Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademiese sukses gevier
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 25/10/2021

​Zainab Khafif, 'n student aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, se vasberadenheid om haar studies suksesvol te voltooi, is met 'n 2021 Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie beloon. 

Khafif, een van die talle ontvangers van hierdie jaarlikse toekenning, is by 'n onlangse seremonie op Stellenbosch in die afdeling vir akademie vereer. Die toekennings gee erkenning aan en vier die prestasie van studente op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing. 

Khafif, wat in 2018 vir 'n BA-graad in Taal en Kultuur met Sielkunde en Algemene Taalwetenskap as hoofvakke en Gebaretaalwetenskap as byvak by die US ingeskryf het, het die volgende oor die toekenning te sê: “Om eerlik te wees, ek het baie hard gewerk en dit is 'n bevredigende gevoel om deur die Universiteit erken te word vir my harde werk. Dit staaf my hele voorgraadse ervaring, selfs nog meer as wat my graadsertifikaat self doen." 

Sy skryf haar 100%-slaagsyfer in haar studies toe aan 'n “skrikaanjaende vrees vir mislukking". 

Khafif, wat tans met haar honneursgraad in Algemene Taalwetenskap besig is, erken egter dat haar vrees vir mislukking bietjie afgeneem het en stadigaan in 'n soeke na tevredenheid verander het. 

“Vrees is nou vir my om nie die tyd tot my beskikking ten volle te benut nie. As my beste onder 75%, of 65%, of 55%, gekwantifiseer word, dan is dit ook maar so. Somtyds is ander dinge in die lewe belangriker as om te studeer. Ek wens ek het dit vroeër besef." 

Hierdie nuutgevonde ontspanne lewensbenadering kom ook na vore in haar loopbaanplanne vir die toekoms wat sy hoop om te volg nadat sy aan die einde van die jaar gegradueer het. 

“Ek beplan om aanstaande jaar in Suid-Korea te gaan Engels gee. Ek dink ek gaan dit vir 'n hele paar jare in verskillende lande doen. Ek heg groot waarde daaraan om te kan reis en verskillende kulture te kan ervaar. Een dag sal ek graag 'n koffiewinkel wil oopmaak. Miskien sal ek later in my lewe weer verder studeer. Of miskien nie. Wie weet? Die belangrike ding is om tevrede te wees met die lewe." 

Die Kaapstad-gebore student wat nou Hermanus as haar tuisdorp beskou nadat sy in haar hoërskooljare saam met haar gesin daarheen verhuis het, sê om in 'n kleindorpse omgewing groot te word, het 'n groot invloed op haar persoonlike groei en waardes gehad. 

“My gesin is allermins gegoed. Ek het dus al in graad 9 deeltyds by 'n koffiewinkel begin werk en het elke naweek en vakansie gewerk. Ek dink dit was 'n ongelooflike belangrike les vir my om reeds so vroeg in my lewe gedwing te word om die waarde van geld waarvoor ek self hard gewerk het, te besef. Dit het my nie net meer bewus (altyd 'n pluspunt vir 'n student) gemaak van geld nie, maar het my ook die werklike waarde van harde werk en my tyd geleer. Ek skat 'n bietjie daarvan het na my studies toe oorgespoel. Om as 'n volwassene wat amper heeltemal onafhanklik was, na Stellenbosch te verhuis, was ook 'n groot keerpunt in my lewe. Ek voel dikwels my omstandighede het my baie gouer volwasse gemaak as wat dalk nodig was, maar ek is wie ek is," verklaar sy trots. 

Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers. 

* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.  Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.