Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Ongelooflike werksetiek, vaardigheid en toegewydheid' met Rektorstoekenning beloon
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 18/10/2021

​Dit was terwyl hy een aand as 'n 17-jarige hoëskoolleerder van Kaapstad 'n dokter aan diens in 'n hospitaal gevolg en dopgehou het, dat Abdul-Mutakbir Aziz, nou 'n vyfdejaar-mediese student aan die Universiteit Stellenbosch (US), besluit het om medies te gaan studeer.

“Ek het saamgegaan toe die dokter daardie nag vir 'n noodgeval geroep is. Hy moes 'n noodkeisersnit uitvoer en daar was komplikasies. Die dokter – met my al agter hom aan – het die hele nag wakker gebly om die sukkelende baba by te bring. Ek het daar besluit ek wou hierdie beroep beoefen en 'n verskil maak – om vir mense te veg wanneer hulle nie in staat is om vir hulself te veg nie," het Aziz, wat in Rondebos-Oos grootgeword het, in 'n onderhoud gesê.

Aziz is een van die ontvangers van vanjaar US Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie. Die toekennings erken en vier studente se prestasies op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing. Aziz is in laasgenoemde kategorie vereer. 

Aziz, wat 'n lid van die Tygerberg-studenteraad vir 2020/2021 was, was ook voorsitter van die Tygerbergse Akademiese Bestuursraad (2019–2020). Hy was vir drie agtereenvolgende jare onderskeidelik 'n klasverteenwoordiger en onderklasverteenwoordiger.​

Aziz se leierskapsvaardighede en toewyding aan menslikheid het reeds in die vroeë stadium van die COVID-19-pandemie na vore gekom. Toe die US 'n vervroegde reses aangekondig het in reaksie op die regering se voorskrifte rondom die pandemie, het hy aan die werk gespring as 'n natuurlike koördineerder van honderde studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) wat gekies het om hul reses prys te gee ten einde te doen wat nodig was om met die pandemie te help.

Aziz het studente in besprekings met die hoofde van die FGGW en die Tygerberg-hospitaal verteenwoordig. Dit was die begin van 'n historiese samewerkingspoging met 600 studente wat as vrywilligers by die Tygerberg- en Victoria-hospitaal en in die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid in omtrent elke omgewing gewerk het om COVID-19 te help beveg – van nasporing van kontakte tot die bestuur van die noodlyn, inligtingsbewustheid en maskerproduksie tot inentings.

Die onbaatsugtige, goedgeorganiseerde bydraes van die studente het in 'n hele aantal publikasies in onder meer nuusartikels en onderhoude verskyn en Aziz is vir sy leierskap in hierdie rol geloof. 

“Toe COVID-19 sy opwagting gemaak het, het ek 'n geleentheid as student gesien om 'n verskil te maak, aangesien die gesondheidsdienste oorweldig was. Ek wou daardie dokter wees wat ek gesien het toe ek 17 was," het Aziz gesê en bygevoeg dat hy “geëerd en oorweldig" voel om 'n Rektorstoekenning te ontvang. Hy wil aanstaande jaar sy finalejaar as mediese student voltooi, waarna hy beplan om in noodgeneeskunde te spesialiseer, “want ek het die geleentheid om mense in 'n akute sorg-omgewing te help."

Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers. ​

* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.  Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.