Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TB-navorser ontvang toekenning van die Wellcome Trust
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 24/02/2022

Dr Wynand Goosen, van die Diere-TB-navorsingsgroep in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het 'n aansienlike toekenning van die Wellcome Trust ontvang om nuwe molekulêre diagnostiese hulpmiddels te ontwikkel om sodoende potensiële soönotiese patogene te help identifiseer.

Die vinnige opsporing van hierdie patogene sal bydra tot akkurate diagnoses, inligting verskaf oor bronne van infeksie, asook oor moontlike middelsensitiwiteit, en om vinnig die aandag te vestig op kwessies wat van belang is vir openbare gesondheid.

In Suid-Afrika is dit veral belangrik as gevolg van die hoë aantal mense wat MIV-positief is.

Die Wellcome Trust is ʼn polities- en finansieel-onafhanklike wêreldwye liefdadigheidstigting, wat gefinansier word deur 'n beleggingsportefeulje wat nagelaat is deur die stigter, Sir Henry Wellcome, wat ʼn farmaseutiese entrepreneur was. Die missie van die stigting is om gesondheid te verbeter deur middel van navorsing, en om te help om die dringende gesondheidsuitdagings wat die mensdom in die gesig staar, aan te spreek, en om oplossings vir hulle te probeer vind.

Een van die grootste van hierdie uitdagings is aansteeklike siektes, wat ongeveer een kwart van alle sterftes regoor die wêreld veroorsaak.

“Ons ambisie is om te verseker dat die wêreld beskerm word teen verskillende tipes aansteeklike siektes, en die bedreiging van ʼn toename in siektes beide nou en in die toekoms," sê Gordon Dougan, tussentydse direkteur van die Afdeling vir Aansteeklike Siektes by die Wellcome Trust.

Goosen, die ontvanger van hierdie toekenning, is ʼn internasionale TB “one health" -navorser by die vee-dierelewe-mens-omgewings-oordragskeidingsvlak.

Die doel van hierdie toekenning is om ondersteuning te bied aan navorsers in die vroeë jare van hul navorsingsloopbane deur hulle by te staan om hulle navorsingsvaardighede te konsolideer, en om ook bykomende opleiding te kry, sodat hulle nuwe navorsingsareas kan verken binne hulle onderskeie velde van wetenskaplike kundigheid.

“Hierdie genootskap is daarop gemik dat dit die ontvangers daartoe in staat sal stel om nuwe navorsingsvaardighede en -tegnieke aan te leer wat hulle sal nodig hê om hulleself in die toekoms as onafhanklike internasionale navorsingsleiers te vestig," verduidelik Goosen.

Hy het £194 849 (ongeveer R4 miljoen) van die Wellcome Trust ontvang vir sy navorsing oor die volgende onderwerp: Verbeterde diagnose van Mycobacteria spp. in vee en wild uit landelike gemeenskappe van Suid-Afrika.

“In Suid-Afrika is daar tot dusver beperkte navorsing oor soönotiese (oordraaglik van diere na mense) en antroponotiese (oordraaglik van mense na diere) Mycobacteria spp.-infeksies gedoen, veral in landelike gemeenskappe en informele stedelike nedersettings waar die aantal mense met MIV-infeksie hoog is," sê Goosen.

“Infeksie met patogeniese Mycobacterium tuberculosis-kompleks (MTBC) en opportunistiese nie-tuberkulêre mikobakterieë (NTM) kan siektes en sterftes onder beide mense en diere ten gevolg hê, en ook in mense 'n uitwerking hê op produktiwiteit en die vermoë om 'n bestaan te maak. Nie-tuberkulêre mikobakterieë, wat alomteenwoordig in die omgewing is, kan 'n spektrum van siektes veroorsaak wat M. tuberculosis of M. bovis-infeksies naboots, maar hierdie siektes reageer anders op die toediening van konvensionele TB-middels," verduidelik Goosen.

Ondersoek van bronne en identifisering van spesifieke agente kan help om verdere oordrag te voorkom, veral in lande wat endemiese MIV-bevolkings het, soos wat die geval is in Suid-Afrika. Mense kan maklik in aanraking kom met die gashere van hierdie TB-infeksies deur kontak met plaasdiere wat nie in kampe aangehou word nie, of deur middel van toevallige kontak met wilde diere.

Goosen se navorsing is daarop gemik om hierdie soönotiese patogene vinnig te identifiseer, en om 'n effektiewe behandeling- of bestuursplan vir hierdie pasiënte te bewerkstellig.

“Ek hoop dat hierdie navorsing akkurate diagnose sal toelaat, belangrike inligting sal verskaf aangaande potensiële bronne van infeksie en middelsensitiwiteit, asook dat dit nuwe patogene sal kan help identifiseer wat van belang kan wees vir openbare gesondheid," verduidelik Goosen.