Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW is gasheer vir leerders wat aan die Nasionale Debattoernooi deelneem
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 09/12/2021

Die Tygerberg-kampus gaan gons met die stemme van die skerpste jong breine in die Wes-Kaap wanneer 60 skoolleerders van oor die provinsie in Desember hier byeen gaan kom om deel te neem aan die Nasionale Debattoernooi.

Die aanbieding van die toernooi by die Tygerberg-kampus is deel van ʼn nuwe vennootskap tussen die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en die Wes-Kaapse Skole Debatsraad. Die FGGW-bestuur het ingestem tot ʼn versoek van die raad om van persele op die kampus gebruik te maak vir die kompetisie, insluitend akkommodasie vir die Wes-Kaapse leerders vir die toernooi wat van 15-19 Desember gehou gaan word.

Die afvaardiging van die Wes-Kaap sal by die Tygerberg-kampus gehuisves word en via die internet met redenaars in ander provinsies skakel.

Die vyfde jaar mediese student Abdul Aziz is die hoofafrigter vir die Wes-Kaap Skole Debat-raad. Hy beskryf die vennootskap as ʼn uitstekende manier om die leerders – waarvan ongeveer ʼn derde vanuit minderbevoorregte agtergronde kom – bloot te stel aan die tersiêre omgewing.

“Die leerders sal van die universiteit se hulpbronne kan gebruik maak, insluitend toegang tot wifi om aanlyn debatte met leerders van ander provinsies te kan voer," het hy gesê.

“Deur ʼn paar dae by die FGGW deur te bring sal leerders die geleentheid bied om hulleself ʼn toekoms in te sien waar hulle moontlik lede of selfs leiers by die universiteit kan wees. Dit kan hulle ʼn blik gee op hoe die lewe na hoërskool kan wees en hulle aanmoedig om toekomstige baanbrekers of miskien medici te word," het hy gesê.

Aziz, wie vir die afgelope 10 jaar reeds by debatvoering betrokke is – eers as ʼn skool leerder en vir die afgelope vyf jaar as ʼn redenaar vir die Universiteit Stellenbosch, asook ʼn afrigter – het gesê dat die 60 Wes-Kaapse redenaars in die toernooi uit ʼn groep van 350 leerders gekies is om die provinsie te verteenwoordig.

Die redenaars sal in spanne van drie of vier sprekers saamwerk en sal beoordeel word ten opsigte van hulle prestasie. Die top 20 individuele sprekers sal ook aangewys word.

“Die debatte sal nege temas dek en kan verband hou met enigiets van geneeskunde en gesondheidsorg tot ekonomie en internasionale verhoudinge. Die Nasionale Skole Debatsraad kies onderwerpe na konsultasie."

Aziz het bygevoeg dat debatvoering so veel als moontlik onder skoolleerders bevorder moet word aangesien dit help om kritiese denke te ontwikkel, asook algemene redenaarskuns deur middel van debatvoering.

Die Wes-Kaapse Skole Debatsraad is ʼn openbare bystandsorganisasie wat verskeie toernooie in die provinsie hou reg deur die jaar. Dit bestaan uit vier ligas – die Rotariërliga, die Thethani Debatsliga, die Boland Skole Debatsliga en die Wynland Debatsliga.

Die Rotariërliga bedien 40 skole en is die grootste liga in die Wes-Kaap. Dit word bestuur deur die Kaapstad Rotariërklub in samewerking met die Universiteit van Kaapstad se Debatsunie. Die Thethani Debatsliga bestaan uit 22 skole in townships in Kaapstad, insluitende Philippi, Khayelitsha, Strandfontein, Langa en Ottery en bereik meer as 300 leerders. Die Boland Skole Debatsliga word bestuur deur die Universiteit Stellenbosch se Debatsvereniging en bestaan uit 10 skole in Stellenbosch en omliggende gebiede. Die Wynland Debatsliga was gemodelleer op die Thethani Debatsliga en bedien tans vier skole in Kayamandi, Makupulla, Luckhoff en Cloetesville.

Die Suid-Afrikaanse nasionale redenaarskompetisie sien elke jaar die top provinsiale skole redenaars deur ʼn strawwe keuringsproses gaan om mee te ding vir die titel van nasionale kampioene. Die kompetisie bestaan uit junior- (graad 8 en 9) en senior- (graad 10 tot 12) afdelings en vind plaas in groeprondes, gevolg deur ʼn uitklopstryd waar die uiteindelike wenners gekies word. Redenaars by die kompetisie het ook die geleentheid om gekies te word vir uitdunne vir die nasionale span. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Skole Redenaarspan is een vir die sterkste spanne ter wêreld en die afgelope paar jaar is die Wes-Kaap goed verteenwoordig in die nasionale span.

Dr Therese Fish, Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak het gesê dat die FGGW se visie vir sosiale impak ʼn “fokus op die bevordering van innovasie, inklusiwiteit, volhoubaarheid en transformerende skakeling met individue, sosiale groepe, organisasies en die instansies wat ons bedien.

“Vennootskappe tussen die fakulteit en verskeie belanghebbendes en rolspelers in die gemeenskap is belyn met ons mandaat, dus verwelkom die fakulteit die samewerking met die Wes-Kaapse Debatsraad met die aanbieding van die Nasionale Debattoernooi in Desember 2021 aangesien dit vennootskappe koester.

“Die fakulteit het ten doel om jong mense (baie van wie potensiële toekomstige studente by van die US en die FGGW is) te ondersteun, te bemagtig en te ontwikkel deur hulle ʼn geleentheid te bied en blootstelling te gee aan ervarings wat hulle vaardighede sal slyp en hulle bekend sal stel aan die moontlikheid van hoëronderrig," het Fish gesê. ​


Foto-erkenning: PIXABAY