Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kanselierstoekennings vereer personeel vir uitnemende werk
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 15/12/2021

Die Universiteit Stellenbosch het erkenning gegee aan 'n kohort personeellede wie se loopbane van volgehoue uitnemendheid in navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste getuig.

Hierdie personeellede het pas die Universiteit se gesogte Kanselierstoekennings ontvang. Die toekennings is een van verskeie maniere waarop daar erkenning aan uitnemende prestasie gegee word.

Die 15 ontvangers van die 2021 Kanselierstoekennings sluit in:

Mnr Johan van Rooyen: Met toewyding, strategiese versiendheid, vindingrykheid en sterk leierskap het Van Rooyen ʼn uitmuntende bydrae as die Direkteur van IT in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gelewer. In sy loopbaan van meer as drie dekades was hy aan die stuur van IT-sake in die Fakulteit vanaf die begindae van persoonlike rekenaars op kampus, deur die IT-revolusie tot op hede, waar IT-oplossings en infrastruktuur die instelling in staat stel om suksesvol te wees.

Prof Jan Wium: Prof Wium het in 2003 by die Departement Siviele Ingenieurswese aangesluit. As bekleër van die Leerstoel in Bou-ingenieurswese en ‑bestuur, bied hy jaarliks die Boubestuurprogram aan vir toekomstige leiers in die boubedryf, het hy tagtig nagraadse studente afgelewer en talle van sy artikels het al in gesaghebbende vaktydskrifte verskyn. Hy was voorsitter van die Departement Siviele Ingenieurswese en lid van die Sentrale Dissiplinêre Komitee van die Universiteit.

Mnr Samuel de Beer: Vir meer as twee dekades al is De Beer betrokke by die verwerking en uitreiking van akademiese rekords, gradueringsdokumentasie, kurrikuluminhoude en ander amptelike verklarings aan studente, alumni, professionele liggame en ander belanghebbendes. Hierdie funksies staan sentraal in akademiese instellings.

Me Inge-Rae Scholtz: Haar loopbaan getuig van volgehoue uitnemendheid. Haar toegewyde en noukeurige manier waarop sy haarself handhaaf, het bygedra tot die US se sukses om Navorsing tot hoër prestasievlakke te neem. Haar uitstekende kennis van die universiteit en goeie verhoudings met onderskeie rolspelers het die werksaamhede van die Viserektor se kantoor aansienlik verbeter. Haar vyf Rektorstoekennings vir Algemene Prestasie en twaalf jaar diens in die Rektoraat vir verskillende bestuurders getuig van haar besondere kundigheid en aanpasbaarheid.

Dr PJ Pieterse: Hy het in sy 30 jaar by die Departement Agronomie ʼn wesenlike bydrae gelewer tot die vakgebied van Onkruidwetenskap en kennis oor weerstandigheid teen onkruiddoders wat beskou word as een van die vernaamste bedreigings vir volhoubare gewasproduksie. Sy vroeëre werk oor die biologie van indringerplante het bygedra tot die vestiging van die Werk vir Water-program in 1995. Die klem van sy navorsing het na die verantwoordelike gebruik van onkruiddoders en die redelike nuwe gebied van weerstandigheid teen onkruiddoders verskuif. Hy word as een van die voorste kenners in Afrika op hierdie gebied gereken. 

Me Ilhaam Groenewald: As die US se Hoofdirekteur: Maties Sport, het Groenewald leiding geneem op die nasionale verhoog – onder meer op die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, en voorheen as die eerste vrou op die SA Rugby-unie se direksie. Sy is die vorige, en nou ere-president van Universiteitsport Suid-Afrika (USSA). Haar grootste impak is in haar leiersrol by Maties. Vir Groenewald is ons atlete “eerstens studente" en haar ondersteuningsprogram was instrumenteel om die hoëprestasie-atlete se moduleslaagsyfer tot 89% te laat styg.

Mnr Japie Engelbrecht: As die US se Direkteur: Beplanning en Ontwikkeling, bestuur Engelbrecht tans meer as R2 miljard se projekte in konstruksie wat die US die grootste ontwikkelaar in die Wes-Kaap vir die afgelope paar jaar maak. Hy was instrumenteel in die ontwerp van die US se Projekbestuursmetodologie vir een van die Universiteit se belangrikste projekte tot nog toe – die Kampusvernuwingsprojek (KVP). Onder sy leierskap voltooi die US verskeie hoë-profiel projekte, soos onder meer die Jan Mouton Leersentrum en die vinnige herbou van Huis ten Bosch.

