Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
WGO: US speel ʼn kern rol in SA se bRNS-enstofhub
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Ilse Bigalke
Gepubliseer: 16/02/2022

Die teenwoordigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) se wêreldklas- Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) en Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (Seri) by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), was een van die hoofredes hoekom die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Suid-Afrika as gasheer van Afrika se eerste vervaardigingshub van bRNS-entstowwe gekies het.

Ná ʼn besigtigingstoer van hierdie fasiliteite deur ʼn hoëvlak- internasionale afvaardiging op 11 Februarie 2022, het die WGO se Direkteur-generaal, dr Tedros Adhanom Ghebreyesus, op ʼn mediavoorligting verduidelik dit is hierdie soort kapasiteit in Suid-Afrika wat die projek suksesvol sal maak.

“En sukses is die enigste opsie," het hy bygevoeg.

Die afvaardiging het die Suid-Afrikaanse Minister van Gesondheid, dr Joe Phaahla, die Suid-Afrikaanse Adjunkminister van Hoëronderwys, Wetenskap en Innovasie, Buti Manamela, die Belgiese Minister van Ontwikkelingsamewerking, Meryame Kitir, asook ander nasionale en internasionale belanghebbers ingesluit.

Seri, wat die kern van Suid-Afrika se wêreldklas- virale genomiese oorsigprogram uitmaak, is ʼn vennoot-lid van Samvac, die Suid-Afrikaanse entstofkonsortium wat as Afrika se eerste oordraghub vir Covid-bRNS-tegnologie gekies is.

Die hub se doelwit is om ʼn opleidingsfasiliteit te ontwikkel waar bRNS-tegnologie ontwikkel word tot op die skaal wat vir die massaproduksie van entstowwe vereis word en dat daardie tegnologie dan na veelvuldige ontvangers in lae- en middelinkomstelande oorgedra word.

Ghebreyesus het tydens die mediavoorligting wat by die US se Tygerberg-kampus gehou is, gesê die “uitsonderlike wetenskaplike triomf" van die ontwikkeling en goedkeuring van etlike Covid-19-entstowwe in ʼn rekordtyd – wat ontelbare lewens gered het en talle lande nou die selfvertroue bied om beperkings op te hef – is deur enorme ongelykhede in toegang bederf.

“Meer as die helfte van die wêreldbevolking is nou ten volle ingeënt, maar 84% van die Afrika-bevolking het nog nie ʼn enkele dosis ontvang nie. ʼn Groot deel van hierdie ongelykheid is te wyte aan die konsentrasie van entstofproduksie in ʼn paar meestal hoë-inkomstelande."

Hy het bygevoeg dat een van die pandemie se mees ooglopende lesse die dringende behoefte is om die plaaslike produksie van entstowwe te verhoog, veral in lae- en middelinkomstelande. Dit is hoekom die WGO aansoeke vir ʼn tegnologie-oordraghub vir bRNS-entstowwe aangevra het en Suid-Afrika uiteindelik uit talle aansoeke gekies is.

Die hub lewer reeds resultate, soos blyk uit Afrigen Biologics se onlangse aankondiging dat hy sy eie bRNS-entstof geproduseer het. Kliniese proewe sal na verwagting in die vierde kwartaal van 2022 begin, met goedkeuring na verwagting teen 2024, het Ghebreyesus gesê.

“En die bRNS-tegnologie is nie net vir Covid nie. Dit sal vir malaria, TB en MIV wees – dit sal ʼn spelbreker wees. Ons verwag dat hierdie entstof meer gepas sal wees vir die konteks waarin dit gebruik sal word, met minder bergingsvereistes en teen ʼn laer prys."

Gevra wanneer die “akute fase" van die pandemie kan eindig, het Ghebreyesus gesê dit kan einde 2022 gebeur op voorwaarde dat 70% van die wêreldbevolking teen Julie ingeënt is. “Dis nie ʼn kwessie van toeval nie, maar van keuse. As die wêreld dit wil beëindig, het ons die middele tot ons beskikking om dit te doen."

In antwoord op ʼn vraag oor toekomstige pandemies, het die WGO-hoof gesê gebrekkige belegging in openbare gesondheid belemmer die wêreld se paraatheid om pandemies te voorkom of aan te pak. “Die wêreld het regtig baie gevorder wat betref innovasie vir hoëtegnologie-geneeskunde, mediese ingrypings, robotika en so meer, maar belegging in baie basiese openbare gesondheid skiet tekort. Eenvoudige dinge kan gedoen word, wat begin met oorsig, paraatheid, vroeë opsporing en reaksie."

Kitir het gesê internasionale herstel van die pandemie hang grootliks af van die wêreld se vermoë om dit saam te beveg – en dit is presies waaroor die hub-projek gaan: om deur wêreldwye pogings strukturele oplossings vir plaaslike behoeftes te vind.

“Hierdie inisiatief wys aan die wêreld hoe die stryd teen ongelykheid gewen kan word. Die projek is nie net ʼn oplossing vir Suid-Afrika nie, maar vir die kontinent."

Phaahla het die WGO bedank dat dit vir entstofgelykheid veg. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika ʼn jaar gelede nog nie ʼn enkele enstofdosis toegedien het nie. “Sedertdien het ons ver gekom en al meer as 30 miljoen dosisse toegedien. Hierdie afvaardiging is die hoogtepunt van ʼn baie lang stryd om toegang tot entstowwe."

Manamela het erkenning verleen aan die “wonderlike" werk wat wetenskaplikes aan hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika gedoen het om die virus werklik te verstaan en tot die wêreld se kennis daaroor by te dra. “Die vermoë van hierdie instellings het beteken dat Suid-Afrika los voor talle ander lande was wat hierdie entstofhub wou huisves."

Prof Wim de Villiers, Rektor en Vise-kanselier van die US, het dit as ʼn “trotse oomblik" beskryf om die wêreld se top-gesondheidsamptenare op ʼn kritieke tyd te kan ontvang.

“Ons is in die middel van ʼn pandemie, maar ons maak gelukkig merkwaardige vordering om dit te beveg. Die fasiliteite en inisiatiewe wat ons in hierdie stryd help, is vandag in die kollig en vorm deel van daardie suksesverhaal."

Prof Elmi Muller, Dekaan van die FGGW, het gesê die Fakulteit is daartoe verbind om praktiese oplossings met impak te vind vir die gesondheidsuitdagings wat deur die mense van Suid-Afrika en die kontinent van Afrika in die gesig gestaar word. “Ons is trots om die entstofgaping vir lae- en middelinkomstelande te help verklein deur ons wetenskaplike kundigheid te kombineer met ons nuwe voorpunttegnologie wat in die BMNI beskikbaar is.

“Ons vier vandag die belangrike geleentheid om deel te wees van wat ons ʼn wetenskaplike deurbraak kan noem – die ontwikkeling van ʼn bRNS-entstof in ʼn rekordtyd," het Muller bygevoeg.


 


Foto-onderskrif: Profs Gerhard Walzl (tweede van regs) en Tulio de Oliveira (heel regs) begelei die WGO se Direkteur-generaal, dr Tedros Adhanom Ghebreyesus en ander hoë-vlak afgevaardiges op 'n toer deur die US se Biomediese Navorsingsinstituut.


Foto-erkenning: Nardus Engelbrecht