Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
President Ramaphosa loof US se wêreldklas-navorsingsentrum wat wêreldwye epidemiese reaksie sal lei
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 19/01/2022

​President Cyril Ramaphosa, tesame met die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande, en die biotegnologiebelegger van NantAfrica ('n afdeling van NantWorks), dr Patrick Soon-Shiong, het vandag (19 Januarie 2022) die Universiteit Stellenbosch (US) se Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) besoek om na die ultramoderne fasiliteite van die Sentrum vir Epidemiereaksie en -innovasie (CERI) te kyk. CERI, wat later vanjaar amptelik bekend gestel word, sal die genomiese volgordebepaling vir die ontwikkeling en beoordeling van entstofbehandelings in Suid-Afrika voorsien.

Die visie vir die sentrum is om die grootste genomikafasiliteit in Afrika te wees. Dit staan onder leiding van prof Tulio de Oliveira, wêreldbekende bio-inligtingskundige en professor in bio-informatika by die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke aan die US. Die besoek aan die sentrum het plaasgevind voor die amptelike opening van die NantSA-entstofproduksiefasiliteite by Brackengate, Kaapstad, en die aankondiging van die AAAH-koalisie, wat Afrika se toegang tot gevorderde gesondheidsorg wil versnel.

Die presidensiële afvaardiging is ontvang deur proff Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US; Kanshukan Rajaratnam, hoof van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke; Elmi Muller, dekaan van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en De Oliveira.

CERI by die US is die voorloper van 'n aantal soortgelyke fasiliteite by ander navorsingsgerigte Suid-Afrikaanse universiteite en is met die ondersteuning van die Chan Soon-Shiong-familiestigting en die Rockefellerstigting se instituut vir pandemievoorkoming (PPI) tot stand gebring. 

Die BMNI, waar CERI geleë is, is 'n enorme infrastruktuurbelegging van meer as 'n miljard rand deur die US en die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI). Dit is op gelyke voet met die mees gevorderde biomediese navorsingsfasiliteite ter wêreld en beplan om 'n tuiste te wees vir 'n hele aantal wêreldklasnavorsingsgroepe in Suid-Afrika.

Die doel van prof De Oliveira se navorsing is om deur middel van die waarneming van patogeengenomika doeltreffend op epidemies te reageer. Hierdie werk ondersteun biomediese ontdekking, verbeter behandeling en diagnose, en bevorder entstofontwikkeling om menslike siektes te voorkom. Dit kan internasionaal 'n aansienlike impak op dié navorsingsterrein hê en boonop beduidende ekonomiese geleenthede vir Afrika skep.

Die volgende fase is die bekendstelling van 'n genootskapsprogram wat Afrikawetenskaplikes in die heel jongste tegnieke op die gebied van genomika, bio-informatika, groot data en kunsmatige intelligensie sal oplei om wetenskaplike vooruitgang en die nywerheidsrevolusie op die vasteland te ondersteun.

“Die fasiliteite van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe én sy groot netwerk vennootskappe in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld sal 'n spelwisselaar vir wetenskap in Afrika wees," sê De Oliveira. “Met die opsporing van die omikronvariant het ons die wêreld reeds gewys dat Afrika wêreldklaswetenskap kan beoefen. Tot dusver het ons sowat $20 miljoen ingesamel om ons navorsing te ondersteun, maar ons skat ons sal binne die volgende vyf jaar $100 miljoen nodig kry om genomikategnologieë intyds te kan gebruik en sodoende nuwe epidemies en pandemies op die vasteland na te spoor en daarop te reageer."

Benewens groot robotiese toerusting beskik CERI ook oor twee Illumina Novaseq 6000-platforms vir DNS-volgordebepaling, die grootste van hulle soort ter wêreld, sowel as een NextSeq 2000. De Oliveira het die president die twee Novaseq 6000-platforms gewys, wat deur die Chan Soon-Shiong-familiestigting in samewerking met Illumina en die Rockefellerstigting geskenk is om die grootste Illumina-hoëdeursetfasiliteit in Afrika te skep.

De Oliveira sluit af: “Dié uitgebreide laboratoriums sal Afrika 'n wêreldleier in genomiese waarneming maak en tegnologieë na Suid-Afrika bring wat nuwe patogene en menslike genetiese mutasies vinnig kan identifiseer. Hierdie tegnologieë kan lewens red deur kanker vroeg op te spoor, en sal ongetwyfeld 'n groot sosiale impak hê."

