Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Jaap Durand: struggle-aktivis en uitgelese akademikus
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 28/01/2022

As 'n universiteitsgemeenskap treur ons saam met die res van Suid-Afrika oor die afsterwe van Matie-alumnus en uitgelese akademikus, teoloog en struggle-aktivis prof Johannes Jacobus Fourie (Jaap) Durand.

Durand, wat op 24 Januarie 2022 oorlede is, was 'n voormalige lid van die Universiteit Stellenbosch (US) Raad wat deur die destydse onderwysminister aangestel is om van 1 Oktober 2001 tot 1 April 2004 in dié amp te dien. As Raadslid het hy 'n beduidende rol in die transformasie van die Universiteit vervul.

“Prof Durand was 'n dapper visionêr, akademikus en teoloog wat die moed van sy oortuiging gehad het om hom uit te spreek en om op te tree teen die onreg in Suid-Afrika in 'n tyd toe bitter min wit mense dit gedoen het," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier. “Dit het hom op professionele vlak duur te staan gekom, maar hy was aan die regte kant van die geskiedenis en het 'n uiters waardevolle impak gehad in ál die gemeenskappe wat hy gedien het, ook by ons universiteit. Sy afsterwe is 'n verlies wat wyd gevoel sal word."

Prof Durand was bekend en geëerd in teologiekringe én die akademiese gemeenskap sowel binne- as buitelands. Hy het in sy loopbaan van nagenoeg 50 jaar enorme bydraes gelewer om Suid-Afrika te verenig, nasiebou aan te moedig en hom teen die onreg van ons verlede uit te spreek.

Hy het sy lewe lank as kampvegter vir eenheid, transformasie, versoening en geregtigheid in Suid-Afrika opgetree, soms met groot persoonlike koste. As gevolg van Durand se kritiek teen die apartheidsregering en die Nederduits Gereformeerde Kerk, het laasgenoemde hom byvoorbeeld verwerp. Gedurende sy tyd as die eerste viserektor van die Universiteit van Wes-Kaapland het hy ook sy toewyding aan die stryd om demokrasie in Suid-Afrika openlik getoon deur saam met sy studente teen apartheidswette te betoog.

Die US het in 2002 'n eredoktorsgraad aan Durand toegeken vir sy uitmuntende bydrae tot en diens aan die akademie, die kerk en die Suid-Afrikaanse samelewing. In die kommendasie is hy geloof as “'n visionêre gees, 'n persoon van karakter en integriteit, 'n invloedryke figuur in die soeke na geregtigheid, versoening en vrede in ons samelewing" – iemand wat “nie net akademiese werke van gehalte opgelewer het nie, maar hom ook daarvoor beywer het om sy kennis en oortuigings in die kerk en samelewing te deel en toe te pas".

*Die gedenkdiens vir prof Durand vind op Saterdag 29 Januarie om 10:00 in die Rynse Kerk op die Braak, Stellenbosch, plaas. Verversings sal ná die diens by die US se Fakulteit Teologie in Dorpstraat bedien word. 

Foto met vergunning van Le Roux Schoeman / www.kerkbode.co.za