard van CapeNature en Prof Theresa Wossler van die US se Departement Plant- en Dierkunde. Foto: Wiida Fourie-Basson