Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kapasiteitsbou deur samewerking: ʼn oorsig van die Erasmus+ Kapasiteitsbou
Outeur: SU International
Gepubliseer: 13/12/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) werk al lank saam met die Europese Uitvoerende Agentskap vir Onderwys, Oudiovisueel en Kultuur (EACEA) en neem al sedert die ontstaan van die Erasmus Plus-program in 2014 aktief daaraan deel. Die Erasmus Plus-program het verskeie kernwerksaamhede waardeur die aktiwiteite geïmplementeer word. Kernoptrede II: Samewerking vir innovasie en die uitruil van goeie praktyke[1] maak voorsiening vir projekte wat op kapasiteitsbou in hoër onderwys (KBHO) fokus.

Die KBHO-projekte steun die modernisering, toeganklikheid en internasionalisering van hoër onderwys in die deelnemende vennootlande (soos Suid-Afrika), deur hulle te ondersteun met die oorkoming van die uitdagings waardeur hulle hoëronderwysinstellings (HOI's) en -stelsels gekonfronteer word. Hierdie uitdagings sluit uitdagings ten opsigte van gehalte, relevansie, gelykheid van toegang, beplanning, lewering, bestuur en bestuursbeheer in. Die projek dra ook tot samewerking tussen die Europese Unie (EU) en hierdie lande by, deur interpersoonlike skakeling, interkulturele bewustheid en begrip te bevorder.

Die doelwitte van hierdie KBHO-projekte is, onder andere, die verbetering van die gehalte van hoër onderwys en die versterking van die relevansie daarvan vir die arbeidsmark en die samelewing; die verbetering van die bevoegdheids- en vaardigheidsvlakke in HOI's deur die ontwikkeling van nuwe en innoverende onderwysprogramme; en die bevordering van streeksintegrasie en -samewerking oor verskillende wêreldstreke heen deur gesamentlike inisitatiewe, die deel van goeie praktyke en samewerking.

Oor die afgelope sewe jaar was die US ʼn vennoot (en in sommige gevalle die koördineerder) in 12 KBHO-projekte. Die onderstaande ses (6) projekte is suksesvol afgehandel en ons geniet nog steeds die voordele van hierdie projekte in kapasiteit en strukture wat aan die Universiteit ontwikkel is; veral ten opsigte van die ondersteuning van nagraadse studente, die internasionalisering van PhD-studies en navorsingsbestuur in HOI's:

  • Enhancing Postgraduate Environments (EPE) (Verryking van Nagraadse Omgewings) (https://postgradenvironments.com/)
  • International Learning Network of networks on Sustainability (LeNSin) (Internasionale Leernetwerk van Volhoubaarheidsnetwerke) (http://www.lens international.org/about)
  • Development of a HArmonized MOdular Curriculum for the Smart Grid (DAMOC) (Ontwikkeling van ʼn Geharmoniseerde Modulêre Kurrikulum vir die Slimnetwerk) (https://damoc.eu/)
  • Strengthening of collaboration, leadership and professionalisation in research management in SADC and EU higher education institutions (SToRM) (Versterking van samewerking, leierskap en professionalisering in navorsingsbestuur in die hoëronderwysinstellings van die SAOG en die EU) https://sites.google.com/view/projectstorm/home) (US was die koördinerende vennoot)
  • Building capacity by implementing Mental Health Gap Action Programme (mhGAP) mobile intervention in SADC countries (MEGA) [Kapasiteitsbou deur die implementering van mhGAP-selfoonintervensie (geestesgesondheidsgaping-aksieprogram) in SAOG-lande]
    (https://mega.turkuamk.fi/)
  • Development of the Internationalization of PhD studies in South Africa (YEBO!) (Ontwikkeling van die Internasionalisering van PhD-studies in Suid-Afrika) (https://yebo.cut.ac.za)

Ons is by ses (6) aktiewe KBHO-projekte betrokke, waarvan die meeste weens die uitdagings en beperkings van die Covid-19-pandemie verleng is. Hierdie projekte fokus hoofsaaklik op kurrikulumontwikkeling en die versterking van die betrekkinge tussen HOI's en die groter ekonomiese en maatskaplike omgewing:

  • Internationalising local development: A Global University Network for Vini/viticulture (VitaGlobal) (Die internasionalisering van plaaslike ontwikkeling: ʼn Globale universiteitsnetwerk vir wynbou en wingerdkunde) (https://www.vitaglobalproject.org/)
  • Bakeng se Afrika (https://www.up.ac.za/bakeng se afrika)
  • Improving Early Nutrition and Health in South Africa (ImpENSA) (Verbetering van Vroeë Voeding en Gesondheid in Suid-Afrika) (https://www.earlynutrition.org/impensa)
  • 21st Century Climate-Smart Forestry Education for Livelihood and Sustainability in South Africa (FOREST21) (21ste-eeuse Klimaatslim Bosbou-opvoeding vir Lewensonderhoud en Volhoubaarheid in Suid-Afrika) (https://www.forest21.org/)
  • Living Laboratory in Climate Change (LiLaCC) (Lewende Laboratorium in Klimaatsverandering) (http://lilacc.org/)
  • Nematology Education in Sub-Saharan Africa (NEMEDUSSA) (Nematologie-opvoeding in Afrika Suid van die Sahara) (https://nemedussa.ugent.be/)

Die gesamentlike begroting vir hierdie 12 projekte is meer as 11 miljoen euro en finansier aspekte soos personeelkoste, reiskoste vir die beweeglikheid van personeel en studente, toerustingkoste, en subkontrakteringskoste vir die suksesvolle implementering van die projekte. Die samewerkende pogings in hierdie konsortiums het ons samewerking met sommige van ons bestaande bilaterale vennote versterk en gelei tot nuwe inisiatiewe met vennootskappe wat uit hierdie projekte ontstaan het. Dit het ook ʼn groot rol gespeel in die ontwikkeling van samewerking tussen universiteite in Suid-Afrika ter ondersteuning van die groter landskap van hoër onderwys. Ons is opgewonde oor die nuwe moontlikhede wat die Erasmus+ 2021-2027 sal inhou en vennote kan gerus vir Alecia Erasmus by aleciaerasmus@sun.ac.za kontak as hulle in enige van die nuwe geleenthede belangstel.



[1]Dit sal verander na Kernoptrede 2: Samewerking tussen organisasies en instellings onder die nuwe Erasmus Plus-program en sommige van die doelstellings en doelwitte kan aangepas word.