Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 2 Desember 2021)
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 08/12/2021

Beste lede van die US-gemeenskap

Hierdie skrywe is my laaste boodskap as Voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US), ʼn amp wat ek op 2 Desember 2021 neergelê het. Omdat ek egter nog op daardie dag ons laaste vergadering van die jaar gelei het, is dit vir my ʼn plesier om hierdie terugvoering te gee.

Die Raad het met die instemming van die Senaat ʼn nuwe Taalbeleid vir die US bepaal; die Universiteit se begroting vir 2022 goedgekeur, insluitende aanpassings in personeelvergoeding en studiegeld; asook ʼn hersiene Studentegrondwet aanvaar wat deur die Studenteraad (SR) voorgelê is.

Ons het ook ondersteuning verleen aan die Universiteit se planne om volgende jaar terug te keer na leer, onderrig en assessering wat volledig van aangesig tot aangesig plaasvind, mits COVID-19 dit toelaat. Bestuur het ons voorts ingelig oor die vordering met die ontwikkeling van ʼn institusionele reël oor inenting teen koronavirussiekte.

Die afgelope twee jaar met die pandemie was uitdagend, maar ons Universiteit het deurgaans uitmuntend gevaar. Ons het die volgende mosie van waardering eenparig aanvaar: “Die Raad wil die Rektor, sy bestuurspan en die personeel gelukwens dat hulle, ondanks talle uiteenlopende uitdagings, voortgegaan het om die Universiteit met groot toewyding te bestuur en resultate te lewer wat die US se strategiese doelwitte bevorder." En ek wil byvoeg dat ons studente ons baie trots maak.

Daar was hoogte- én laagtepunte in my twee termyne as Voorsitter, maar ek is oor die algemeen baie tevrede met die US se vordering oor die afgelope dekade. Dit was ʼn groot voorreg om my alma mater in hierdie hoedanigheid te dien en ek wil almal vir hul ondersteuning bedank.

Die US is bevoorreg om nou iemand van die formaat van my opvolger, mnr Ainsley Moos, aan die stuur van die Raad te hê (klik hier vir meer inligting). Ek is vas oortuig dat hy ʼn uiters bekwame voorsitter sal wees en ons wens hom alles van die beste toe.

Lees gerus hieronder verder vir meer besonderhede oor kwessies waaraan ons tydens ons vergadering aandag gegee het.​

Alles van die beste met die laaste pligte van die jaar. Ná ʼn veelbewoë 2021 sal die komende gradepleghede van 13 tot 16 Desember, waartydens duisende US-studente hul kwalifikasies sal ontvang, ongetwyfeld ʼn hoogtepunt wees (besonderhe​de hier). Geniet die komende rustyd en keer veilig in 2022 terug.

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter (uittredend): US Raad

Reël oor inenting teen COVID-19

By ons vorige vergadering op 27 September 2021 het die Raad die bedreiging bespreek wat die koronavirus-pandemie (COVID-19) inhou. ʼn Beroep is op bestuur gedoen om dringend aan die ontwikkeling van ʼn institusionele reël oor inenting teen die siekte te werk. By ons vergadering op 2 Desember 2021 het bestuur oor vordering in hierdie verband verslag gedoen.

Die voorgeskrewe risiko-assessering is uitgevoer en bestuur het besluit dat ʼn hoë inentingskoers benodig word om ʼn veilige kampus en werksomgewing vir al die US se studente, personeel en ander persone te bied.

Die US het op 3 Desember 2021 ʼn proses van openbare deelname oor die instelling se voorgenome institusionele reël oor inenting teen COVID-19 van stapel gestuur. Die tydperk van openbare deelname sal tot 15 Januarie 2022 strek.

Alle belanghebbers – insluitende personeellede en studente – word aangemoedig om deel te neem:

Let asseblief daarop dat die US weens die aard van die openbare deelnameproses nie op individuele e-pos-kommentaar buite die proses sal kan reageer nie.

