Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit van Stellenbosch brou steeds uitmuntende bier
Outeur: Food Science Brewing team
Gepubliseer: 26/10/2021

Die Universiteit van Stellenbosch (US) se brouspan het weer hul beste voet voorgesit by die veertiende agtereenvolgende Intervarsity Brewing and Tasting kompetisie wat deur die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) geborg word, en deel vorm van die ABInBev- familie. Die geleentheid is weereens in Bloemfontein aangebied deur die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) en CAFaB, in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat. Verdere borgskappe is ook moontlik gemaak deur die Biervereniging van Suid-Afrika, wat die groter bierbrougemeenskap verteenwoordig te same met FoodBev SETA. Hierdie is die enigste geleentheid van sy soort wêreldwyd en die belangstelling neem jaarliks toe met 'n moontlikheid van selfs meer inskrywings vir 2022.

Die geleentheid is vanjaar op ʼn hibriede wyse aangebied, wat beide aanlyn en in persoon bywoning moontlik gemaak het ten einde Covid-19 regulasies te akkommodeer. Dit het oor twee dae, 22-24 Oktober gestrek, met Linda Jackson van Foodriskforum as aanbieder.

Vier spanlede (Jana van Rooyen, Marbi Schwartz, Dewald Botha en Sebastian Orth) het na Bloemfontein gereis om US by die geleentheid te verteenwoordig.

Die res van die span nl, Dr Stefan Hayward, Dr Timo Tait, Anishka Eksteen, Nadia Degenaar en Kyle Corbett kon slegs aanlyn deel in die aksie. (Foto 1)

Met elf Suid-Afrikaanse Universiteite wat deelgeneem het aan die kompetisie met ʼn totaal van 50 verskillende biere wat ingeskryf was, kon selfs die aanlyn verteenwoordigers die sterk mededinging aanvoel.

Vanjaar is die aantal lede van die brouspan uitgebrei tot nege om die broukapasiteit te verhoog. Daar is ʼn streng brou- en proeskedule gehandhaaf, wat uiteindelik kon lei tot optimale brougehalte. Die nuwe span is baie meer divers as voorheen en sluit ook vier vroulike spanlede in, nl Jana van Rooyen, Anishka Eksteen, Marbi Schwartz en Nadia Degenaar.

Universiteite is uitgedaag om te brou volgens vyf kategorieë en ook om ʼn gepaste etiket, wat aan alle wetlike aspekte voldoen, te ontwerp. Die ingeskrewe biere is sensories geëvalueer deur ʼn span deskundiges op grond van die Bierbeoordelaars sertifiseringstandaarde se kriteria.

Die kategorieë vanjaar was vir die brou van ʼn Lager, Indiese Pale Ale, Sour beer, African Wild Ale (met bestanddele slegs in Afrika verbou) en 'n Summer beer met lae alkoholinhoud. Hierdie unieke opdrag het verseker dat daar beslis langs die pad heelwat mislukkings was, asook interessante toepassings van wetenskaplike beginsels om uiteindelik die perfekte glas bier te brou.

Die US span het uiteindelik met die louere weggestap in die Lager afdeling wat geborg is deur Castle Lager en het ook die FoodBev SETA prys vir die beste etiketontwerp ingepalm. (Foto 2).

Ons span is tweede geplaas in die African Wild Ale afdeling en derde in die Indian Pale Ale afdeling.

Die kontantprys van R20 000 sal die span in staat stel om hul goeie werk voort te sit by die Departement van Voedselwetenskap, US, waar die brouery gehuisves word.

Baie geluk aan die Universiteit van Stellenbosch brouspan.

Ons hou jul toekoms met belangstelling dop. (Inhoud en foto's deur die Brouspan verskaf)

 Hele span (003).jpg

Foto 1: Die brouspan: Dr Stefan Hayward, Kyle Corbett, Dewald Botha, Anishka Eksteen, Jana van Rooyen, Marbi Schwartz, Dr Timo Tait en Sebastian Orth.

 

Label.jpg 

Foto 2: Die wen etiket, ontwerp deur die Voedselwetenskapspan