Oor hierdie trotse oomblik vir die US sê De Villiers die samewerking tussen die verskillende entiteite strook met die US se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word, en waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word. “Die vestiging van doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke is 'n deurlopende en belangrike strategiese tema vir die Universiteit. Die samewerking tussen die verskillende entiteite is 'n goeie voorbeeld van ons uitdruklike doelstelling om op 'n multi-institusionele vlak saam te werk. Die navorsing het die potensiaal om 'n impak op miljoene in Afrika én weliswaar die wêreld te hê."  

Ook Rajaratnam reken die wêreldklaswetenskap wat ingevolge hierdie samewerking onderneem sal word, sal die US sy visie help verwesenlik. “Dit sluit nie net tegnologiese innovasie in nie, maar ook die opleiding van toekomstige wetenskaplikes om die leiding in Afrika te neem."

“Ons navorsingsagenda in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe word grootliks bepaal deur die ernstige gesondheidsuitdagings waarvoor mense op die Afrikavasteland te staan kom, en word ondersteun deur ons toegewyde en volgehoue werk om hierdie uitdagings die hoof te bied," sê Muller.

Genootskapsprogram om wetenskapvermoë in Afrika uit te bou

CERI en die US het reeds 41 genote van 21 Afrikalande aanvaar, en sal die genootskapsprogram in 2022 verder uitbrei met die bystand van die Chan Soon-Shiong-familiestigting, die Rockefellerstigting, Afrika se sentrums vir siektebeheer en die WGO. Die doel is om 100 nuwe genote in genomika, bio-informatika, groot data en kunsmatige intelligensie op te lei.

“Hierdie gevorderde opleidingsprogram bou voort op die werk van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, wat beoog om Afrika se dataontledingsvermoë te transformeer en die Vierde Nywerheidsrevolusie in Afrika te help voortdryf," sê Rajaratnam.

Trotse vennote

“Prof De Oliveira se leierskap in die identifisering van die omikronvariant van SARS-CoV-2 en sy werk om 'n netwerk wetenskaplikes te bou om genomiese waarneming in Afrika uit te brei is, en sal altyd onthou word as, een van die merkwaardigste suksesverhale van die Covid-19-pandemie," sê dr Rick Bright, uitvoerende hoof van die PPI en senior ondervoorsitter van pandemievoorkoming en -reaksie by die Rockefellerstigting. “Ons is trots om in vennootskap te wees met instellings soos die Universiteit Stellenbosch wat aan die voorpunt staan van ons gesamentlike missie om op hierdie pandemie te reageer en toekomstige pandemies te voorkom."

  • De Oliveira is onlangs as een van die Nature's 10 aangewys – 'n groep van tien individue wat in 2021 'n beduidende invloed op die wetenskap gehad het. Hy sal ook in 2022 'n goue medalje van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) ter erkenning van sy bydrae tot die wetenskap ontvang.


PHOTO: Dr Patrick Soon-Shiong,  biotegnologiebelegger van NantAfrica ('n afdeling van NantWorks), dr Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, president Cyril Ramaphosa en Prof Tulio de Oliveira, wêreldbekende bio-inligtingskundige en professor in bio-informatika by die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke aan die US. Agter hulle is onder meer prof Elmi Muller, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier. (Foto: GCIS)​

MORE ABOUT

Biomedical Research Institute

The aim of this research initiative is to understand the diseases that have the greatest impact on communities in South Africa and the rest of Africa.

This R1 billion facility, which is set to be completed at the end of 2022, is one of the most innovative and advanced biomedical research centres in Africa and will advance SU's capacity to undertake world-class research on the leading health problems affecting African and South African people. It will also contribute considerably to building research capability on the African continent.

The new BMRI is on a par with the most advanced biomedical research facilities and allows for the immediate expansion of SU's current research activities, including bioinformatics, surgical sciences, and solutions to addressing the Covid-19 pandemic.

NantWorks

NantWorks is a multinational, California-based conglomerate that is leading the digital revolution in healthcare, technology and media through the harnessing of science, digital infrastructure, supercomputing and communication. It is an ecosystem of companies with a deep understanding of a wide variety of complex industries, from medical science to physics, data to artificial intelligence, and communications to mobility.

SU School for Data Science and Computational Thinking

The School was launched in July 2019 with a vision to be a world-class institution in data science and computational thinking in and for Africa. Through partnerships with government and private entities, such as the generous sponsorship from Standard Bank, Capitec Bank and others, the School is working on innovative technologies and data methods that would improve quality of life across the country and the continent.