Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bekendstelling van ʼn nuwe e-boek oor die ontwikkeling as digitale leerder
Outeur: Germaine Tahor
Gepubliseer: 15/10/2021

ʼn Nuwe oop toegang boek, geskryf deur prof Wim van Petegem, dr JP Bosman, Miné de Klerk en dr Sonja Strydom, neem die ontwikkeling as digitale leerder onder die loep. Hierdie nuwe e-boek verduidelik hoe akademici die hedendaagse en toekomstige digitale wêreld met gemak kan navigeer. Drie sleutelterreine van digitale aanpasbaarheid word, onder meer, op die voorgrond geplaas. Dit behels die betrokkenheid in navorsing; onderrigleer en diens aan die gemeenskap asook die mobilisering van digitale vaardighede op verskeie vlakke; en die vertolking van verskeie rolle – beide individueel en ook in skakeling met ander.

Oorsig

Nadat drie-dimensionele raamwerk vir ʼn digitale leerder verduidelik is, fokus die res van die hoofstukke op die verskillende rolle en vaardighede wat met die ontwikkeling as digitale leerder te make het. Dit sluit die outeur, wat hoogs gespesialiseerde tekste aan mede-kenners skryf, in; die storieverteller wat toeganklike narratiewe vir ʼn groter gehoor by wyse van blogs en potgooie aanmekaar weef; die skepper wat grafika, oudio en video gebruik om gehore te motiveer om dieper in die materiaal te delf. Daar is ook die integreerder wat multimedia artefakte versamel en deur verskillende kanale soos webblaaie, webinare en ooptoegangsinisiatiewe versprei. Laastens is daar ook die netwerker wat planmatig die interaksie tussen sosiale media toepassings en aanlyn leer gemeenskappe aktiveer. Die finale hoofstukke bied ʼn bloudruk aan die toekomstige digitale leerder wat aktief as professionele leerder en veranderingsagent streef na innovasie.

Beïnvloed deur die outeurs se wye en diverse persoonlike ervarings, bied Evolving as a Digital Scolar kritiese insigte, inspirasie en praktiese advies aan lesers. Dit rus ʼn breë gehoor toe met vaardighede en die ingesteldheid om nuwe digitale ontwikkelinge baas te raak en om sodoende die altyd-veranderende digitale era te navigeer. Hierdie boek sal akademiese opvoeders en navorsers uit verskeidenheid kontekste en verskillende vlakke van kennis inspireer om hul eie digitale akademiese profiel te verbeter.​​

Die e-boek is beskikbaar by https://library.oapen.org/handle/20.500.12657/50918