Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ingeslote internasionalisering deur Universiteit Stellenbosch Internasionaal se nuwe Globale Leierskap-module
Outeur: SU International
Gepubliseer: 13/12/2021

​Op 29 September 2021 is die geleentheid om met nuwe kennis die leiding geneem en verby grense te dink, deur die Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal se Globale Onderwyssentrum bekend gestel in die vorm van ʼn interdissiplinêre en multikulturele module. Die akademiese module, Globale Leierskap, is die eerste van sy soort aan die US en kombineer komplekse probleemoplossing en die toepassing van teorie in die praktyk – ʼn poging om ʼn transformerende studentervaring te bied en om internasionalisering tuis as deel van die Universiteit Stellenbosch se Visie 2040 te aanvaar. Die enorme skaal, kompleksiteit en dringendheid van die uitdagings waardeur die wêreld vandag gekonfronteer word, vra om meer reaktiewe en verantwoordelike leierskap in die sakewêreld, regerings en die burgerlike samelewing. Doeltreffende leierskap in die 21ste eeu behels optrede binne ʼn nuwe konteks wat gekenmerk word deur veranderende demografie en verwagtinge, die toevloed van nuwe tegnologie en verandering teen ʼn vinnige tempo. Hierdie vinnige verandering vereis leiers wat tradisionele leierskapsverwagtinge kan kombineer met nuwe bevoegdhede om hulle omgewings te help floreer – ʼn uitkoms wat, volgens beplanning, met hierdie module bereik sal word.

Internationalisering aan die US word omskryf as “'n institusionele verbintenis om op doelbewuste en omvattende wyse 'n internasionale, tussenkulturele en globale dimensie by die doel, funksies en programme van alle US-studente en -personeel te integreer ten einde die gehalte en impak van leer en onderrig, navorsing en innovasie tot sinvolle diens van die samelewing te bevorder". Internationalisering tuis in die studentedimensie neem die vloei van studente in ag en sluit verwysing in na die internasionale studente aan die instelling (graad en niegraad, alle studievlakke en alle vakgebiede) en die beweeglikheid van studente om ʼn internasionale studie-ervaring in programme in te sluit. Die studentedimensie dra ook by tot die op-kampus- studente-ervaring wat die instelling graag vir plaaslike en internasionale studente wil skep en word gekoppel aan die eienskappe van graduandi waarvan die instelling ʼn voorstander is.

ʼn Geïnternasionaliseerde tuiskurrikulum is nie die mikpunt nie, maar dien eerder as ʼn instrument vir die verryking van vaardighede – en rus graduandi vir die werksplek toe terwyl dit die voordele van internasionalisering aan alle studente bring en nie slegs aan die beweeglike minderheid nie (aangesien fisiese studentebeweeglikheid steeds tot ʼn klein minderheid van studente wêreldwyd beperk is). Die US se Globale Leierskap-module word beskou as ʼn manier om studente nie slegs vir hulle rol as verantwoordelike beroepslui voor te berei nie, maar ook as globale burgers en agente van verandering. Die temas wat in hierdie module gedek word, sluit in globale bevoegdhede soos tussenkulturele bevoegdheid en emosionele intelligensie; innovasie en entrepreneurskap wat fokus op sakemodeleksperimentering, globale etiek en verantwoordelikheid wat in die globale korporatiewe arena toegepas word; organisatoriese verandering, risikobestuur, die opkoms en ondergang van sosiale bewegings en die toekoms van Afrika. Die Globale Leierskap-kurrikulum illustreer hoe ʼn geïnternasionaliseerde tuiskurrikulum tot die bereiking van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte en herstel van die impak van die Vierde Industriële Revolusie kan bydra.

Die eerste studentekohort vir die loodsfase het bestaan uit meestergraad-studente uit die SKEMA-bestuurskool, plaaslike BCom-studente in Internasionale Besigheid en ook studente uit ander dissiplines regoor US-fakulteite. Die aanbieders van die sessies word beskou as kundiges op hulle gebied en sluit verteenwoordigers van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die US, UNC Charlotte, Marubeni Trading Corporation en US-personeel uit Politieke Wetenskap, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Teologie in. Gefasiliteerde praktiese sessies stel die kohort aan ontwerpdenke as ʼn benadering tot en hulpmiddel vir komplekse probleemoplossing bekend. Vir die praktiese komponente van hierdie module het US Internasionaal deur middel van die Franse Kamer van Koophandel en Industrie in Suid-Afrika met PayGas saamgespan om as bedryfsvennoot te dien. Feitlik die helfte van die wêreldbevolking – nagenoeg 3.8 biljoen mense – het steeds nie toegang tot moderne brandstof nie. PayGas werk onvermoeid om seker te maak dat ʼn oplossing vir enigeen, op enige tydstip en op enige plek binne bereik is. Studente benader hierdie taak as konsultante vir PayGas en bied, vir die geïdentifiseerde geleenthede, oplossings vir die uitbreiding van hulle voetspoor en vir nuwe maniere om waarde aan meer klante te lewer. Hierdie konsultasieprojek dien as die praktiese komponent om vaardighede deur ervaringgerigte leer op te doen in aspekte soos skaalbaarheid en kommersiële ontplooiing, op die verskillende fokusgebiede binne PayGas se sakemodel.

US Internasionaal se Globale Onderwyssentrum (GOS) maak van ko-kurrikulêre en kurrikulêre intervensies gebruik om tuis-internasionalisering en globale leerinisiatiewe te ontwikkel en te implementeer. Die mikpunt is om te help om die US se eienskappe van graduandi in ons studente te ontwikkel en hulle aanstelbaarheid te verbeter, terwyl die onderrig- en leeromgewings soos nodig ondersteun word. In die woorde van prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake: 'dit dien as ʼn uitstekende geleentheid in die vorm van kennisdiplomasie in die aanpak van globale kwessies'.