Die kommentaar en insette sal ná die sluitingsdatum oorweeg word. Daarna sal die inentingsreël vir interne raadpleging en goedkeuring gefinaliseer word, met die Raad wat die laaste sê sal hê.

Besoek die US se COVID-19-inentingsblad vir meer inligting.

Begroting 2022

Die Raad het op aanbeveling van sy Uitvoerende Komitee die US se geïntegreerde begroting vir 2022 en finansiële beplanning vir die tydperk 2023 tot 2027 goedgekeur. Volgens prof Stan du Plessis, Bedryfshoof, was die begrotingsproses deelnemend en verseker die begrotingsmodel voorspelbaarheid en deursigtigheid.

Die hooftrekke van volgende jaar se begroting is soos volg:

  • Studiegeld styg met 5,35%. Dit verteenwoordig 'n inflasieverwante aanpassing om die jaarlikse kostestyging by die Universiteit te dek.
  • Studentehuisvestingsgeld styg met 7% teen die agtergrond van die eskalerende kostefaktore verbonde aan die behuisingsbegroting. Dié begroting moet selfonderhoudend wees en afsonderlik hanteer word, soos vereis deur die regering.
  • 'n Algemene styging van 4,5% in personeelvergoeding, op aanbeveling van die Raad se Vergoedingskomitee.

Die hoofbegroting vir 2022 bedra R3,26 miljard, waarvan 49,4% aan fakulteite gaan, 27,5% aan die institusionele komponent, 20,8% aan professionele en administratiewe steundienste, en 2,7% aan die strategiese komponent.

Die US se totale geïntegreerde begroting vir 2022 bedra R6,94 miljard. Dít sluit inkomste uit kontraknavorsing, skenkings en kommersiële aktiwiteite in, wat gesamentlik 42,3% van die Universiteit se inkomste uitmaak. Die US se staatsubsidie maak 28,9% van die geïntegreerde begrotingsinkomste uit en studie- en huisvestingsgeld 26,3%. Ander inkomstebronne dra 2,5% by.

Die US se  geïntegreerde begroting is opgestel teen die agtergrond van ʼn waarskynlike besnoeiing van staatsubsidie in 2022 weens die sorgwekkende toestand van die nasionale regering se finansies, en tekorte in die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS). Die Raad het kommer uitgespreek oor twee aansienlike sektorrisiko's: die volhoubaarheid van die staatsubsidie en die moontlike regulering van studiegeld.

Die goedkeuring van die begroting is onderworpe aan die finale bevestiging van ons staatsubsidie teen die einde van 2021. Derhalwe het die Raad oudergewoonte ingestem dat die Rektor en die voorsitter en ondervoorsitter van die Raad enige begrotingswysigings goedkeur wat moontlik uit die bevestiging van die staatsubsidie kan spruit, ná oorlegpleging met die voorsitter van die Oudit- en Risikokomitee. Indien die wysigings beduidend is, moet 'n Raadsvergadering egter belê word.

Hersiene US Taalbeleid goedgekeur

Die Raad het die US se hersiene Taalbeleid met ʼn oorweldigende meerderheid goedgekeur. Daarmee is die deeglike, omvattende en oorlegplegende beleidshersieningsproses wat in Oktober 2020 begin het, amptelik afgesluit. Die 2021-hersiening het deel uitgemaak van 'n hersieningsiklus van vyf jaar wat die 2016-beleid voorgeskryf het.

Die Senaat het op 26 November 2021 ook die finale konsep met 'n oorweldigende meerderheid goedgekeur en by die Raad aanbeveel. Ingevolge die Wet op Hoër Onderwys sowel as die US Statuut is die Taalbeleid die enigste beleid wat die Raad met die instemming van die Senaat moet goedkeur. Ook die Institusionele Forum (IF) het twee weke vantevore die konsep aanvaar en by die Raad aanbeveel.

Die hersiene Taalbeleid herbevestig dat die US 'n nasionale bate in 'n diverse samelewing is. Sonder om uit die oog te verloor dat die US ook gemeenskappe oor die vasteland en die wêreld heen bedien, verbind ons onsself opnuut tot meertaligheid deur die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa, te gebruik. Sodoende ontgin ons die intellektuele rykdom wat in ons taaldiversiteit opgesluit lê.

