Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Broer en suster wil wêreld verander
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 17/12/2021

​Die sibbes Neo Tsiu (24) en haar broer, Modise (22), wat albei tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se onlangse hibriede gradueringsweek gegradueer het, is nou toegerus om hul dinamiese reis as agente van verandering saam voort te sit.

ʼn Diploma in Volhoubare Ontwikkeling van die US se Skool vir Openbare Leierskap in die Fakulteit Ekonomie en Bestuurswetenskappe is op 14 Desember aan albei dié sibbes toegeken. Hulle is opgewonde oor hierdie prestasie, asook oor die moontlikhede en geleenthede wat die toekoms inhou.   

Op die pad vorentoe sal hulle voortbou op die nou band tussen hulle en op hul merkwaardige vermoë om ondanks individuele verskille en uiteenlopende sterk punte uitstekend saam te werk.  

“Danksy die klein ouderdomsverskil kon ons altyd by mekaar aansluiting vind en goed deel wat vir ons as individue saak gemaak het. Ons kon mekaar ook in moeilike tye bemoedig," het Modise gesê.

Inspirerende podsending

ʼn Geleentheid wat hulle saam aangegryp het, was gedurende die harde inperking in 2020 toe hulle verveeld by die huis was en hul kreatiwiteit en innoverende vaardighede ʼn hoogtepunt bereik het met die skepping van die podsending Panel N&M op Spotify. Die sibbes het die podsending saam aangebied en met hul eweknieë gesels oor die uitdagings en sosiale kwessies wat hulle gedurende daardie moeilike tyd geraak het. 

Die belangstelling in die podsending het al hul verwagtinge oortref en die episodes is meer as 200 keer afgelaai, het Neo gesê. “Mense het uitgereik en ons bedank vir die positiewe impak wat die podsending op hulle gehad het en hoe dit hulle deur die emosionele en geestespanning van die harde inperking gehelp het."

Volgens Modise voel hulle baie nederig oor vriende, familie en ander mense se waardering vir die podsending en hoe hulle vertel het hoeveel hulle dit geniet het om daarna te luister en hoeveel hulle by die sibbes geleer het. “Ons het verskeie onderwerpe bespreek, wat gestrek het van ons eie persoonlike stories tot sosiale kwessies wat ons destyds as relevant geag het: onderwerpe soos die pandemie, liefde en verhoudings, Vrouedag en nog meer," het hy bygevoeg.

Die gewildheid van die podsending het aan die sibbes gewys hulle is goed daarmee om met mense bande te bou en te kommunikeer en hierdie vaardighede het hulle gehelp om kennis oor en begrip vir die diversiteit van mense se agtergronde, emosies, behoeftes en belangstellings te bekom. Hulle het etlike episodes gedurende die inperking aangebied.

Die podsending is steeds beskikbaar, maar hulle kon nie nuwe episodes byvoeg nie omdat hul akademiese program al hul tyd en aandag geverg het. “Ons gaan die podsending nietemin gou weer begin en moet nog net ʼn paar goed organiseer. Dit sal hierdie keer ook in videoformaat beskikbaar wees," het Modise gesê.

Om die wêreld te verander

Hierdie ervaring het die idee by die sibbes laat ontstaan om hul eie volhoubaarheidskonsultantmaatskappy te begin, waardeur hulle klein ondernemings wil help om in die groen ekonomie gevestig te raak. “Ons beplanning en navorsing hiervoor is nog in die beginfase. Ons wil onsself van die kompetisie onderskei," het Neo vertel.

Die verandering wat die sibbes graag wil sien, behels maatskaplike kwessies wat die meeste mense in Suid-Afrika raak.

Modise wil die jeugwerkloosheidskoers help verlaag deur maniere te vind om jong mense te help om hul talente en ambisie te gebruik. Neo wil maniere vind om die ongelykheid wat steeds in die land heers, die hoof te bied. “Ek wil ʼn gelyke wêreld sien, waar ryk en arm, mense van alle rasse en mense van alle geslagte toegang tot dieselfde geleenthede het," het sy gesê.

Intussen gaan Neo haar nagraadse studies in volhoubare ontwikkeling volgende jaar voortsit, terwyl Modise ʼn internskap sal doen om werkervaring op te doen. Maar hulle sal tyd maak om elke nou en dan koppe bymekaar te sit en saam aan hul onderneming en podsending te werk.