Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontvanger van Rektorstoekenning beplan om aan te hou lei volgende jaar
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 18/10/2021

​Wanneer mediese student Jessica Davies aanstaande jaar haar rol as voorsitter van Tygerberg se Akademiese Bestuursraad en as klasverteenwoordiger vir haar medestudente in hul vyfde jaar in die MBChB-kursus hervat, sal sy verseker dat die veranderinge wat sy die afgelope jaar in dieselfde rolle help bewerkstellig het, steeds van krag bly.

“Ek het ter wille van kontinuïteit weer vir albei ampte aansoek gedoen," het die boorling van Kaapstad in 'n onderhoud gesê.

Davies is een vanjaar se ontvangers van die jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie wat die prestasies van studente op die gebiede van akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en dienslewering vier. Sy het die toekenning in die leierskapskategorie ontvang.

Davies sal ook in die komende jaar as voorsitter van die Universiteit Stellenbosch Chirurgiese Vereniging en as die administratiewe beampte van die Internasionale Genootskap van Studente-chirurgieverenigings dien.

Davies, wat tot dusver 'n aktiewe lid van die Tygerberg-kampus was, insluitende om by die samestelling van die Tygerberg Akademiese Bestuursraad se grondwet betrokke te wees en te help met die opstel en inwerkingstelling van die Raad se ko-kurrikulum, was ook 'n vrywilliger by die Sisonke-proefneming se Tygerberg-hospitaal Inentingsentrum.  

Sy het ook aan die Quintin Robot-innovasieprojek by die Tygerberg-hospitaal deelgeneem. “Quintin" is 'n afstandbeheerde tele-teenwoordigheidsrobot wat onder meer gehelp het om pasiënte in die Tygerberg-hospitaal se COVID-19-waakeenheid in virtuele aanraking met hul gesinne te bring.

Davies het saam met haar medestudent, Azhar Adam Nadkar, aan die John Hopkins Skool vir Openbare Gesondheid se Innovate4Health-wêreldwye probleemoplossingsgeleentheid vir studente deel geneem – 'n inisiatief wat ten doel het om “innoveerders vir die toekoms te inspireer om die dringende uitdagings en gesondheidsongelykhede van ontluikende infeksies aan te pak". Hulle is uit verskeie internasionale aansoekers gekies om Quintin se rol uit te brei.  

Rakende haar rol op die Tygerberg Akademiese Bestuursraad, het Davies gesê: “Vóór 2020 het die komitee self nie regtig 'n funksie gehad nie. Klasverteenwoordigers moes maar op eie stoom hul weg vind. Toe ek verlede jaar in hierdie rol begin het, was my grootste doelwit om die manier waarop die komitee werk en die ondersteuning wat dit aan klasverteenwoordigers bied, te verfyn en om te verseker dat dit sy funksies uitvoer. Baie van die veranderinge waaraan ons gewerk het, was daarop gemik om ons te help om ons nis en stem te vind. Ons wou inkom en dinge bietjie deurmekaar krap en die norms uitdaag. Ons het 'n paar uitdagings ondervind, maar dit was wonderlik om die groei te sien."

In antwoord op die vraag oor wat haar aanspoor in haar werk en studies, het Davis, wat hoop om as chirurg te spesialiseer, die volgende gesê: “Ek geniet dit om nuwe dinge te leer en om voortdurend my leierskap-, akademiese en interpersoonlike vaardighede uit te daag."

Haar inspirasie was prof Julia Blitz, Visedekaan vir Leer en Onderrig by die US se Fakulteit Geneeskunde en Mediese Wetenskappe wat in April 2021 afgetree het. “Sy het ons deur die COVID-19-pandemie in 2020 gedra. Ek het baie groot respek vir haar vermoë om ons hele kampus op koers te hou en hoe sy ons gehelp het om ons pad deur die uitdagings wat die pandemie ingehou het, te vind. Sy het altyd kopgehou en was die redelike stem in elke situasie. Ek kon altyd op haar staatmaak vir insig en hulp. Sy het 'n reuserol gespeel om my die leier te maak wat ek vandag is."

Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers. 

* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.  Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.