Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Student-entrepreneur aangewys as een van Afrika se ‘skerpste jong breine’
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 27/01/2022

'n Vyfdejaar mediese student van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), Keaton Harris, is gekies as een van die Top 100 Brightest Young Minds (BYM) in Afrika.

Die BYM is 'n inisiatief wat in 2001 in Suid-Afrika geloods is. Die visie van BYM is om toonaangewende jong entrepreneurs te inspireer en te mobiliseer om 'n positiewe bydra tot hulle gemeenskappe te lewer, volgens hul onderskeie belangstellings en sterk punte. BYM het 'n sterk alumni-netwerk, wat die 100 jaarlikse ontvangers van hierdie toekenning in staat stel om in die toekoms kontak te behou met mekaar.

Elke jaar word 'n beraad gehou waar hierdie jong leiers met mekaar kan skakel en idees kan uitruil. In 2021 was die beraad virtuele aangebied op 15 en 16 Oktober.

Hierdie jaarlikse geleentheid is daarop gemik om die potensiaal van Afrika se slimste jong presteerders op die gebied van leierskap en entrepreneuriese projekte in die kollig te plaas. Hierdie bydraes van die onderskeie deelnemers moet alles tot voordeel van die Afrika-vasteland wees.

Hierdie projekte kan wissel van opvoedkundige intervensies, tot nuwe uitvindings, tot ontwikkelings op die gebied van mediese tegnologie – asook 'n wye verskeidenheid van projekte op alle gebiede.

Voordat Harris by die FGGW aangesluit het, het hy sy Baccalaureusgraad in Aptekerswese in 2016 voltooi en daarna 'n maatskappy genaamd InforMED Global begin. Dit is 'n aanlyn mobiele gesondheidsorgtoepassing wat daarop fokus om taalgrense tussen gesondheidsorgpersoneel en pasiënte te oorkom. Kommunikasie is dikwels 'n struikelblok in lande soos Suid-Afrika, waar baie verskillende tale gepraat word.

Die BYM-toekenning is nie Harris se eerste prestasie nie: hy was een van 21 mense wat wêreldwyd gekies is vir die Young Sustainable Impact (YSI)-projek. Hy het ook die South African Global Student Entrepreneur Awards (GSEA)-kompetisie gewen, sowel as die 2020 EDHE Studentpreneur Intervarsity Kompetisie. Harris het ook Suid-Afrika verteenwoordig by die Global Engagement Summit by die Kectil Leadership-konferensie, en die International Thinkers Model van die VN. Hy is ook 'n Abe Bailey-genoot, en onder die Top 200 onder-30 Jong Suid-Afrikaners wat deur die Mail & Guardian aangewys is.

“Ek streef daarna om die mediese narratief binne 'n armoede-geteisterde land te verander, en om billike toegang tot basiese gesondheidsorg te vergemaklik," sê Harris.

Hy voeg by dat dit moeilik was om sy eie besigheid te bedryf, en om ook terselfdertyd sy akademiese verpligtinge na te kom.

“Ek kon nie gelukkiger gewees het toe ek die nuus hoor dat ek gekies is vir die BYM-inisiatief nie. Ek het hiervan uitgevind terwyl ek op die trapmeul gehardloop het. Ek was opgewonde en dit het my laat voel dat my harde werk tog vrugte afgewerp het," sê Harris.

“Die beraad het my in staat gestel om kontakte met jong leiers in hul onderskeie velde te berwerkstellig, en dit het deure oopgemaak tot talle moontlikhede. Die feit dat ek die kennis, en die ervarings van die ander deelnemers kon benut, het my gemotiveer om voort te gaan om 'n verskil te probeer maak," voeg Harris by.

Gevra oor sy planne vir die toekoms het Harris die volgende te sê: “Ek wil my mediese studies voltooi, en dan spesialiseer in óf neurochirurgie, traumachirurgie óf noodgeneeskunde. Ek beplan om 'n manier te vind om dit te doen terwyl ek steeds my besigheidsverpligtinge nakom."