Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Omvattende steun by US lei tot studentesukses
Outeur: Dr Leslie van Rooi
Gepubliseer: 30/11/2021

Hierdie meningsartikel is op 27 November 2021 deur Netwerk24 gepubliseer. Klik hier vir daardie weergawe aanlyn, of lees die volledige teks hieronder.

Eerstejaarstudente aan die Universiteit Stellenbosch geniet omvattende taal- en ander steun. 'n Bewys hiervan is Matiestudente se goeie deurvloeikoerse, skryf dr Leslie van Rooi*.

Dit is 'n uitdaging vir universiteitstudente die wêreld oor om heelhuids oor die hekkie van die eerste studiejaar te kom. Vir Matiestudente lyk die prentjie meer rooskleurig.

Die Universiteit Stellenbosch (US) spog tans met van die beste deurvloeikoerse in die land en boonop het 'n rekordgetal studente in die 2020 akademiese jaar graad gevang. Dít is die resultaat van ondersteuningstrukture wat oor jare by die US opgebou is om studente binne en buite die klaskamer holisties by te staan en 'n universiteitservaring te bied wat afgestem is op die ontwikkeling van afgeronde jong leiers met 'n ondersoekende gees en wat 'n betrokke burger en 'n dinamiese professionele persoon in die werkplek kan wees. 

Dit is nie om dowe neute dat Studentesukses – akademies sowel as persoonlik – vervat is in die US se Strategiese Raamwerk 2019-2024 nie.

Dit is daarom jammer dat die oordrag van kennis in die tradisionele lesinglokaal die eng fokuspunt was van te veel debatte en gesprekke oor taal aan die US die afgelope paar maande. Alhoewel die leerervaring in die klaskamer steeds baie belangrik is, is dit lankal nie meer die enigste fokuspunt vir effektiewe leer nie.

Kwantumspronge op die tegnologiefront oor die afgelope paar jaar het die speelveld ingrypend verander – en dit hou aan verander. Studente is minder afhanklik van kennis-oordrag deur die dosent voor in die klas. Aanlyn lesings en klasbesprekings is aan die orde van die dag (of nag). Waar baie studente hul rekenaars klas toe geneem het, kom die klas nou meermale na hulle rekenaars toe.

Dit is die Universiteit se ervaring dat hierdie nie-tradisionele vorme van leer, wat portuur-leer insluit, 'n taal-soepel en effektiewe benadering tot die leerproses is. Dit hou ook 'n vryer omgang met taal in wat juis taaldiversiteit omarm.

Natuurlik is die US nie 'n kuber-universiteit nie en daarom wil ons volgende jaar tot 'n groot mate weer studente in die klas hê. Maar vir seker gaan nie alle aanvanklike kennis-oordrag hier plaasvind nie. Daarvoor het universiteite wêreldwyd reeds te veel drastiese omwentelings ondergaan – op 'n sneltrajek geplaas deur die Covid-19-pandemie.

Waarskynlik gaan ons baie meer aflyn groepwerk en informele besprekings sien. Rou kennis word elektronies beskikbaar gestel en die lesinglokaal word toenemend 'n ruimte vir bespreking en 'n toepassing of interpretasie van kennis. Dit alles natuurlik sonder om weg te doen met self-leer en individueel worstel met leermateriaal.

Te midde van dit alles bly die US daartoe verbind om studente in staat te stel om sukses te behaal – ook via taalsteun. Omdat die US gekies het vir 'n meertalige konteks – omdat ons glo dit is die beter opsie gegewe ons konteks en hoe ons ons rol in die groter samelewing verstaan – word omvattende taalsteun vereis en gebied.

Rol van die US Taalsentrum

Benewens die taalkursusse wat taaldepartemente aanbied, speel die US Taalsentrum 'n deurslaggewende rol wat taalsteun betref. 

Studente kan onder meer by die Skryflaboratorium aanklop vir ondersteuning met die konseptualisering- en skryfproses van akademiese werkstukke. Tydens die nagenoeg 3000 skryfkonsultasies per jaar, kry studente individuele aandag, daar is interaksie in 'n veilige ruimte en hulle leer hoe om onafhanklik en teen hulle eie tempo te werk. Senior studente en personeel kan ook bystand kry met die skryfproses vir navorsingsvoorstelle, tesisse en artikels vir vaktydskrifte.

Die Leeslaboratorium ondersteun studente om doeltreffender en meer strategies te kan lees. Deur saam met portuurgroepe te leer, kry studente ook ondersteuning met ander aspekte, soos om akademiese verpligtinge nie uit te stel nie en in hulle eie vermoëns te glo.

'n Meertalige aanlyn portaal met sowat 8 000 terme is beskikbaar waar vakterminologie en woordelyste van verskeie dissiplines in Afrikaans, Engels en Xhosa nageslaan kan word. Verskeie elektroniese hulpbronne is beskikbaar om vertalings te vergemaklik of studente te help met die betekenis van bepaalde akademiese begrippe.

Pasgemaakte modules in akademiese geletterdhede gerig op bepaalde dissiplines word ook in die Fakulteite Regsgeleerdheid, Teologie, Natuurwetenskappe, en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aangebied. Daarby word pasgemaakte modules in professionele kommunikasie ook in die Fakulteite Ingenieurswese asook Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied. Al hierdie modules word met die samewerking van die betrokke akademici in die onderskeie fakulteite ontwikkel.

