Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Ronita Mahilall wil aandag vestig op palliatiewe en spirituele sorgdienste
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 13/12/2021

Toe dr Ronita Mahilall, hoof-uitvoerende beampte van St Luke's-gekombineerde hospies in Kaapstad, haar geliefde man en seun 14 jaar gelede verloor het, het sy antwoorde op haar vrae oor die lewe, die dood en wat ná die dood gebeur, gesoek. As 'n toegewyde Hindoe het sy al hoe meer met spiritualiteit gefassineerd geraak en die wêreld van palliatiewe sorg, of einde-van-lewesorg, en spirituele sorgdienste betree. Dit het uiteindelik gelei tot 'n doktorsgraad in die Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) onder leiding van prof Leslie Swartz van die US se Departement Sielkunde. Mahilall het haar PhD Maandag, 13 Desember 2021 by die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang.

Sy sê sy het die US gekies omdat sy geweet het sy wou 'n studieleier hê wat 'n begrip het van hospitiums en palliatiewe sorg en binne so 'n ruimte gewerk het. “Leslie was gevestig in sy werk oor gestremdheid en het 'n jarelange verbintenis met St Luke's en ons werk, veral spirituele sorgdienste, gehad. Vir my was dit uiters belangrik dat my studieleier goed ingelig is oor 'n vakgebied met beperkte hulpbronne."

Mahilall, wat oorspronklik van KwaZulu-Natal is en 'n agtergrond in maatskaplike werk het, het in 2016 by St Luke's aangesluit nadat sy na die Moederstad verhuis het. Sy wou by haar twee dogters, Chiara en Ureesa, wees nadat hulle aan die Universiteit Kaapstad (UK) gegradueer het. Dit is by St Luke's dat sy bewus geword het van die skaal en omvang van die palliatiewe sorg en spirituele sorgdienste, wat hospitiums in die Wes-Kaap en ander dele van Suid-Afrika aan terminaal-siek pasiënte en hul gesinne verskaf. St Luke's, wat al vir meer as 40 jaar palliatiewe sorg in Kaapstad aanbied, beskik oor een van die mees gevestigde geestelike sorgdienste in die Wes-Kaap en het 'n groot kohort spirituele sorgwerkers.daughters.jpg

“Hoewel dit my ontroer het, was dit vir my ietwat hartseer dat spirituele sorgdienste nie die prominensie en erkenning kry wat spirituele sorgwerkers en ander in die organisasie glo hulle, as deel van die algehele palliatiewe versorgingsdienspakket, verdien nie. Ek wou die aandag op hierdie kwessies vestig en het besluit dat 'n doktorale studie 'n goeie plek is om te begin," sê Mahilall.

As deel van haar PhD-studie, het sy 'n nasionale aanlyn opname, onderhoude en groepbesprekings gebruik om die spirituele sorgdienste wat tans by die 104 gelyste hospitiums in Suid-Afrika aangebied word, te ondersoek en te verstaan. Sy wou ook verken hoe hospitiums spirituele sorg sien  en toepas, en wat die ondervindinge van die spirituele sorgwerkers binne 'n hospiese palliatiewe sorg-opset is, insluitend om hul uitdruklike en genuanseerde spirituele sorg-opleidingsbehoeftes te verstaan.   

Mahilall wys daarop dat geestelike sorgwerkers in Suid-Afrika gewoonlik vrywilligers is met geen voorvereiste kwalifikasie vir die verlening van spirituele sorg nie. Sy sê dit verskil van lande in die Globale Noorde waar geestelike sorgwerkers meestal betaalde personeel is met een of ander agtergrond in gesondheidsorg as 'n toelatingsvereiste. “Die prentjie lyk aansienlik anders in Suid-Afrika aangesien spirituele sorg dikwels vanuit 'n mens se se persoonlike ervarings en perspektief beoefen word wat implikasies vir sorguitkomste kan hê."

Mahilall sê haar studie toon dat spirituele sorgwerkers uitgesluit voel en gevolglik sien hulle die formalisering van spirituele sorgdienste, deur die ontwikkeling van 'n onafhanklike opleidingskurrikulum, as 'n tree in die regte rigting om belangrikheid en erkenning te verkry.

“Op grond van die oortuigings en tradisies van die wye spektrum van pasiënte wat deur hospitiums bygestaan word, het personeel die belangrikheid van spiritualiteit as deel van holistiese palliatiewe sorg bepleit.

“Die behoefte aan spirituele sorg-opleiding en die ontwikkeling van 'n spirituele sorg-kurrikulum wat by die Suid-Afrikaanse konteks pas het duidelik in die data na vore gekom. Maar in vergelyking met ons huidige werklikhede en prioriteite, wat hoofsaaklik op die aanspreek van ongelykhede, die groei van die ekonomie en die hantering van die COVID-19 pandemie fokus, is ek nie so seker of dit die regte tyd vir die ontwikkeling van 'n onafhanklike spirituele sorg-kurrikulum vir Suid-Afrika is nie," meen Mahilall.

