Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Laat klimaatsverandering visse na kouer waters migreer?
Outeur: Faculty of Science (Wiida Fourie-Basson)
Gepubliseer: 02/11/2021

Is kommersieel belangrike visspesies besig om by die warmer water van ons oseane aan te pas of migreer hul na koeler areas wat dus beteken dat hul plaaslik uitsterf?

Die antwoord op hierdie belangrike vraag kan 'n massiewe impak hê op die volhoubaarheid van die plaaslike en streeksvisindustrie, voedselsekuriteit en sosio-ekonomiese stabiliteit, veral in gebiede wat besonder kwesbaar is vir klimaatsverandering. Kwesbare gebiede in die Oos-Atlantiese oseaan sluit die Benguela-streek, die Noordsee en die Iberiese kus in.  

Dit is waarom 'n internasionale span wetenskaplike van Suid-Afrika, Portugal, Denemarke en Duitsland met belanghebbendes in hul onderskeie streke saamgespan het om uiteindelik klimaatbestendige bio-ekonomiese modelle te ontwikkel wat antwoorde kan bied rakende die volhoubaarheid van kommersieel belangrike mariene hulpbronne. Die projek getiteld “GenClim – Biodiversity on the run: evolutionary and socio-economic consequences of shifting distribution ranges in commercially exploited marine fishes", word gefinansier onder die vaandel van BiodivERsA – 'n netwerk wat navorsing oor biodiversiteit, ekosisteemdienste en natuurlike oplossings regoor Europa fiansier. In Suid-Afrika word die navorsing deur die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) befonds.

Navorsers voer aan dat seevisse op 'n globale skaal hul verspreidingsgebiede poolwaarts, of na dieper waters verskuif ten einde van voortdurende klimaatsverandering en warmer oseane te ontsnap. Dit word geraam dat visse se verspreidingsgebiede teen 'n tempo van 31km per dekade poolwaarts skuif. Vissepesies wat nader aan die seebodem hou se verspreidingsgebied skuif ook dieper, bodemwaarts, teen 'n tempo van 3,3m per dekade.

Dr Romina Henriques, 'n evolusionêre bioloog van die Universiteit van Pretoria en koördineerder van die GenGlim-projek, sê daar is ook bewyse van 'n afname in liggaamsgrootte by sommige kommersieel belangrike visspesies wat aan die gekombineerde effek van klimaatsverandering en oorbevissing toegeskryf kan word.

Prof Sophie von den Heyden, 'n evolusionêre bioloog wat sterk fokus op mariene bewaring in die US se Departement Plant- en Dierkunde, sê die Suid-Afrikaanse scenario is baie kompleks. Sy is die hoofnavorser van die projek.

“Die Weskus word kouer en die Ooskus word warmer. Dit beteken sekere visse van die wes- en suidwes kus hul verspreidingsgebied verder oos verskuif. Daar moet ook onthou word dat Suid-Afrika se kuslyn van wes na oos strek, eerder as van noord na suid soos in die noordelike halfrond. Oor die algemeen weet ons baie min van hoe Suid-Afrikaanse visspesies se response op klimaatsveranderin, derhalwe die belang van hierdie projek.

Die projek fokus ook op die Noord-Atlantiese oseaan, waar spesies van die suidelike Atlantiese oseaan noordwaarts beweeg en tot 'n mate plaaslike spesies verplaas en so bydra tot 'n nuwe bevolkingsamestelling van vis spesies in 'n area.

Klimaatsverandering het ook 'n impak op bevolkingsverbindings, aangesien die visse wat wél stelselmatig wegtrek, geneties sal moet aanpas by die nuwe omgewing, terwyl die visse wat agterbly, by die veranderende plááslike omtandighede moet aanpas. Die aanpassingspotensiaal van spesies sal derhalwe ook 'n invloed hê op hulle verspreidingspatrone en getalle.

Prof Von der Heyden verduidelik: “In natuurlike sisteme beweeg individue vrylik tussen verskillende areas en bevolkings. Hierdie meganisme verseker die vloei van genetiese materiaal, en sodoende bevolkingsverbinding. Sekere bevolkings ontwikkel egter 'n spesiale aanpassing in reaksie op hul omgewing. Met klimaatsverandering het dit baie moeilik geword om die voorspel waar spesies hulself in die toekoms gaan bevind, en hoe hulle op hierdie nuwe omgewings gaan reageer."

Bogenoemde skuiwe in die vis se verspreidingsgebiede sal uiteindelik ook 'n effek hê op die ekonomie en voedelsekerheid van gemeenskappe wat afhanklik is van seevisserybedrywighede, waarsku dr Henriques.

“Die vermoë om hierdie verspreidingsverskuiwings te kan voorspel en dan in ag te neem in visserybestuur, is dus noodsaaklik ten einde potensiële konflik te kan antisipeer en te temper. Sodoende kan mense se lewensbestaan verseker word, internasionale verpligtinge nagekom word en die mariene biodiversiteit ook uiteindelik bewaar word," sê sy.

Prof Von der Heyden sê een van die hoof doelwitte van die projek is om regerings en die industrie te help om hierdie visserye veerkragtig te maak teen die gevolge van klimaatsverandering en oorbevissing. Sodoende kan die volhoubaarheid van visserye en die gepaardgaande voordele wat dit inhou, op die lang termyn verseker word.  

“Die projek fokus op die betrokkenheid van belanghebbendes in die akademie, regering en industrie - vanaf die aanvanklike projekbeplanning tot by die voltooiing daarvan. Sodoende kan ons verseker dat die wetenskap die vrae van al die verskillende belanghebbendes behoorlik hanteer, sodat oplossings onmiddellik by beleidsmakers en besluitnemers kan uitkom," sê sy.

Die eerste werksessie vir belanghebbendes het op 30 September aanlyn plaasgevind.

Die GenClim-projek bring voorpuntgenomika, voorspellingsmodellering en sosio-ekonomiese modellering byeen om die veelvuldige gevolge van verspreidingskuiwe van die bodemstokvis (Merluccius merluccius and M. paradoxus) en pelagiese ansjovis (Engraulis encrasicolus) te ontrafel.

Die belangrikste vennote is die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch (US) in Suid-Afrika, die Sentrum vir Oseaan en Gemeenskap by die Universiteit van Kiel in Duitsland, die Sentrum vir Mariene Wetenskappe, en die Universiteitsinstituut vir Sielkundige, Sosiale en Lewenswetenskappe, beide in Portugal, en die Nasionale Instituut vir Waterbronne by die Tegniese Universiteit van Denemarke.

​ Foto bo: 'n Skool pelagiese ansjovis. Foto: Alessandro Duci, Wikimedia commons