Die hersiene beleid tree Januarie 2022 in werking. Klik hier vir meer inligting, hier vir ʼn inligtingsgrafiek en hier vir die beleid self.

Hersiene US Studentegrondwet goedgekeur

Die Raad het die hersiene Studentegrondwet van die US goedgekeur, op voorwaarde dat die Studenteraad (SR) ʼn jaar ná implementering oor die doeltreffendheid daarvan verslag doen (d.w.s. by die eerste Raadsvergadering van 2023).

Die Studentegrondwet bevat die Handves van Studenteregte by die instelling, sit die parameters vir die verkiesing van verteenwoordigende studentestrukture by die US uiteen en konstitueer liggame soos die SR, die Studenteparlement, die Studentehof, die Akademiese Belangeraad en die Primkomitee.

Die vroegste Studentegrondwet op rekord is in 2011 deur die SR goedgekeur, en is in 2014 en 2018 hersien. Ingevolge die nuwe Statuut van die US, wat in 2019 aanvaar is, moet die Studentegrondwet deur die Raad goedgekeur word.

Die SR het in Desember 2020 begin om die Studentegrondwet te hersien. ʼn Omvattende proses het gevolg, wat oorlegpleging met die Kantoor vir Studentebestuur, die Afdeling Studentesake, die Rektoraat en die Raad se Uitvoerende Komitee ingesluit het. Al hierdie strukture het die hersiene dokument vir goedkeuring aan die Raad aanbeveel. Studente is ook uitvoerig geraadpleeg en het in ʼn universiteitswye referendum ten gunste van die finale konsep gestem.

'Spelbrekers' vir die US se toekomstige sukses

In sy bestuursverslag aan die Raad (klik hier vir die volledige dokument en hier vir ʼn skyfieaanbieding) het Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, uitgewys dat groot sorg aan die dag gelê word om die US op koers vir sukses ná COVID-19 te hou.

Die Rektoraat het sewe strategiewe areas vir die US se toekomstige volhoubaarheid geïdentifiseer:

  1. programvernuwing (om aan die vereistes van die wêreldekonomie te voldoen);
  2. die skool/fakulteit-model (om die US se akademiese, professionele en navorsingsaanbod meer vaartbelyn te maak);
  3. innovasie en entrepreneurskap (wat leer, onderrig, navorsing en kommersialisering insluit);
  4. die US se hibridiese model (om nuwe markte te bereik en te ontgin);
  5. assessering (nuwe en gepaste metodes om aan die vereistes van moderne handel en nywerheid te voldoen);
  6. modelle om vennootskappe in Afrika en die res van die wêreld te ontsluit; en
  7. die US se digitale transformasiestrategie (om die US vir die nuwe digitale era toe te rus).

Leer en Onderrig

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het sy eerste jaarverslag oor aktiwiteite in sy verantwoordelikheidsentrum (VS) aan die Raad voorgelê sedert hy in Januarie 2021 dié amp opgeneem het.

“Dit was uitdagend maar ook interessant om in die middel van ʼn pandemie aan te sluit. Ons moes een ongewone akademiese jaar voltooi en vir die begin van nog een beplan – terwyl ons in die proses verskillende metodes van afstandsonderrig, -leer en -assessering afgewissel het. Voeg by hierdie mengsel die hersiening van die Taalbeleid, wat vanjaar afgehandel moes word, en dit het alles gesorg vir ʼn uitdagende dog opwindende eerste jaar," het hy gesê.

“Die US is bekend vir sy uitnemendheid wat leer en onderrig betref en het een van die laagste uitvalkoerse en een van die hoogste studente-sukseskoerse onder Suid-Afrika se 26 openbare universiteite," het hy bygevoeg.

Sy verslag (klik hier vir die volledige dokument en hier vir skyfies) het ons ʼn goeie idee gegee hoekom dit die geval is, asook van pogings om seker te maak hierdie prestasie word nie net gehandhaaf nie, maar selfs verbeter.