Volgens haar is palliatiewe sorg eers onlangs as deel van die gesondheidsorgstelsel en kontinuum van sorgdienste in Suid-Afrika erken. “Dit sukkel nog steeds om sy regmatige plek en erkenning te vind. Opleidingsbehoeftes, veral in spirituele sorg soos my werk aandui, is grootliks onvoldoende en gefragmenteerd."

Sy sê die behoefte aan sorg, en veral spirituele sorgdienste, kan nie meer akuut as in die huidige pandemie ervaar word nie.  

“Terwyl die tydsverloop van diagnose tot afsterwe in baie Covid-19-gevalle so kort is dat daar geen tyd vir sinvolle palliatiewe sorg-ingrypings is nie, is daar steeds gesinslede wat hul verlies moet verwerk. Dit is waarom palliatiewe sorg so belangrik is. Die span wat vertroostingsorg aanbied, behoort vol te hou om die gesin met belangrike herdenkings soos 'n verjaardag, huweliksherdenking, ens., te ondersteun, selfs vir meer as 13 maande nadat die pasiënt oorlede is.

“Ons spirituele sorgkollegas help nie net pasiënte om betekenisvolle antwoorde op vrae oor die lewe, godsdiens en wat na die dood gebeur, te vind nie, hulle bied ook berading aan, en ondersteun en fasiliteer versoening in gevalle waar die pasiënt met 'n familielid 'vrede wil maak'."

Ronita-Leslie.jpgNadat sy die toppunt van akademiese prestasie bereik het, is Mahilall vol lof vir haar span wat uitsonderlike palliatiewe sorgdienste aan pasiënte en hul gesinne verskaf, en ook omdat hulle haar tydens die pandemie ondersteun het.

“Hulle is so lewenskragtig, so passievol, so vrygewig en so positief, selfs met die dood wat hulle daagliks in die gesig staar. Ook in die beginstadium van COVID-19, toe ons almal met vrees en onsekerheid oorweldig was, het die kliniese spanne hul persoonlike beskermende toerusting aangetrek sonder om 'n maat te mis. Hulle inspireer my voortdurend.

“Ek is so trots op die daghospitium-sorgmodel, 'n gemeenskapsgebaseerde buitepasiëntdiens wat ons in plek het vir pasiënte met 'n terminale diagnose, maar wat nie aktief besig is om te sterf nie. As 'n een-stop palliatiewe sorgdienseenheid, bied hierdie model groepsondersteuning aan pasiënte wat met 'n soortgelyke uitdaging sukkel. Ons is realiste; 'n terminale diagnose kan nie omgekeer word nie. Ons help pasiënte en hul gesinne om hul diagnose te aanvaar en ten volle binne die beperkings van die diagnose te leef.

“Wat my die meeste ontroer, is die volhardingsvermoë van my personeel en vrywilligers om hierdie moeilike pad daagliks saam met hul pasiënte te stap en steeds nuwe pasiënte aan te neem terwyl hulle deurgaans dieselfde gehalte sorg, liefde, deernis en ondersteuning bied. Hulle is spesiale mense met 'n ongelooflike vermoë om sorg en ondersteuning te bied," sê Mahilall.  

Sy beklemtoon die behoefte aan befondsing sodat hospitiums kan volhou om noodsaaklike dienste aan gemeenskappe regoor die land te lewer.

“Ons regering sien die waarde van hospitiums raak, maar dit kry nie gestalte in die finansiële ondersteuning wat ons soek nie. Dit is jammer."

Hoewel befondsing steeds 'n struikelblok is, hoop sy haar studie sal nasionale en internasionale erkenning vir palliatiewe sorg en spirituele sorgwerk bring.

Met haar PhD-studie voltooid en afgehandel, sal Mahilall, wat haarself as 'n fynproewer van formaat beskryf, meer tyd hê om te kook, bak, disse te kombineer, met speserye te eksperimenteer, na maniere te soek om verskillende elemente van smaak en tekstuur by haar geregte te voeg, en verskillende wynsoorte te proe terwyl sy familie en vriende onthaal.

En nadat sy reeds brugspring, swaaispring en valskermsweef aangedurf het, sal sy ook haar volgende avontuur kan beplan: om uit 'n vliegtuig te spring.

Maar voor dan sal Mahilall haar werk by die UK se Somerskool deel en in 2022 Kings College London in die Verenigde Koninkryk besoek.

  • Hooffoto: Dr Ronita Mahilall by die gradeplegtigheidseremonie. Foto 1: Dr Ronita Mahilall saam met haar dogters Chiara en Ureesa. Foto 2: Dr Ronita Mahilall saam met haar studieleier prof Leslie Swartz.
  • Fotograaf: Stefan Els

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Ronita Mahilall

St Luke's-gekombineerde hospiesKaapstad

E-pos: ronitam@stlukes.co.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za