Die Taalsentrum vertaal ook podsendings van lesings en video's van dosente na Afrikaans, Engels of Xhosa, na gelang van behoefte en die taal wat vir die betrokke onderrig-en-leersituasie gebruik word. Hierdie oudiovertalings word met die samewerking van die betrokke dosente gedoen. Dowe studente ontvang ook ondersteuning deur middel van Suid-Afrikaanse Gebaretaaltolking. Dosente kan ook skyfies, klasnotas en eksamenvraestelle deur die Taalsentrum laat vertaal.

Verder word verskeie gesprekstaalkursusse in Afrikaans, Engels en Xhosa vir individue en groepe aangebied om studente se taalvaardighede uit te brei en hulle te ondersteun om die vrymoedigheid te hê om meertalig te kommunikeer. Die doel daarvan is om studente se taalbevoegdheid sodanig te bevorder dat dit 'n positiewe impak het op hulle akademiese prestasie en wisselwerking met ander.  So kan studente se selfbeeld en -vertroue verbeter word omdat hulle gemakliker kan kommunikeer.

'Toep' vir akademiese geletterdheid

Daar is ook innoverende nuwe geleenthede wat leer en onderrig verder kan verryk. So het die Fakulteit Opvoedkunde 'n gratis selfoontoepassing genaamd Mobilex ontwikkel in 'n poging om die akademiese geletterdheid van voorgraadse studente te verbeter deur vakwoordeskat in 'n student se huistaal te verduidelik. Studente kan terme wat hulle moeilik vind om te verstaan, of wat vreemd is, in Afrikaans, Engels of Xhosa naslaan.

Die glossarium bied 'n kort, vakspesifieke definisie in die gebruiker se voorkeurtaal. Terme is tans in opvoedkundigverwante vakke soos geskiedenis, wiskunde, natuurwetenskap, geografie, ekonomiese en bestuurswetenskappe, opvoedkundige sielkunde, taalopvoeding en kurrikulumstudie beskikbaar.

Emosionele ondersteuning vir Maties

Met voldoende taal en akademiese steun is baie studente goed onderweg op die sukses-pad, maar studente hier en elders studeer ook onder groot emosionele druk.

Die US se unieke mentorstelsel wat deur die Afdeling Studentesake bestuur word, is een van die maniere hoe studente ondersteun word.  Mentors is opgeleide senior studente wat in koshuise en privaat studente-organisasies (PSO's – waarin studente in private behuising georganiseer word) aangestel word om nuwelingstudente by die universiteitslewe te help aanpas.

Die mentors speel reeds tydens die verwelkomingsperiode aan die begin van die akademiese jaar 'n belangrike rol wat betref aanpassing by die universiteitslewe en psigososiale ondersteuning.

Portuurgroep-ondersteuning kom onder meer in die vorm van die Akademiese Belangeraad (ABR). Hierdie studenteliggaam se primêre verantwoordelikheid is om studente se akademiese belange en ontwikkeling te verteenwoordig en te beskerm. Dit kan insluit akademiese uitdagings wat met die Taalbeleid en die toepassing daarvan in die klas verband hou, roosterbotsings, plagiaatkwessies en probleme met dosente, mentors of tutors. Die ABR hou die US goed op sy tone en geniet verteenwoordiging in die Institusionele Forum, een van die US se statutêre liggame.

Die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling (SSVO) ondersteun studente deur hulp te verleen met studiemetodes, loopbaanvoorligting, die hantering van toets- en eksamenstres en die optimalisering van hul potensiaal deur middel van individuele konsultasies, werksessies en selfhelpmateriaal. Die span bestaan uit opvoedkundige sielkundiges, 'n psigometris, 'n geregistreerde berader, 'n maatskaplike werker en intern-sielkundiges.

Die Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste bied terapie vir verskeie probleme wat studente mag ervaar, waaronder depressie, spanning, aanpassingsprobleme, middelmisbruik en verhoudings- of gesinsprobleme. 'n 24-uur-nooddiens is ook vir studente beskikbaar.

Die US meen bogenoemde ondersteuningsmeganismes dra by tot die studentesukses  en bied aan Maties 'n ryk leerervaring wat hulle beter voorberei vir 'n diverse en uitdagende werksomgewing.

Terugvoermeganismes

Ondanks die ondersteuning wat ons studente reeds op verskeie vlakke geniet – en ons het nie eers geraak aan finansiële steun nie – weet ons as universiteitsgemeenskap dat ons nog meer kan doen.

Kernbelangrik hieraan is die terugvoering wat ons ontvang en waarmee ons erns maak. Ons nooi alle studente uit om betrokke te raak, die ondersteuningsdienste te benut en met hulle dosente, die ABR en koshuis- en privaatwykstrukture in kontak te bly.

Die US het ook 'n onafhanklike ombudspersoon wat aandag gee aan probleme en klagtes van studente, ouers of personeel as dit nie via universiteitstrukture bevredigend opgelos kan word nie of indien bestaande strukture dalk as ontoereikend ervaar word.

* Dr Leslie van Rooi is die Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie en taalwoordvoerder aan die US.