Institusionele Plan 2022–2027

Die Raad het die US se Institusionele Plan (IP) 2022–2027 goedgekeur, soos ter tafel gelê deur prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake.

Die IP strook met die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, en word jaarliks aan die hand van die strategiese implementeringsplanne van VS'e en fakulteite bygewerk. Dit sal vervolgens saam met die begroting teen 15 Desember 2021 by die Departement Hoër Onderwys en Opleiding ingedien word.

Dekaan: Ingenieurswese heraangestel

Die Raad het kennis geneem van die heraanstelling van prof Wikus van Niekerk as Dekaan: Ingenieurswese vir die termyn 1 Julie 2022 tot 30 Junie 2027. Die US se Statuut stipuleer dat ʼn dekaan vir ʼn termyn van vyf jaar aangestel word en dat die ampsdraer vir nog een opeenvolgende termyn heraangestel kan word. Prof Van Niekerk dien tans in sy eerste termyn, wat op 30 Junie 2022 ten einde loop. Die voorsitter van die Komitee vir Senior Aanstellings het sy heraanstelling goedgekeur nadat Ingenieurswese se Fakulteitsraad ten gunste van hierdie voorstel gestem het.

Personalia

Die Raad het dr Jan Heunis as ʼn nuwe lid verwelkom. Hy is deur die Konvokasie vir die termyn van 8 Oktober 2021 tot 7 Oktober 2025 verkies.

Dit was prof Eugene Cloete se laaste Raadsvergadering as een van die viserektore, wat elke kalenderjaar moet roteer in ʼn volgorde wat deur die Rektor bepaal word.

Proff Amanda Gouws en Reggie Nel se termyn as Raadslede wat deur die Senaat verkies is, eindig ook op 31 Desember 2021.

Die volgende Raadslede se termyne eindig voor die eerste Raadsvergadering volgende jaar:

Adv Jean M​eiring en mnr Johan Theron, wat deur die Konvokasie verkies is (1 April 2022)

Mnr Wayde Davidse, wat deur die permanente professionele en administratiewe steundienspersoneel (PASD) verkies is (5 April 2022)

Die volgende Raadslede is met onlangse prestasies gelukgewens:

Me Viwe Kobokana het die Rektorstoekenning vir Uitnemende Diens ontvang 

Mnr Phillip Visage het die Rektorstoekenning vir Uitnemende Leierskap ontvang

Mnr George Steyn het ná twee termyne as Voorsitter van die Raad uitgetree nadat hy in 2012 die eerste keer in dié pos verkies is. Die Raad het hom bedank vir sy bekwame, onbaatsugtige en lojale diens aan die Universiteit. Hy het in 2010 die eerste keer by die Raad aangesluit en sal ʼn lid bly totdat sy termyn as Raadslid op 1 April 2022 verstryk. Hy is ook tot dan in die Raad se Uitvoerende Komitee heraangestel.

Die Raad het kennis geneem van die Registrateur se amptelike bekendmaking dat mnr Ainsley Moos van 3 Desember 2021 af die Raadsvoorsitter is, nadat geen ander nominasies ontvang is nie. Hy is met sy verkiesing gelukgewens. Sy termyn as Raadslid is tot 31 Mei 2026 verleng.

Om die pos te vul wat deur mnr Moos ontruim is, het die Raad mnr Hubert Brody tot 2 Desember 2025 as Ondervoorsitter verkies, op voorwaarde dat die US-donateurs hom herverkies voordat sy huidige termyn as Raadslid op 1 April 2022 verstryk. Hy dien sedert 2018 in die Raad.

Prof Prieur du Plessis is tot 31 Desember 2022 as Voorsitter van die Raad se Oudit- en Risikokomitee heraangestel.

Volgende vergadering

Die volgende Raadsvergadering is vir Maandag 11 April 2022 belê.

************

BO: Mnr Ainsley Moos, links, het die leisels as Voorsitter van die US Raad by mnr George Steyn oorgeneem. (Foto: Stefan Els; Grafika: Karin Bekker)