Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe boeke vir bevordering van wetenskapsonderrig en die dekolonisering van die wetenskap
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 26/01/2022

​Dosente van die Fakulteit Natuurwetenskappe is betrokke by twee nuwe boeke oor die gebruik van Legitimation Code Theory (LCT) ten einde onderrig en leer in tersiêre kursusse in die natuurwetenskappe te verbeter.  

Die boeke, Enhancing Science Education: Exploring knowledge practices with Legitimation Code Theory en Decolonising knowledge and knowers: struggles for university transformation in South Africa is tydens die internasionale konferensie, LCT3.5 virtual conference bekend gestel wat verlede week van 18 tot 21 Januarie plaasgevind het. Albei boeke maak deel uit van die Routledge-reeks oor die gebruik van Legitimation Code Theory met die doel om onderrig en leer in hoër onderwys te verbeter.

Legitimation Code Theory (LCT) is 'n gesofistikeerde raamwerk bestaande uit verskeie eiesoortige hulpmiddels wat STEM-opvoeders (STEM verwys na wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) in staat stel om hulle onderrigpraktyk in te rig binne die konteks van sosiale geregtigheid en kennisbou. Die virtuele konferensie is deur student en opvoeders van 40 verskillende lande bygewoon.

Die boek Enhancing Science Education is geredigeer deur dr Margaret Blackie, dosent in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap; dr Hanelie Adendorff, senior adviseur by die Sentrum vir Onderrig en Leer; en dr Marnel Mouton, dosent in die Departement Plant- en Dierkunde.

Ander outeurs wat bydraes gelewer het is dr Christine Steenkamp, dosent in die Departement Fisika; dr Ilse Rootman-le Grange, gemengde leerkoördineerder vir die Fakulteit Natuurwetenskappe; wyle dr Bernhardine Uys, 'n navorsingsgenoot in die Departement Plant- en Dierkunde; en prof Faadiel Essop, direkteur van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Prof Ingrid Rewitzky, hoof van die Departement Wiskundige Wetenskappe en Visedekaan: Onderrig en Leer, het 'n baanbrekershoofstuk bygedra oor die gebruik van LCT om verskillende tipes kennis wat in wiskunde gebruik word, na vore te bring in die onderrigproses.  

Drs Adendorff en Blackie was ook deel van die redaksionele span van die boek Decolonising knowledge and knowers: struggles for university transformation in South Africa. Albei van hulle het bygedra tot die inleiding “Decolonizing knowledge and knower", en het die laaste twee hoofstukke geskryf: “Decolonization and science education: What is at stake?" en A decolonial science education: How do we move forward?"

Prof Rewitzky sê die boek stel 'n kragtige manier bekend om die gesprek oor die dekolonisering van wetenskap te stimuleer. 'n Voorbeeld hiervan is dat die boek erkenning gee aan die feit dat wetenskaplikes modelle wat kultuur gebonde is, as hulpmiddels in hul verduidelikings gebruik. Die belangrike stelling wat die boek maak en wat ook in die inleiding verduidelik word, is dat dit aantoon dat “die dekolonisering van onderrig slegs simbolies en filosofies van aard sal bly indien 'n daadwerklike benadering van kumulatiewe kurrikulumkennisbou nie gevolg word nie".

Volgens Routledge voldoen die boeke aan “'n dringende behoefte aan teoriegebaseerde, toeganklike en vakgebiedsensitiewe publikasies wat daarop gemik is om steun te bied aan STEM-opvoeders".