Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskap- en geneeskunde-studente loop met louere weg in US se FameLab-uitdun
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 20/10/2021

Tarryn Surajpal, 'n meestersgraadstudent in Toegepaste Wiskunde by die Universiteit Stellenbosch (US), het as wenner uit die stryd getree by die US-uitdun van die 2022-siklus* van die nasionale FameLab-wetenskapkommunikasie- en redenaarskunskompetisie.

Die virtuele geleentheid is Woensdag, 13 Oktober 2021, gehou. Tanya van Aswegen, 'n PhD-student in Psigiatrie, en Jamila Janna, 'n meesterstudent in Dierkunde, was onderskeidelik tweede en derde. FameLab word as een van die grootste wetenskapkommunikasiekompetisies ter wêreld beskou en skep 'n platform vir jong, ontluikende wetenskaplikes om openbare gehore oor hul werk toe te spreek.

Surajpal, Van Aswegen en Janna was deel van die groep van 16 meesters- en doktorale studente wat slegs drie minute gehad het om hul navorsing met die gehoor te deel. Surajpal sal as wenner van die US-uitdun aanstaande jaar by die eindrondte teen die wenners van die rondtes by ander Suid-Afrikaanse universiteite meeding.

Die US FameLab-rondte is gereël deur Jive Media Africa en die Nagraadse Kantoor, wat deel uitmaak van Afdeling Navorsingsontwikkeling. Die beoordelaars was prof Nox Makunga (Departement Plantkunde), dr Palesa Mothapo (Afdeling Navorsingsontwikkeling) en me Lili Rademan (Sentrum vir Navorsing oor Wetenskap, Evaluasie en Tegnologie).

Surajpal het die US-uitdun gewen vir haar praatjie oor die gebruik van verskeie modelle om die eienskappe van die afvalwater van ontsoutingsaanlegte te voorspel, veral ten opsigte van hoe dit in die oseaan meng en versprei wanneer dit vrygestel word. Haar navorsing kan help om die nadelige uitwerking op die omgewing te voorkom.

Surajpal het in reaksie op haar oorwinning gesê sy is dankbaar vir die wenke vir doeltreffende wetenskapkommunikasie wat sy tydens die FameLab-kompetisie gekry het.

“Die wetenskaplike kommunikasievaardighede wat ons in die FameLab-opleiding en -kompetisie ontwikkel het, help ons as navorsers om ons werk op 'n doeltreffende en omvattende manier aan die algemene publiek te verduidelik. Wanneer wetenskaplikes hul werk op 'n deelnemende en verstaanbare wyse met die publiek deel, ontwikkel dit maniere om die verspreiding van verkeerde inligting teen te werk en om samewerking met mense op ander gebiede te bevorder, wat tot vooruitgang en innovasie bydra."

Van Aswegen het in haar aanbieding oor die gehegtheidsverhouding tussen 'n ma en kind binne die konteks van geestesgesondheid gepraat. Hierdie navorsing is belangrik omdat dit die klem plaas op die behoefte aan kruiskulturele navorsing oor teorieë wat met geestesgesondheid en kinderontwikkeling verband hou.

Van Aswegen het gesê dit was wonderlik om aan die FameLab-uitdun deel te neem, want dit het haar “die vermoë gegee het om vernuwend oor vaktaal te dink en om my gesin en vriende saam met my op hierdie reis te neem".

“Die FameLab-kompetisie het vir ons 'n ander en nuwe platform gebied om deel te voel van 'n groter wetenskapgemeenskap – nie net om ons passie vir die wetenskap te deel nie, maar dit het ons ook weer aan die praat gekry. Ek sal elke navorser aanmoedig om aan die opleiding vir wetenskapkommunikasie deel te neem, want op die ou einde wil ons tog kampvegters vir en opvoeders in die wetenskap wees."

Janna het in haar aanbieding op die gebruik van omgewings-DNS (e-DNS) as 'n goedkoper, minder afbrekende en minder partydige en beperkende instrument gefokus om visdiversiteit met klimaatsverandering, oormatige uitbuiting van natuurlike hulpbronne, en besoedeling voor oë te ondersoek. Haar navorsing het ook ten doel om Suid-Afrika se wortelboomwoude te beskerm as belangrike kus-ekostelsels vir jong visse wat deel kan uitmaak van die kleinskaalse lyn- en kommersiële visserye.

Janna het die belangrikheid van 'n kompetisie soos FameLab beklemtoon.“Wetenskaplikes moet opgelei word om navorsing in eenvoudige taal te kommunikeer sodat belangrike wetenskaplike inligting aan die algemene publiek oorgedra kan word, veral wanneer die wetenskap van toepassing is op 'n groot deel van die bevolking," het sy gesê.

Een van die US se institusionele finaliste vir FameLab se 2021-siklus, PhD-student Kaylan Reddy (Departement Plant- en Dierkunde), ding vandag (20 Oktober) om die nasionale titel mee.

Die wenner van die Suid-Afrikaanse eindstryd sal die land by die internasionale FameLab-kompetisie in die Verenigde Koninkryk verteenwoordig.

*Weens die pandemie het die normale ritme van die FameLab-siklus met 'n paar maande aangeskuif. Voorheen is die internasionale FameLab-kompetisie in Junie gehou, maar vir die 2019- en 2020-siklusse is die internasionale kompetisie eers heelwat later in November gehou. Die 2021 internasionale FameLab-kompetisie word ook in November gehou. Aangesien die FameLab-siklus normaalweg al in die vorige jaar begin en oorloop in die volgende jaar, is daar 'n oorvleueling met die 2021- en 2022-siklusse.

  • Foto: Tarryn Surajpal, Tanya van Aswegen en Jamila Janna.