Me Mariétta van den Worm: Van de Worm het in 2001 by die Fakulteit Natuurwetenskappe aangesluit as fakulteitsbestuurder – destyds die eerste sodanige bestuurspos by die US. Oor die volgende twee dekades het sy nuwe bestuurstelsels geïmplementeer wat vandag die hoeksteen is vir die optimale funksionering van 'n hoogs gekompliseerde en diverse akademiese omgewing. Dit behels oorsig van finansiële en akademiese administrasie, bestuur van navorsingsfasiliteite en opgradering van infrastruktuur verspreid oor 14 geboue op die kampus, asook innoverende werwingsinisiatiewe.

Prof Antoinette Malan: Gesetel in die Fakulteit AgriWetenskappe, het prof Malan het 'n innoverende en belangrike bydrae tot die daarstelling van volhoubare en funksionele agro-ekologiese stelsels gelewer. Sy is die ontvanger van die gesogte Bayer Wetenskaptoekenning vir die bevordering van Nematologie (2011), ʼn Erasmus Mundus Europese Studiebeurs(2012), erkenning deur Hortgro Science vir die beste Finale Navorsingsverslag (2013, 2014 en 2017), tesame met die US se Toekenning van Uitnemendheid as navorser met van die hoogste bydraes tot geakkrediteerde navorsingspublikasies (2019).

Prof Ian Cloete: In sy loopbaan van meer as dertig jaar, het prof Cloete homself as 'n vooraanstaande akademikus in Ingenieurswese bewys, veral op die gebied van masjienleer, en as 'n visioenêre leier in hoëronderwysbestuur op globale vlak. As Senior Direkteur: Inligtingsoorsigbestuur by die US sedert 2014, het hy innoverende projekte gelei wat nie net die Afdeling se mandaat vervul het nie, maar dit ook oortref het.

Prof Ian van der Waag: Prof Van der Waag word erken vir sy uitstaande bydrae tot die groei en ontwikkeling van Militêre Wetenskap as 'n akademiese strewe in Suid-Afrika, en vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse militêre historiografie. Prof Van der Waag se loopbaan strek oor 25 jaar. As skrywer van verskeie boeke, het hy gehelp om gestalte te gee aan en inhoud verskaf vir verskeie nuwe programme wat by militêre kolleges en verdedigingakademies in verskeie lande aangebied word.

Me Karina Smith: Smith, wat liefdevol as “Tannie K" onder studente bekendstaan, het in 1999 as Senior Sekretaresse by die Departement Bedryfsingenieurswese begin werk. Sy is 'n uitsonderlike omgee-mens wat onselfsugtige toewyding en professionaliteit uitstraal. Hierdie eienskappe het betekenisvolle bygedra tot die sukses van die Departement. Vir haar is elke student belangrik, sy ken elkeen se naam en ondersteun hulle in elke aspek van hul studies.

Prof Lambert Engelbrecht: As 'n internasionaal en nasionaal erkende navorser in Maatskaplike Werk, het prof Engelbrecht 11 doktorale gegradueerdes uit ʼn totaal van 25 doktorale gegradueerdes oor die afgelope vyf jaar begelei en afgelewer. Sy werk is al 700 keer aangehaal en 181 artikels van sy artikels het al in geakkrediteerde top internasionale en nasionale vaktydskrifte verskyn. Hy het ook al talle navorsingsbeurse ontvang. Sy deelname aan nasionale navorsingsverwante aktiwiteite het gelei tot 'n direkte impak op nasionale beleidsformulering oor die supervisie van maatskaplike werkers in die land.

Dr Therese Fish: Sy het die Universiteit meer as 'n dekade lank in haar hoedanigheid as Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak met onderskeiding gedien. Haar vooruitdenkende, kragdadige en vernuwende leierskap het erkenning vir die US as 'n wêreldleier in die lewering van gedesentraliseerde kliniese opleiding vir professionele gesondheidswerkers help vestig. Dr Fish se nougesette verbintenis tot maatskaplike geregtigheid, het n transformerende impak op die Universiteit én die gesondheidsektor in Suid-Afrika gehad.

Prof Chris Reddy:  'n Uitnemende vakkundige en Nasionale Navorsingstigting-gegradeerde navorser, Prof Reddy het sy navorsing suksesvol met onderrig en sosiale impak integreer. Deur sy hele 20 jaar lange loopbaan aan die Universiteit Stellenbosch, waaronder 'n termyn as departementshoof, het hy baanbrekergemeenskapsprojekte gelei en 'n reusebydrae gelewer tot die ontwikkeling van omgewingsopvoeding deur sy navorsing en akademieskap.